Reglemente

FEDSAS is die nasionale verteenwoordigende organisasie vir beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole

Reglemente vir Provinsiale Rade

1. Status

1.1. Hierdie reglement heet die Reglement vir Provinsiale Rade (hierna “die Reglement”).

1.2. Die Reglement het dieselfde status as die FEDSAS-grondwet en word as ’n kerndeel van die grondwet beskou, met dien verstande dat in geval van inhoudelike teenstrydigheid, die grondwet voorrang geniet.

1.3. In hierdie Reglement beteken:

1.3.1. “FEDSAS” of “die organisasie” die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole;

1.3.2. “Grondwet” die FEDSAS-grondwet;

1.3.3. “Beheerliggaamlede” persone wie se lidmaatskap van ’n skool se beheerliggaam kragtens artikel 23(1) en 24(1) van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 erken word, sowel as persone wat in ’n onafhanklike skool se beheerstruktuur dien en ’n erkenningskennisgewing in dié verband kan voorsien; 

1.3.4. “Raad” die Provinsiale Raad wat kragtens hierdie Reglement ingestel is; en

1.3.5. “Nasionale Raad” die Nasionale Raad wat kragtens klousule 9.2 van die grondwet ingestel is.


2. Doelstellings

2.1. Die doelstellings van die Raad is om namens die Nasionale Raad die oogmerke in klousule 6 van die grondwet te bevorder, toe te pas en uit te voer, en om lede van FEDSAS in die provinsie te verteenwoordig.

2.2. Die Raad verrig sodanige werksaamhede en voer sodanige besluite uit as wat die Nasionale Raad van tyd tot tyd aan die Raad delegeer.


3. Samestelling en verkiesing van die Raad

3.1. Die Raad bestaan uit die volgende lede: 

  • Die provinsiale bestuurder (ex officio)
  • Die provinsiale voorsitter
  • Die provinsiale ondervoorsitter
  • Een verteenwoordiger van elke distrik/streek in die provinsie. Distrikte/streke vir dié doel is soos wat die provinsiale bestuurder in oorleg met die Raad bepaal, en stem nie noodwendig met distrikte/streke van die betrokke provinsiale onderwysdepartement ooreen nie.

3.2. Die lede van die Raad moet ten tyde van hulle aanstelling as beheerliggaamlede by FEDSAS-lidskole in die provinsie dien.

3.3. Die provinsiale bestuurder benoem potensiële lede van die Raad skriftelik in oorleg met die bestaande Raad en lê die benoemings aan die Nasionale Raad voor, wat daarna die lede vir ’n termyn van drie jaar in die Raad aanstel.

3.4. Nadat die Nasionale Raad die lede van die Raad aangestel het, kies die Raad uit eie geledere ’n voorsitter en ondervoorsitter.

3.5. Vir elke onderwysstreek of -distrik word een primarius- en een sekunduslid aangestel. Die sekunduslid word outomaties die dienende lid van die Raad indien die primariuslid tot voorsitter of ondervoorsitter verkies word of tydelik nie daartoe in staat is om sy of haar verantwoordelikhede as lid van die Raad na te kom nie.

3.6. Die Raad is daarop geregtig om lede te koöpteer wat die Raad met die verrigting van sy werksaamhede kan bystaan, met dien verstande dat die getal gekoöpteerde lede nie 50% van die getal verkose lede mag oorskry nie.

3.7. Ingeval daar ’n vakature in die Raad ontstaan, kan die Raad benoemings aanvra en ’n verkiesing hou op enige wyse wat die Raad as gepas ag en wat met die beginsels van verantwoordbaarheid, verteenwoordiging en deursigtigheid strook. Die nuwe lid sal die setel tot die verstryking van die betrokke termyn beklee. 


4. Vergaderings van die Raad

4.1. Die provinsiale voorsitter belê vergaderings van die Raad, behalwe die eerste vergadering ná die aanstelling van ’n nuwe Raad, wat deur die provinsiale bestuurder belê word.

4.2. Die Raad vergader na gelang van behoefte, maar minstens twee maal per jaar.

4.3. Kennisgewings van vergaderings met die datum, tyd en plek van die vergadering sowel as die agendapunte word minstens sewe (7) dae voor vergaderings aan alle lede van die Raad voorsien.

4.4. Die provinsiale bestuurder tree as sekretaris van die Raad op en notuleer alle verrigtinge van die Raad.

4.5. Die provinsiale voorsitter of, in sy of haar afwesigheid, die provinsiale ondervoorsitter tree as voorsitter van vergaderings van die Raad op.

4.6. ’n Kworum by vergaderings van die Raad bestaan uit 50% van lede, plus een.

4.7. Die nasionale voorsitter, nasionale ondervoorsitter, uitvoerende hoof en adjunk-  uitvoerende hoofde is daarop geregtig om enige vergadering van die Raad by te woon en toe te spreek.


5. Werksaamhede van die Raad

Die Raad verrig die volgende werksaamhede en oefen die volgende bevoegdhede uit namens die Nasionale Raad:

  • Alle werksaamhede en bevoegdhede wat die Nasionale Raad van tyd tot tyd aan die Raad delegeer 
  • Voorsiening van advies aan die Nasionale Raad oor beheeraangeleenthede in die bepaalde provinsie 
  • Toesighouding oor die doelmatige gebruik van FEDSAS-hulpbronne in die provinsie, en die verrigting van die werksaamhede wat die Nasionale Raad in dié verband vereis 
  • Fasilitering van skakeling-, geldinsameling- en bekendstellingsaktiwiteite en -geleenthede ten bate van FEDSAS 
  • Benoeming van, en mandaatverlening aan, lede om die algemene jaarvergadering van FEDSAS by te woon en daar te stem 
  • Instelling van strukture vir skakeling met die provinsiale onderwysdepartement en ander onderwysbelanghebbendes in die provinsie 
  • Die aanbieding van provinsiale en/of streeksvergaderings en -byeenkomste vir FEDSAS-lede


6. Termyn van Raadslede en -ampsdraers

6.1. Die termyn van lede en ampsdraers van die Raad is drie jaar.

6.2. Die voorsitter en ondervoorsitter van die Raad word by die eerste vergadering van die nuwe Raad deur die lede van die Raad verkies.

6.3. Daar word outomaties aanvaar dat lede en ampsdraers van die Raad hulle ampte ontruim het ingeval hulle sonder ’n geldige rede afwesig is van 50% van vergaderings, wat sowel kontak- as aanlyn/hibridiese vergaderings insluit.


7. Subkomitees

Die Raad kan die volgende subkomitees instel:

7.1. ’n Dagbestuur, wat uit minstens die provinsiale voorsitter, ondervoorsitter en provinsiale bestuurder (ex officio) bestaan. Die Raad kan soveel ander lede in die dagbestuur aanstel as wat hy nodig ag.

7.2. Streekskomitees


8. Provinsiale algemene jaarverslag

8.1. ’n Provinsiale algemene jaarverslag word jaarliks voor die einde van Oktober skriftelik aan alle FEDSAS-lede in die provinsie voorsien ná goedkeuring deur die uitvoerende hoof.

8.2. Die volgende moet in die provinsiale jaarverslag vervat word:

8.2.1. ’n Verslag deur die provinsiale voorsitter namens die Nasionale Raad

8.2.2. ’n Finansiële verslag van FEDSAS

8.2.3. ’n Verslag deur die provinsiale bestuurder namens die uitvoerende hoof én oor provinsiale werkverrigting

8.2.4. Ander sake wat die Raad nodig ag of deur die grondwet vereis word



HIERDIE REGLEMENT IS GOEDGEKEUR BY ’N NASIONALE RAADSVERGADERING OP 17 APRIL 2009 EN IS OP 20 JULIE 2009, 16 MAART 2012 EN APRIL 2023 GEWYSIG VOLGENS ’N BESLUIT VAN DIE NASIONALE RAAD.

;
Copyright FEDSAS 2026 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid