Artikel

‘Lewer kommentaar al word openbare konsultasies swak bestuur,’ sê FEDSAS oor tweede ronde van openbare deelname oor Bela-skoolwetgewing

18/11/2023 - Fedsas


Dit lyk asof die regering die tweede ronde van openbare deelname vir kommentaar oor die omstrede Bela-skolewetgewing met dieselfde minagting as die eerste ronde hanteer. 

 “Die kennisgewing oor openbare konsultasies in Mpumalanga is Woensdag (15 November 2023) aan rolspelers in dié provinsie gestuur. Die eerste sessie vind reeds op 23 November 2023 plaas. Dit is eksamentyd en die hooffokus van ouers, voogde en onderwysers is tans op leerders, soos dit hoort. Soos met die eerste openbare konsultasies vroeër vanjaar skep die regering se hantering van hierdie sessies die idee dat daar gaan waarde daaraan geheg word nie,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).

 Bela, die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, is van die begin af in omstredenheid gedompel. Dit word gekenmerk deur ernstige tekortkominge wat ingrypende implikasies vir die onderwyssektor inhou. Verskeie drukgroepe en organisasies het reeds aangedui dat hulle die grondwetlikheid van Bela in die hof sal betwis. “FEDSAS het ook reeds ’n kundige span aangestel om die stryd na die hof te neem,” sê Deacon.

 Deacon sê verskeie provinsies het reeds met hul prosesse begin nog voordat die wetsontwerp amptelik voor die Nasionale Raad van Provinsies gedien het. “FEDSAS doen egter weer ’n beroep op die publiek om hul stem te laat hoor. Elke mening tel, selfs al is dit eers tydens ’n latere hofproses. Skoolgemeenskappe moet die reg behou om self oor die taal- en toelatingsbeleid van skole te besluit.”

Deacon sê dertig jaar van swak onderwysbestuur op veral provinsiale vlak het gewys dat die alternatief dít wat wel nog funksioneer in die skoolstelsel gaan uitwis. “Goeie skole gaan gedwing word om ’n aantal leerders te akkommodeer ver bo die kapasiteit van die skool. Skielike veranderinge aan taalbeleid sal onderwysers se werklading verdubbel. Dit is onvermydelik dat dit ’n negatiewe invloed op gehalte-onderwys sal hê.”

FEDSAS vra rolspelers en die publiek opnuut om aan die openbare konsultasies deel te neem. “Moenie voel dat hierdie proses reeds te ver gevorder het en dat deelname nie meer ’n invloed kan hê nie. Groot openbare druk het die portefeuljekomitee oor openbare onderwys gedwing om derduisende bykomende openbare voorleggings en kommentaarbydraes by te werk. Dit is nou op rekord en kan dus in hofprosesse gebruik word. Dieselfde geld vir die volgende ronde van kommentaar. Politici hanteer ongelukkig die openbare deelname soos ? referendum (wat dit beslis nie is nie) en getalle maak dus vir hulle saak. Ouers en skoolgemeenskappe moet dus in groot getalle opdaag om hul stem te laat tel.”

FEDSAS het sy ontstaan en meer as drie dekades se toegewyde steun grootliks aan die konsep van openbare skole te danke. “Met die opstel van die Grondwet is besluit om weg te beweeg van staatskole en dat Suid-Afrika openbare skole sal hê wat behoort aan die gemeenskappe waar hierdie skole geleë is. Dit is die verpersoonliking van demokrasie en Suid-Afrikaners behoort hand en tand te baklei om dit te behou.” 

FEDSAS sal onverpoos voortgaan om die organisasie se internasionaal gerekende kundigheid te gebruik om gehalte-onderwys vir elke kind in Suid-Afrika beskikbaar te maak.

                   

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid