Reglemente

FEDSAS is die nasionale verteenwoordigende organisasie vir beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole

Reglemente vir Menslike Hulpbronne en Vergoedingskomitee

1.  Samestelling

Die Vergoedingskomitee (die Komitee) sal ‘n amptelike komitee van die Nasionale Raad wees en sal bestaan uit:

Vier lede waarvan:

  • Een lid ‘n verteenwoordiger van die Nasionale Raad wat as voorsitter sal optree;
  • Die HUB en
  • Twee ander nie-uitvoerende lede aangewys deur die Nasionale Raad, sal wees.

Die voorsitter en ondervoorsitter van die Nasionale Raad sal te alle tye geregtig wees om sitting op die Komitee te neem.

2.  Sekretariaat 

Sekretariële dienste vir die Komitee sal deur die Nasionale Kantoor voorsien word.

3.  Verwysingsraamwerk en delegasies

Die werksaamhede van die Komitee sal die volgende wees:

Om aanbevelings aan die Nasionale Raad te doen oor die vergoeding van die HUB;

Om aanbevelings aan die Nasionale Raad te doen oor die vergoeding van ampsdraers;

Om alle menslikehulpbronbeleide op te stel en aan die Nasionale Raad voor te lê vir goedkeuring;

Om aanbevelings aan die Nasionale Raad te doen oor salarisskale, salarisaanpassings en diensvoorwaardes van personeel en om toesig te hou oor implementering daarvan;

Om aanstelling van personeel goed te keur;

Om aanbevelings oor opvolgbeplanning van lede van die Nasionale Raad te doen;  

Om verslag te doen aan die Nasionale Raad oor prestasiebestuur van provinsiale bestuurders;

Om alle ander werksaamhede te verrig wat van tyd tot tyd deur die Nasionale Raad aan die Komitee opgedra mag word.

4.  Vergaderings

4.1 Vergaderings van die Komitee sal deur die Voorsitter belê word.

4.2 Die Komitee vergader soos benodig maar minstens eenmaal per jaar.

4.3 Kennisgewing van vergaderings waarin die datum, tyd en plek van die vergadering vermeld word tesame met agendapunte sal, buiten onder uitsonderlike en dringende omstandighede, minstens vier (4) dae voor die vergadering aan al die lede van die Komitee voorsien word.

4.4 ‘n Kworum vir vergaderings van die Komitee sal enige twee nie-uitvoerende lede van die Komitee wees.

5.  Prosedure

5.1 Die prosedure vir verrigtinge van die Komitee sal deur die Komitee self bepaal word maar sal andersins in ooreenstemmng met die Grondwet van FEDSAS en gewone vergaderingprosedure wees.

 5.2 Die sekretaris van die Komitee sal notule hou van die verrigtinge van die Komitee. Enige lid van die Nasionale Raad is met toestemming van die voorsitter van die Komitee geregtig op ‘n afskrif van die notule van die verrigitnge van die Komitee.

 5.3 Alle notules van die Komitee sal aan die Nasionale Raad voorgelê word.

6.  Algemeen

6.1 Die Komitee sal geregtig wees om, in die uitvoering van sy werksaamhede kragtens hierdie reglement, gebruik te maak van sodanige professionele of ander advies van buite as wat die Komitee oordeel nodig mag wees.

6.2 Die Nasionale Raad sal toesien dat die Komitee toegang het tot professionele advies van binne en buite FEDSAS ten einde die Komitee in staat te stel om sy werksaamhede te verrig.

6.3 Hierdie reglement mag van tyd tot tyd na goeddunke deur die Nasionale Raad gewysig word.

;
Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid