Artikel

Openbare konsultasies oor nuwe onderwyswette reeds gereël, publiek moet deelneem, sê FEDSAS oor parlement se trae bewusmakingsveldtog

21/02/2023 - Fedsas


Openbare konsultasies oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, ook bekend as die Bela-wetsontwerp, vir twee provinsies is reeds gereël en vind eersdaags plaas – maar daar is geen veldtog om die publiek hiervan bewus te maak nie. Ná uitgebreide parlementêre voorleggings deur talle rolspelers verlede jaar het die parlementêre portefeulje komitee oor basiese onderwys besluit dat verdere openbare deelname nodig is.

 “Die openbare konsultasies in Limpopo begin reeds hierdie Vrydag (24 Februarie 2023), maar geen duidelike of doeltreffende bewusmaking hieroor is gedoen nie. FEDSAS moes ? navraag hieroor rig om die inligting te bekom. Dit is uiters belangrik dat soveel moontlik ouers, voogde en ander rolspelers aan die proses deelneem. Die parlement se trae reaksie om die publiek behoorlik in te lig, is teleurstellend en maak die proses verdag,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). 

FEDSAS het verlede jaar ’n omvattende voorlegging aan die parlement gedoen oor die Bela-wetsontwerp. Die wetsontwerp is veral in die spervuur oor wysigings wat aan provinsiale onderwyshoofde die mag gee om te besluit oor ’n skool se beleid oor toelating en taal. In sy voorlegging het FEDSAS uitgewys dat albei hierdie wysigings indruis teen die onderliggende beginsel van samewerkende bestuur waarop die model vir openbare skole gebou is.

FEDSAS het in sy voorlegging ook verskeie ander voorstelle gemaak wat, sou dit in die wetgewing ingesluit word, baie sal doen om skoolbestuur meer professioneel te maak.

“Die kern van die saak is egter dat openbare skole op ’n model van samewerkende bestuur gebou is. ’n Skoolgemeenskap in die vorm van ’n beheerliggaam is veronderstel om ’n skool binne die wetlike raamwerk te kan bestuur met min inmenging deur die staat. Die voortbestaan van hierdie model, en daarmee saam ouers se inspraak op hul kinders opvoeding, is op die spel.”      

FEDSAS moedig ouers en ander rolspelers aan om die openbare konsultasies in groot getalle by te woon. “Konsultasies in Limpopo vind hierdie komende naweek van 24-26 Februarie in drie distrikte plaas. Daarna is die Vrystaat van 3-5 Maart aan die beurt. Tentatiewe datums vir ander provinsies is ook al beskikbaar, maar is nog glad nie aan die publiek deurgegee nie.”

 Deacon sê gegewe hoe belangrik hierdie openbare konsultasies vir die behoud en bevordering van gehalte-onderrig is, sal FEDSAS alles in sy vermoë doen om namens die parlement bewusmaking hieroor te skep. “Ons is teleurgesteld in die gebrekkige bewusmaking, veral nadat derduisende mense skriftelike kommentaar ingedien het en daar groot belangstelling in die media was. FEDSAS het egter ’n uitgebreide nasionale voetspoor en die nodige netwerke om toe te sien dat die inligting wél ons lidskole en die publiek bereik. Dan is dit egter in die hande van ouers en die gemeenskap om hul stem dik te maak sodat hulle steeds ’n sê kan hê in hul kinders se onderrig.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid