Artikel

Groot kommer oor SBL-verkiesings nadat slegs een provinsie verkiesingsregulasies betyds publiseer, sê FEDSAS

31/01/2024 - Fedsas


Chaos dreig met vanjaar se skoolbeheerliggaamverkiesings omdat nuwe verkiesingsregulasies nog nie gepubliseer is nie. ’n Nasionale taakspan het verlede jaar reeds nasionale riglyne daargestel om as provinsiale regulasies gepubliseer te word. Indien die regulasies egter nie vandag (31 Januarie 2024) gepubliseer word nie, is dit amper te laat en sal die gebrekkige regulasies van die 2021-verkiesing van krag bly.

         

 “Ons het die dringendheid van die publikasie verlede week onder die aandag van die Minister van Basiese Onderwys gebring tydens ’n vergadering van die Nasionale Raadplegende Forum. Sy het onderneem om dit verlede week nog met die Raad van Onderwysministers te bespreek,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).

         

Deacon sê slegs die Vrystaat het reeds die nuwe verkiesingsregulasies gepubliseer. “Sommige provinsiale onderwysdepartemente het aangedui dat hulle besig is met ‘opleiding’. Dit is nie duidelik hoe mense opgelei kan word sonder regulasies nie.”

       

Deacon sê die datum van die verkiesing is reeds einde verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer. “Dit begin oor 30 dae op 1 Maart en duur tot 31 Maart. Daar is egter net 14 skooldae in Maart, wat beteken dat skole so vroeg as moontlik hul verkiesing moet hou. Riglyne bepaal egter ook dat skole 30 dae voor die verkiesing aansoek moet doen vir die model van die verkiesing, wat beteken dat dit nou onmoontlik is om vroeg in Maart ’n verkiesing te hou.

          

“Die nasionale taakspan het gekyk na verskillende modelle van verkiesing, byvoorbeeld ’n e-verkiesing, en het baie werk gedoen om die proses so maklik as moontlik te maak. Die taakspan het bestaan uit senior amptenare van die Departement van Basiese Onderwys, beheerliggaamorganisasies en provinsiale onderwysdepartemente.” Deacon sê FEDSAS het ook versoek dat die Minister van Basiese Onderwys die mag kry om een stel regulasies vir die hele land af te kondig, juis om die huidige toedrag van sake te voorkom. Die voorstel is in die BELA-konsepwet vervat.

          

“Daar is soveel onlangse voorbeelde wat dui op die minagting wat die regering vir die Skolewet het. Die wet maak spesifiek voorsiening van openbare skole en nie staatskole nie. Openbare skole behoort aan die gemeenskappe waar hierdie skole geleë is maar op provinsiale en dikwels ook nasionale vlak gaan onderwysamptenare uit hul pad om hierdie reg te ondermyn.”

          

Buiten dat die regulasies nie betyds gepubliseer is nie, is daar ook geen duidelike bemarkingsveldtog van die SBL-verkiesings deur provinsiale onderwysdepartemente nie. “Die boodskap is duidelik: Openbare skole en die verkiesing van beheerliggaamlede is nie belangrik nie. Dieselfde boodskap is ook duidelik in die omstrede BELA-konsepwetgewing.”


FEDSAS doen weer ? beroep op elke Onderwys-LUR om dadelik die verkiesingsregulasies te publiseer en af te sien van die 30 dae-vereiste om aansoek te doen vir die model van die verkiesing. FEDSAS versoek ook dat die Minister toesien dat die provinsies uitvoering gee aan die Skolewet.

         

 FEDSAS gaan voort met ’n uitgebreide veldtog om die SBL-verkiesings te bemark en skoolgemeenskappe in te lig. “Ons doen ook ’n beroep op geloofsgemeenskappe, gemeenskapsorganisasies en ander rolspelers om ouers te motiveer om betrokke te raak by die verkiesing. Meer as 250 000 SBL-lede moet verkies word by die land se 22 511 openbare skole. Dink net hoe ’n sterk stem openbare skole as geheel sal hê met ’n kwartmiljoen kundige en passievolle SBL-lede.”

          

Buiten vir die bemarking van die verkiesings, staan FEDSAS ook gereed met programme om BL-lede op te lei en toe te rus. Die organisasie bied toegang tot uitgebreide hulpbronne, regsmenings en -dokumente en opleiding oor alle aspekte van ’n beheerliggaam se werk.


FEDSAS se veldtog is gebou rondom die slagspreuk Jou gemeenskap, jou skool – stem! Skole en organisasies wat betrokke wil raak by die verkiesing kry toegang tot bemarkingshulpmiddels en video-boodskappe van verskillende Suid-Afrikaners en kan ook inskakel by FEDSAS se sosiale media-veldtog met die hutsmerk #SkoolVerkiesings2024. Prof. Thuli Mandonsela en die sanger Jo Black is onder die bekendes wat reeds ouers aangemoedig het om betrokke te raak. 


Vir meer inligting oor die SBL-verkiesing asook FEDSAS se opleidingsprogramme en ander hulpbronne, besoek www.fedsas.org.za

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid