Privaatheidsbeleid

< Terug

Privaatheidsbeleid


FEDSAS-privaatheidsbeleid 

FEDSAS erken die belang daarvan om persoonlike inligting te beskerm, en onderskryf die beginsels in die Wet op Elektroniese Kommunikasies en Transaksies 25 van 2002 sowel as die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting 4 van 2013 (“POPI”), wat elkeen se reg waarborg om sy/haar persoonlike inligting privaat te laat hou. Met hierdie beleid verbind FEDSAS hom daartoe om aan POPI te voldoen.

Hierdie beleid is van toepassing op die insameling, gebruik en openbaarmaking van die persoonlike inligting van webtuistebesoekers/gebruikers wanneer hulle toegang tot FEDSAS-dienste bekom, sowel as op alle produkte, dienste, webtuistes en toepassings wat FEDSAS bied.

FEDSAS omskryf persoonlike inligting as inhoud wat verband hou met ’n identifiseerbare, lewende, natuurlike persoon en, waar van toepassing, ’n identifiseerbare, bestaande regspersoon. Dít sluit in, dog strek ook verder as, identifiserende inligting soos:

  • name en vanne; 
  • e-posadresse; 
  • straatadresse;
  • selfoon- en ander foonnommers;
  • identiteitsnommers en/of geboortedatums;
  • persoonlike data wat aan FEDSAS verstrek of uit ’n aanlyn kwotasie bekom word; en
  • data wat uit e-posnavrae of van ’n persoonlike fasiliteit bekom word.

Indien u kies om FEDSAS van bykomende persoonlike inligting te voorsien, stem u in om akkurate en bygewerkte inligting te voorsien, en om u nie as enige persoon of entiteit voor te doen, sodanige persoon of entiteit verkeerd voor te stel, of u verwantskap met enigeen of enigiets valslik te verklaar of andersins verkeerd voor te stel nie.

FEDSAS samel persoonlike inligting van die volgende erkende bronne in:

  • U persoonlik 
  • Die dokumente wat ons aanvra en wat u voorsien
  • Inligting wat in die openbaar beskikbaar is, waaronder hof- en tribunaalverslae en -uitsprake

Na gelang van die omstandighede, kan ons kies om nié inligting van sommige of enige van hierdie bronne in te samel nie.

POPI magtig FEDSAS om u persoonlike inligting vir regmatige doeleindes in te samel. Om persoonlike inligting te bekom/in te samel/te verwerk, tree FEDSAS as die “verantwoordelike party” namens u op deur toegang tot inligting te versoek.

FEDSAS respekteer sy kliënte, diensverskaffers en lede se privaatheid en sal persoonlike inligting slegs gebruik waar dit in die gewone gang van sake vereis word om die produkte en dienste te lewer wat u versoek. Ons verwerk persoonlike inligting:

  • om met u te kommunikeer oor algemene dienste waarin ons dink u dalk sal belang stel;
  • om met u te kommunikeer oor FEDSAS-dienste of -produkte waarin ons dink u dalk sal belang stel; en
  • om u van bemarkingsmateriaal te voorsien wat FEDSAS-goedere of -dienste adverteer, tensy u ons spesifiek vra om dit nié te doen nie.

FEDSAS sal ook u persoonlike inligting gebruik om u identiteit te staaf wanneer u ons aanlyn kontak.

Deur op “Dien in/werk by” op ons webtuiste te klik wanneer u lidmaatskapinligting invul, of wanneer u ’n papierafskrif van ’n lidmaatskapaansoek indien, gaan u akkoord met die insameling en verwerking van u besonderhede vir die regmatige doeleindes hierbo. Waar u namens ’n derde party data indien, sal ons aanneem dat die derde party onomwonde ingestem het tot die voorsiening, verwerking en gebruik van sodanige inligting. 

Ons sal toesien dat al ons werknemers, derdepartydiensverskaffers en vennote (met inbegrip van hulle werknemers en derdepartydiensverskaffers) wat oor toegang tot u persoonlike inligting beskik, hulle aan toepaslike, regsbindende vertroulikheids- en niegebruiksooreenkomste onderwerp.

FEDSAS verkoop of voorsien nie persoonlike inligting aan derde partye vir onafhanklike gebruik nie, en sal ook nie in die toekoms nie. Nietemin kan ons persoonlike inligting aan ons bedryfsvennote bekend maak indien sodanige inligting vereis word om die produk of diens te lewer wat u versoek. Ons bedryfsvennote sal egter enige inligting slegs gebruik soos wat FEDSAS hulle versoek. Ons sorg dat u persoonlike inligting beskerm word deur slegs ooreenkomste aan te gaan met derde partye wat oor hulle eie beleide vir POPI-voldoening beskik. Voldoening aan POPI verseker dat die persoonlike inligting wat ons bekend maak slegs vir die spesifieke regmatige doel gebruik word wat ons namens u versoek.

Ons sal u toegang bied tot u persoonlike inligting om u besonderhede na te gaan en/of by te werk. Ons heg waarde aan die inligting wat u kies om aan ons te voorsien, en sal dus redelike stappe doen om dit teen verlies, misbruik, inmenging, ongemagtigde toegang, ongemagtigde bekendmaking of ongemagtigde wysiging te beskerm.

Inligting met betrekking tot webtuistegebruikers of lede word in databanke met ingeboude veiligheidsmaatreëls gehou om privaatheid en vertroulikheid te verseker. Waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, gebruik FEDSAS die jongste beskikbare tegnologie om enige ongemagtigde toegang tot u persoonlike inligting te voorkom wanneer u op ons webtuiste registreer of sake doen. Ons sal u dadelik in kennis stel indien daar redelike gronde is om te glo dat u persoonlike inligting in FEDSAS se besit deur enige ongemagtigde persoon besigtig of bekom is.

Wanneer u ons aanlyn dienste of fasiliteite gebruik, toegang tot u persoonlike inligting bekom óf aanlyn sake doen, vereis FEDSAS ’n gebruikernaam en wagwoord om u identiteit te staaf en u toegang tot ons beskermde omgewing te gee.
 Hou asseblief hierdie inligting geheim en moenie dit aan enige ongemagtigde persoon voorsien nie. Dit is ook raadsaam om u wagwoord maandeliks te verander, of onmiddellik ingeval u wagwoord op enige manier in gedrang kom.

Indien u so versoek, sal ons enige van en ál u persoonlike inligting in ons besit of onder ons beheer onverwyld aan u terugbesorg of vernietig. Ons sal nie u persoonlike inligting vir ’n langer tydperk hou as waarvoor ons dit aanvanklik nodig kry nie, tensy die wet anders voorskryf of u daartoe ingestem het dat ons sodanige inligting vir ’n langer tydperk hou.

Hoe om ’n klagte in te dien as ons versuim om aan POPI te voldoen 

U kan ’n klagte indien:

  • deur aan ons adjunk-inligtingsbeampte te skryf by lo@fedsas.org.za; en/of
  • by die Inligtingsreguleerder deur die voorgeskrewe vorm in te vul (indien u in Suid-Afrika woon).[1]

Dit kos niks om ’n klagte in te dien nie.

Sodra ons die klagte ontvang, sal ons skriftelik ontvangs erken. Na ’n gepaste ondersoek en so gou moontlik nadat ’n besluit geneem is, sal ons korporatiewe bestuurder u van ’n skriftelike uiteensetting van die besluit sowel as die redes daarvoor voorsien.

Beleidhersieningsiklus: Aanvanklik drie jaar, en daarna elke vyfde jaar 

[1] Die voorgeskrewe vorm is in Staatskoerant 42110 van 14 Desember 2018 gepubliseer, en is te kry by http://www.justice.gov.za/inforeg/docs/20181214-gg42110-rg10897-gon1383-POPIregister.pdf. Die kontakbesonderhede van die Inligtingsreguleerder is: ALU-gebou, Thabo Sehumestraat 316, Pretoria, tel 012 406 4818, faks 086 500 3351 en e-pos inforeg@justice.gov.za.


Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid