Artikel

‘Waar sal ons wees sonder ons klaskamer-kampioene?’ FEDSAS bring hulde op Wêreldonderwysersdag

30/09/2024 - Fedsas


Om ’n onderwyser te wees, is ’n uitdagende en soms ondankbare werk. En tog bly dit vir vele ’n roeping. Hierdie onderwysers kyk verby die oorvol klaskamers, die beperkte hulpbronne en die ekstra ure vir buitemuurse aktiwiteite; hulle sien hoe ons kinders blom wanneer hulle weet dat hulle gesien en gehoor word.

Vrydag (5 Oktober 2024) word Wêreldonderwysersdag gevier en FEDSAS se boodskap aan hierdie onderwysers is: Ons sien en hoor julle. 

“Terwyl die BELA-wetgewing steeds die meeste gesprekke oorheers, pak die onweerswolke oor die besnoeiing van onderwysposte ook saam. Daar is baie gesprekke óór onderwys en onderwysers, maar min van hierdie gesprekke is mét onderwysers in die klaskamer,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).

Deacon sê sonder onderwysers is daar nie onderwys nie. “Terwyl openbare gesprekvoering in die media en ander platforms nodig is, is gesprekke by die skool ook belangrik. Gesels met onderwysers by jou naaste skool. Hoe raak die veranderende omgewing die werk van onderwysers? Watter impak het dit op die lewe van ’n onderwyser wie se pos botallig verklaar word? Watter planne en voorstelle het die mense wat dag ná dag die werklike onderrig doen.

Op Wêreldonderwysersdag bring FEDSAS hulde aan onderwysers as die ware klaskamer-kampioene. “’n Openbare skool behoort aan die onmiddellike gemeenskap. Gaan maak op hierdie Vrydag ’n draai by die skool of gebruik sosiale media om dankie te sê vir die verskil wat jou skool in jou gemeenskap maak.”

FEDSAS se visie is die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in alle skole. “Vir gehalte-onderwys benodig ons uitmuntende onderwysers wat werk in ’n skoolomgewing waar onderrig en leer voorkeur geniet en waar hulpbronne, professionele ontwikkeling en die welstand van onderwysers ’n prioriteit is,” sê Deacon. “Ons sal voortgaan om FEDSAS se hoëvlak-inspraak, ons kundigheid en uitgebreide netwerk te gebruik om by te dra tot ’n onderwysomgewing waar onderwysers hul roeping kan vervul tot voordeel van al die kinders van ons land.”

(FEDSAS is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Byna 2000 openbare skole is reeds lid van FEDSAS.)

Copyright FEDSAS 2025 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid