18/06/2025 - Fedsas
Die meeste provinsiale onderwysdepartemente voer hul pligte met soveel nalatigheid en laksheid uit dat dit ’n direkte skending van kinders se basiese regte is.
Hierdie patroon van voortdurende sistemiese mislukking in agt van die nege provinsiale onderwysdepartemente het FEDSAS met geen ander keuse gelaat nie as om ’n klag by die Menseregtekommissie in te dien. Die enigste uitsondering is die Vrystaat-onderwysdepartement.
“Daar is geen tweede kans vir hierdie leerders nie. Elke verlore skooldag is ’n grondwetlike mislukking met dikwels lewenslange gevolge,” sê dr. Juané van der Merwe-Mocke, adjunkhoof en hoof van regsdienste by FEDSAS (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).
“Ons praat nie hier van geïsoleerde voorvalle of die gevolge van tydelike administratiewe uitdagings nie. Hierdie onderwysdepartemente kom lankal nie meer hul grondwetlike en operasionele verantwoordelikhede na nie.”
FEDSAS se klag verwys onder meer na vakante poste wat nie gevul word nie al is geld hiervoor reeds aan provinsiale onderwysdepartemente oorbetaal. Ander verpligtinge wat nie nagekom word nie, sluit in die betaling van die wetlik verpligte oordraggelde aan skole. Wanbetaling, hetsy deur vertragings, gedeeltelike betalings of geen betalings, lei weer tot die wanaanwending van onderwysfondse. Talle onderwysdepartemente maak ook nie voldoende voorsiening vir voeding en vervoer vir leerders nie. Al hierdie mislukkings dra by tot groter ongelykheid tussen openbare skole, met ryker skole wat toegang het tot meer hulpbronne om van hierdie uitdagings tot ’n mate die hoof te bied terwyl arm skole totaal afhanklik van die provinsiale onderwysdepartemente is.
Van der Merwe-Mocke sê FEDSAS het reeds herhaalde pogings aangewend om provinsiale onderwysdepartemente se nie-nakoming van pligte uit te wys. “Ons het talle briewe geskryf en formele voorleggings by provinsiale onderwysdepartemente ingedien. Die kwessies is ook uitgelig op vergaderings van die Nasionale Raadplegende Forum, wat die departement van basiese onderwys insluit. In die meeste gevalle was daar onvoldoende of geen reaksie nie.”
FEDSAS voer aan dat hierdie kollektiewe mislukkings grondwetlike regte skend, insluitend die beste belang van die kind (artikel 28(2)), menswaardigheid (artikel 10), basiese onderwys (artikel 29(1)(a), die reg op voeding en noodsaaklike maatskaplike steun (artikel 27(1)(b)) en die reg op gelykheid (artikel 9).
“Die reg op basiese onderwys is nie ’n ideaal om na te strewe nie. Die Grondwet bepaal dat hierdie reg onvoorwaardelik en onmiddellik afdwingbaar is. Die Staat mag nie toegang tot onderwysers, infrastruktuur of operasionele fondse rantsoeneer weens interne wanfunksionering nie. Burokratiese rompslomp ontneem kinders van hul toekoms.”
FEDSAS het die klag ingedien as deel van die organisasie se mandaat as spreekbuis vir sy lede maar ook as ’n oproep tot verantwoordbaarheid ter verdediging van Suid-Afrika se kinders. Die organisasie doen ’n beroep op die Menseregtekommissie om onmiddellik ondersoek in te stel en onderwysdepartemente aan te sê om hul verantwoordelikhede behoorlik na te kom.
Van der Merwe-Mocke sê die meeste onderwysdepartemente het ’n kultuur van laksheid wat die geloofwaardigheid en funksionering van die openbare onderwysstelsel stelselmatig afgebreek het. “Om terug te sit en niks te doen nie, gaan ons land duur te staan kom. Basiese onderwys is veronderstel om aan kinders ’n toekoms te gee; nie wantroue en ’n miskenning van hul menswaardigheid nie.”