Article

DAK Netwerk se Danie van Wyk bou voort op sy FEDSAS-ondervinding

16/06/2021 - Fedsas


Vir Danie van Wyk, die nuwe uitvoerende voorsitter van die DAK Netwerk, is sy visie om die belange van bruin Afrikaanssprekendes te vestig ? voortsetting van ? taak wat hy in opdrag van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) begin het. “Toe ek in 2011 by FEDSAS betrokke geraak het, was my uitsluitlike opdrag om FEDSAS onder bruin skole te vestig en uit te brei,” sê Van Wyk, wat tot onlangs nog die Wes-Kaapse bestuurder van SAOOT was. SAOOT, die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust, is ? projek van FEDSAS.

Van Wyk was vir die afgelope byna agt jaar by FEDSAS betrokke. “Vir my was dit ? tydperk van ongelooflike ondervinding en groei deur middel van opleiding en persoonlike interaksie met die leierskap van FEDSAS. Die organisasie het destyds ? baie lae profiel in bruin gemeenskappe gehad omdat dit gesien is as ? organisasie wat op voormalige model C-skole fokus. Ek het aanvanklik taamlik die wind van voor gekry. Dit is vir my wonderlik om my tyd by FEDSAS af te sluit met FEDSAS wat nou ? gevestigde onderwysvennoot in bruin skoolgemeenskappe is.”

 Dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van FEDSAS, sê Van Wyk se werk by FEDSAS het baie daartoe bygedra om die organisasie te vestig as verteenwoordiger van die belange van diverse skoolgemeenskappe. “Agter Danie se gemoedelike Karoo-aksent is daar ? vlymskerp intelligensie. Sy fyn aanvoeling vir mense maak dat hy individue met uiteenlopende en soms teenstrydige menings kan help om ? gedeelde visie te ontwikkel.”

Van Wyk is op sy beurt vol lof vir die leierskap van Deacon sowel as FEDSAS se uittredende uitvoerende hoof, Paul Colditz. “Ek het altyd hul steun gehad vir voorstelle om my mandaat uit te voer. FEDSAS se kernwaardes is net lippediens nie; almal by FEDSAS lééf hierdie waardes en dit is deels hoekom die organisasie sulke wye steun in die onderwyssektor geniet.”

Van Wyk sê ? hoogtepunt van sy tyd by FEDSAS was die vestiging van leerderberade. “Ek het voorgestel dat ons begin om leerders wat op skoolbeheerliggame dien, bewus te maak van hul rolle en funksies. Die opleidingsprogram word nou al vir meer as sewe jaar aangebied.” Hy is ook trots op die skoolbiblioteekprojek wat met behulp van ander vennote boeke na meer as 140 skole in die Wes-Kaap versprei het. 

Van Wyk sê FEDSAS speel ? kernrol in die ontsluiting van die mag van skoolgemeenskappe. “Gemeenskappe moet volle eienaarskap van hul skole aanvaar, want dit is die enigste manier om funksionele skole in alle gemeenskappe te verseker. 

In sy hoedanigheid as DAK se uitvoerende voorsitter sê Van Wyk dat onderwys ook vir hierdie organisasie ? belangrike fokuspunt is. “Die DAK Netwerk fokus op gemeenskapsontwikkeling en kwessies wat agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe raak. Ons gee erkenning aan die groter Afrikaansheid en hier speel onderwys natuurlik ? baie groot rol.”

 Deacon en Van Wyk stem saam dat ? sterk nie-regeringsektor en burgerlike organisasies noodsaaklik is vir vooruitgang in Suid-Afrika. “Vanuit my unieke posisie met kennis van die binnewerkinge van sowel FEDSAS as die DAK Netwerk kan ek bevestig dat ons op die regte pad is. Wanneer ons fokus op die raakpunte tussen kulture, groepe en mense is die aanvaarding van verskille soveel makliker,” sê Van Wyk.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privacy Policy