Artikel

Oud-Bloemfontein-skoolhoof nou by FEDSAS in Noord-Kaap

28/02/2017 - Fedsas


Om FEDSAS se profiel as betroubare onderwysvennoot uit te bou is die eerste prioriteit vir die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole se nuwe provinsiale bestuurder in die Noord-Kaap. Mnr. Michael Barker, bekende Bloemfonteinse skoolhoof, het dié pos aanvaar ná sy uittrede verlede jaar as hoof van die Hoërskool Fichardtpark. Barker sê as skoolhoof het hy ? uitstekende verhouding met FEDSAS gehad, wat dié pos die logiese volgende stap gemaak het.

Die adjunkhoof van FEDSAS, dr. Jaco Deacon, sê Barker se meer as drie dekades in die onderwys vorm ? uitstekende kombinasie met FEDSAS se uitsonderlike benadering, programme en dienste ter bevordering van skoolbeheer en –bestuur.

Barker sê die grootste uitdaging in die buitengewoon groot Noord-Kaap is om alle skole bewus te maak daarvan dat FEDSAS die onderwysvennoot is wat nie net ? waghondfunksie in onderwysbestuur vervul nie, maar ook oor kundigheid beskik wat lidmaatskap van FEDSAS onontbeerlik maak. “Deur beheerliggame en bestuur van skole in die Noord-Kaap by te staan en toe te rus, veg FEDSAS vir die beste belang van elke leerder en vir gehalte-onderrig. Ek sien daarna uit om al die ledeskole se beheerliggame en skoolhoofde te ontmoet. Dit is reeds duidelik dat die mense van die Noord-Kaap die sout van die aarde is!”

Barker sê wat onderwys in Suid-Afrika betref, lê die sleutel tot sukses in die besef dat alle rolspelers die beste belange van die kind eerste moet stel. “Die kind kan nie wag nie. Sy tyd is nou en hulle kyk met groot oë vol verwagting na die rolmodelle in onderwys. Ons het die groot taak om daardie passievolle rolmodelle te wees. Ons durf nie misluk nie.”

Copyright FEDSAS 2025 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid