Artikel

Opskerpsessies vir FEDSAS se Waardegedrewe Skole-projek skop vandeesweek af

04/08/2016 - Fedsas


Meer as 550 onderwysers en ouers in Mpumalanga het die eerste opskerpsessies van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) se unieke Waardegedrewe Skole-projek bygewoon. Die projek is in 2013 bekend gestel en stel ’n waardegedrewe benadering eerder as ’n reëlgebaseerde benadering tot skooldissipline voor.

“Ons is verstom oor die belangstelling in die projek. Die sessies is oop vir almal, ongeag of ’n skool lid is van FEDSAS of nie, en dit lyk asof onderwysers én ouers spring vir dié geleentheid,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Sedert die aanvanklike implementering van die projek drie jaar gelede het talle skole reeds aangedui dat hulle beduidend minder dissiplinêre probleme ondervind.

“Met swak dissipline wat so ’n groot uitdaging vir onderwys in Suid-Afrika bly, is die unieke benadering van die Waardegedrewe Skole-projek ’n reddingsboei vir skole. Die klemverskuiwing van reëls na waardes bring mee dat leerders, onderwysers en ander rolspelers in die skoolgemeenskap meer verantwoordelikheid neem vir hul gedrag,” sê Deacon. Vanjaar se opskerpsessies is ’n voortsetting van die aanvanklike projek. Belangstellendes wat nie die oorspronklike sessies bygewoon het nie, is welkom om die nuwe sessies by te woon. “Diegene wat belang stel, kan eers na die oorspronlike sessies op FEDSAS se YouTube-kanaal gaan kyk. Dit is egter nie ’n voorvereiste nie,” verduidelik Deacon.

Die projek duur tot Oktober vanjaar en elke provinsie bied twee afsonderlike opskerpsessies aan. So ’n sessie bestaan uit twee dele. Die middagsessie vir onderwysers, “Leef jy of oorleef jy?”, bied die nodige inspirasie om ’n verskil te maak. Die aandsessie vir ouers, “Verstaan jou kind en jou kind se behoeftes”, fokus spesifiek op dissipline by die huis en verhoudinge wat ’n verskil maak. Die aanbieder is die bekende spreker en skrywer Johan Smith.

Belangstellende skole kan hul FEDSAS-provinsiale bestuurder kontak vir meer besonderhede oor seminare in die onderskeie provinsies. Kontakbesonderhede vir elke provinsie is beskikbaar op FEDSAS se webtuiste by www.fedsas.org.za. 

Copyright FEDSAS 2026 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid