Artikel

Beraad vir onafhanklike skole ’n eerste vir FEDSAS

12/03/2024 - Fedsas


Onafhanklike skole het die afgelope dekade geweldige groei beleef en speel ’n al groter rol in die onderwyssektor in Suid-Afrika. Die getal onafhanklike skole het die afgelope tien jaar byna verdubbel tot meer as 2300. Daar is byna 740 000 leerders en meer as 45 000 opvoeders in onafhanklike skole.

“Hoewel hierdie skole nie noodwendig die nasionale kurrikulum volg of altyd dieselfde benadering tot onderrig en leer het nie, is die basiese beginsels van goeie skoolbeheer en -bestuur steeds van toepassing,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).

Onafhanklike skole, wat ook preprimêre skole insluit, funksioneer steeds binne die wetlike raamwerk vir onderwys in Suid-Afrika. Die sektor is baie divers om die behoeftes van gemeenskappe te bedien en wissel van genoteerde maatskappye tot kerkskole of eenmansake. 

“FEDSAS het ’n tydjie gelede die organisasie se kundigheid en omvattende hulpbronne ook aan hierdie skole beskikbaar gestel. Sedertdien sluit al meer onafhanklike skole by die organisasie aan en ons eerste mini-beraad vir onafhanklike skole vind vandag (12 Maart 2024) in Pretoria plaas,” sê Deacon. 

FEDSAS se bestuurder vir onafhanklike skole, mnr. Hennie Combrink, sê die doel van die beraad is om vir lede ’n grondslag te lê waarop sterk bestuurstrukture gebou kan word, of bestaande strukture aangepas kan word. “Die program dek onder meer onderwerpe soos wetgewing, voortgesette professionele ontwikkeling van opvoeders, akkreditasie en finansiële volhoubaarheid ,” sê Combrink. 

Combrink sê die doel van die mini-beraad is ook om aan lede ’n blik op die toekoms te gee en onafhanklike skole te sien binne die konteks van die politieke, ekonomiese en kulturele faktore wat inspeel op onderwys. Skole het ook die geleentheid om direk met die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (SARO) en die gehaltebeheerliggaam, Umalusi, te skakel.

“Die wêreld, en daarmee saam Suid-Afrika, beleef ’n tydperk van ontwrigting en verandering. Om volhoubaar te wees, moet ’n skool aanpasbaar en innoverend wees. ’n Sterk kollektiewe stem dra ook meer gewig. Sowat tien persent van alle skole in die land is onafhanklike skole. Met al die uitdagings wat openbare skole in die gesig staar, moet onafhanklike skole dus saamstaan om ook gehoor te word,” sê Combrink.

Deacon sê terselfdertyd kan openbare skole ook heelwat leer by onafhanklike skole, veral omdat hierdie skole jaar na jaar uitstekende matriekuitslae lewer. “Die doel van ’n skool, onafhanklik of openbaar, is om aan kinders gehalte-onderrig te bied. Ons moet dus na suksesvolle skole oor die spektrum heen kyk en dít identifiseer wat hierdie skole van ander onderskei.”

FOTO: Mnr. Hennie Combrink, FEDSAS se bestuurder vir onafhanklike skole, en me. Ella Mokgalane, uitvoerende hoof van SARO (Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders), by FEDSAS se eerste mini-beraad vir onafhanklike skole.


Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid