Artikel

R5 per leerder per dag vir sommige Oos-Kaapse skole maar nie die provinsiale onderwysdepartement óf Menseregtekommissie reageer op FEDSAS se versoeke

14/08/2024 - Fedsas


Oos-Kaapse skole wat reeds finansieel die heel swaarste kry, ontvang skaars meer as R5 per leerder per dag van die provinsiale onderwysdepartement. Hiermee moet skole uitgawes soos handboeke, skryfbehoeftes, water en elektrisiteit en vele meer betaal. Dit is die gevolg van ’n onregmatige besluit deur dié departement om ’n persentasie van verpligte skoolfinansiering terug te hou vir ’n provinsiale begroting wat glo sentrale aankope doen.


“Die nasionale norme en standaarde vir skoolfinansiering word jaarliks deur die Minister van Onderwys bepaal. Provinsiale onderwysdepartemente is dan verantwoordelik om die geld in twee paaiemente, voor of op 15 Mei en voor of op 15 November, aan skole te betaal,” sê dr. Juané van der Merwe, adjunkhoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole). Van der Merwe sê skole betaal nie net handboeke, skryfbehoeftes en munisipale dienste nie met hierdie geld nie, maar ook instandhouding, brandstof vir voertuie en ’n hele reeks ander uitgawes.


Van der Merwe sê skole in die Oos-Kaap ontvang nou egter net sowat tweederdes van die geld aan hulle verskuldig. Sy sê dit is veral skole in kwintiel 1-3 wat geraak word. “Hierdie skole kan nie skoolfonds hef nie en is volledig van staatshulpbronne afhanklik. Die volledige bedrag vir skoolfinansiering vir hierdie skole werk reeds uit op ’n skamele R1672 per leerder per jaar, met ander woorde sowat R8 per leerder per dag. Nou ontvang hulle selfs minder.”


FEDSAS het die Oos-Kaapse onderwysdepartement in Mei verlede jaar en weer in Junie die jaar skriftelik versoek om hierdie besluit terug te trek maar het geen reaksie ontvang nie. Van der Merwe sê die weerhouding van fondse aan skole is onregmatig. “Boonop het FEDSAS-lede in die Oos-Kaap bevestig dat hulle tot dusver geen voordeel getrek het uit die beweerde sentrale aankope nie.”


Hierdie onregmatige aksie skend kinders se reg tot onderrig. In November verlede jaar het FEDSAS ’n klag hieroor by die Menseregtekommissie ingedien. “Die MRK laat hierdie kinders nou ook in die steek. Buiten ontvangserkenning het FEDSAS tot op hede geen reaksie van die MRK ontvang nie en daar is geen aanduiding dat die klagte ondersoek word nie,” sê Van der Merwe.


FEDSAS sal voortgaan om van alle beskikbare opsies gebruik te maak om toe te sien dat kinders se reg tot gehalte-onderrig beskerm word. “Dit is egter jammer dat ‘n instelling soos die MRK, wat die beskerming van menseregte as doelwit het, nie alle klagtes met dieselfde ywer ondersoek nie.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid