Artikel

Steeds puttoilette en geen handboeke, maar nou loods Limpopo-onderwysdepartement ? aanlyntoelatingstelsel, sê bekommerde FEDSAS

01/11/2021 - Fedsas


'n Provinsiale onderwysdepartement wat nie eens daarin kan slaag om handboeke te lewer of van puttoilette by skole ontslae kan raak nie, het nou 'n loodsprojek vir aanlyntoelatings van stapel gestuur. Die Limpopo-onderwysdepartement het aanvanklik aangedui dat die Gauteng-aanlynstelsel gebruik gaan word, maar intussen het dit duidelik geword dat die departement 'n eie stelsel ontwikkel het.

            

“Meer as 100 skole vorm deel van die loodsprojek, maar die aanlynstelsel is só gebrekkig dat dit skole en leerders wesenlik benadeel,” sê dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). Sowat 35% van die skole in die loodsprojek se beheerliggame is lid van FEDSAS. “Ons het reeds 'n  groot hoeveelheid klagtes van ouers ontvang wat sê dat hul besonderhede nie korrek gestoor word op die aanlynstelsel nie. Baie van die ouers wat die stelsel gebruik het, sê hul kinders se name verskyn nie op die betrokke skole se lyste vir aansoeke vir 2022 nie. 

            

Deacon sê FEDSAS het baie ervaring van aanlyntoelatings vanweë die organisasie se betrokkenheid by soortgelyke prosesse in Gauteng en die Noord-Kaap. “Ons het ons lede aangemoedig om deel te neem en FEDSAS het deurlopend terugvoer aan die provinsiale onderwysdepartement gegee, maar daar is geen ag daarop geslaan nie.


In die lig van ernstige tekortkominge met die stelsel, twyfel oor die integriteit van die proses, maar bowenal die implikasies wat dit vir die leerders inhou, het FEDSAS die Limpopo-onderwysdepartement versoek om die projek te staak. Die departement het egter nie reageer op FEDSAS se versoeke nie. “Ons het hier te doen met magsbehepte, onbevoegde amptenare wat duidelik nie die beste belange van die leerders eerste stel nie.” FEDSAS het ook die aangeleentheid by die nasionale departement van basiese onderwys aangemeld. “Ons versoek die Minister van Basiese Onderwys om dringend in te gryp in Limpopo, want hierdie ondeurdagte projek is maar die oortjies van die seekoei.

            

Deacon sê FEDSAS se regspan is besig om die opsies op te weeg en sal ook met 'n  advokaat konsulteer oor moontlike regstappe om skole te beskerm. “FEDSAS tree in belang van sy lede en ander openbare skole op en ons sal toesien dat beheerliggame se regte ten opsigte van 'n  skool se toelatingsbeleid beskerm word en dat die regte beskerm word van ouers en leerders om 'n  skool te kan kies.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid