23/10/2024 - Fedsas
Doeltreffende leierskap is deurslaggewend in die volhoubaarheid van ’n skool. As deel van FEDSAS se visie om gehalte-onderrig vir alle kinders toeganklik te maak, brei die organisasie sy aanbod van gehalte-materiaal vir beheerliggame verder uit met die bekendstelling van ’n handleiding oor skoolbeheer en -bestuur vir onafhanklike skole.
Beheer in onafhanklike skole: ’n Handleiding oor die toepassing van die King-beginsels in onafhanklike skole is ’n aangepaste weergawe van die gewilde en suksesvolle Beheer in openbare skole: ’n Handleiding oor die toepassing van die King-beginsels in openbare skole, wat in 2016 deur FEDSAS gepubliseer is. Die oorspronklike publikasie is reeds in verskeie amptelike landstale beskikbaar.
“Die King IV-beginsels oor korporatiewe beheer is riglyne vir die skep en meet van doeltreffende leierskap in organisasies. FEDSAS het destyds saam met IoDSA (Institute of Directors in South Africa) gewerk om hierdie beginsels vir openbare skole toeganklik te maak,” sê dr. Juané van der Merwe, adjunkhoof van FEDSAS.
“Onafhanklike skole is nie verplig om ’n skoolbeheerliggaam te hê nie maar dit is goeie praktyk vir hierdie skole om oor ’n beheerstruktuur te beskik. Ongeag hoe hierdie beheerstruktuur saamgestel word, behoort dit uiteindelik die ouergemeenskap van die skool te verteenwoordig. Die handleiding fokus spesifiek op hoe hierdie beheerstrukture op voetsoolvlak behoort te lyk en te funksioneer ooreenkomstig die King IV-beginsels.” Van der Merwe sê die nuwe publikasie is ’n besondere mylpaal vir FEDSAS en sal help om die beheer en bestuur in onafhanklike skole te bevorder en hul unieke behoeftes aan te spreek. FEDSAS-lede kry elektronies toegang tot die nuwe handleiding.
Die bekendstelling van die nuwe handleiding val saam met FEDSAS se mini-beraad vir onafhanklike skole in die Wes-Kaap, wat vandag (23 Oktober 2024) in Stellebosch gehou is. “Die program dek onder meer onderwerpe soos wetgewing, voortgesette professionele ontwikkeling van opvoeders, akkreditasie en finansiële volhoubaarheid,” sê mnr. Hennie Combrink, FEDSAS se Bestuurder: Onafhanklike Skole. Die eerste mini-beraad van hierdie aard is vroeër vanjaar in Gauteng aangebied. Combrink sê daar is ’n duidelike behoefte by onafhanklike skole om ’n kollektiewe stem te hê wat hierdie sektor verteenwoordig in die groter onderwyssektor. “FEDSAS het meer as drie dekades se ervaring in die opleiding en toerus van beheerstrukture en ook as gerekende verteenwoordiger van skole se beheerstrukture op hoë vlak,” sê Combrink. Combrink sê doeltreffende leierskap by onafhanklike sowel as openbare skole sal bydrae tot die versterking van die hele onderwyssektor.
FOTO: By die bekendstelling van FEDSAS se handleiding oor skoolbeheer en -bestuur vir onafhanklike skole is, van links na regs, Hennie Combrink (FEDSAS se Nasionale Bestuurder: Onafhanklike Skole), Cindy Thomas en Vanessa Naidoo (Umalusi), Ella Mokgolane (Uitvoerende Hoof: Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders) en Suzaan Mellet, voorsitter van die SA Onderwysontwikkelingstrust en mede-skrywer van die handleiding.