Gauteng wysig e-platform vir skooltoelatings ná druk van FEDSAS
20/04/2016 - Fedsas
Druk deur FEDSAS het bygedra tot wysigings aan die omstrede e-platform wat deur die Gauteng-onderwysdepartement gebruik word vir aansoeke om skooltoelating. Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het verlede week by monde van sy prokureurs ’n aanmaning aan die departement gestuur om wysigings aan te bring óf die stelsel in sy huidige formaat te skrap aangesien die stelsel in wese nie aan wetlike vereistes voldoen het nie.
“Ouers en voogde in Gauteng word nou aangemoedig om sonder verwyl aanlyn aansoek te doen vir die skool van hul keuse,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS. Twee belangrike wysigings sluit in dat ouers nou self die skool van hul keuse kan aandui en dat aansoeke na skole gestuur word vir die saamstel van die sogenaamde A- en B-lyste. Dit bring mee dat ’n skool se taal- en toelatingsbeleid in berekening gebring word. In sy vorige formaat het die platform bloot ’n skool toegewys op grond van die ouers se adres en geen taalvoorkeur kon aangedui word nie.
“FEDSAS spreek sy waardering uit vir die Gauteng-onderwysdepartement se bereidwilligheid om te luister na die insette van onderwysrolspelers. Indien ons kan voortbou op hierdie konstruktiewe gesprekvoering sal dit dalk toekomstige hofaksie kan voorkom,” sê Colditz. Dit is voorts ook ’n bewys van FEDSAS se invloed as gerekende onderwysrolspeler.
Daar is egter steeds aspekte van die aansoekproses wat kommerwekkend is, byvoorbeeld die feit dat aansoeke slegs elektronies gedoen kan word. “FEDSAS steun inisiatiewe wat prosesse vergemaklik, maar die groter prentjie moet egter nooit uit die oog verloor word nie. Derduisende ouers het om verskeie redes nie geredelik toegang tot die internet nie, wat meebring dat hulle nie werklik inspraak het in waar hul kinders skoolgaan nie,” sê Colditz.
FEDSAS is egter gewillig om die departement by te staan ten einde hierdie proses te verfyn. “’n Suksesvol geïntegreerde elektroniese proses is tot voordeel van almal en kan uiteindelik as model vir ander provinsies ook gebruik word.”