Artikel

Ouers se stem vir skoolbeheerliggaam ook stem vir toekoms van onderwys, sê FEDSAS

05/03/2024 - Fedsas


Met die uitsondering van Gauteng, het al die provinsies uiteindelik nuwe verkiesingsregulasies vir die skoolbeheerliggaamverkiesings gepubliseer, wat beteken die meerderheid van ’n nasionale taakspan se riglyne kan as provinsiale regulasies geïmplementeer word. Dit is net die Wes-Kaap wat heeltemal afgewyk het met ? meer gekompliseerde stel regulasies.                                                                                                                                                                                                                                                                                     Skoolbeheerliggaamverkiesings vind elke drie jaar plaas en het verlede Vrydag (1 Maart 2024) landwyd begin. Skole het tot 31 Maart vanjaar om die verkiesings af te handel. Meer as 250 000 SBL-lede moet by die land se 22 511 openbare skole verkies word.                                                                                                                                                                                                                                                               “By sommige skole is die verkiesings reeds afgehandel terwyl die nominasieproses by ander skole nog oop is. Ouers wat passievol oor onderwys is, oor spesifieke kundigheid beskik en die belange van hul gemeenskap op die hart dra, word aangemoedig om hulself verkiesbaar te stel,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).

’n Kworum van 15% stemgeregtigde ouers by ’n skool is nodig vir ’n verkiesing om geldig te wees. Die uitsondering is die Wes-Kaap, wat geen kworum-vereiste het nie. “FEDSAS doen ’n beroep op alle ouers om deel te neem aan hul skool se verkiesing. Ouers stem nie net vir die nuwe leierskap van die skool nie, maar ook vir die toekoms van onderwys in ons land. Met die BELA-konsepwetgewing wat waarskynlik binnekort op die wetboek kan verskyn, gaan sterk skoolbeheerliggame nodig wees om toe te sien dat gehalte-onderrig by openbare skole sal kan voortgaan met minimale inmenging deur die staat.”

Deacon sê FEDSAS se opleidingsprogramme by lidskole sal ook eersdaags begin. “Dit is belangrik dat nuutverkose beheerliggaamlede seker maak dat hulle weet wat volgende moet gebeur. So moet daar byvoorbeeld so gou moontlik ’n oorgangsvergadering gereël word vir die vorige beheerliggaam om die nuwe beheerliggaam in te lig oor die afgelope termyn en sake wat aandag moet kry. Die ampte vir die nuwe termyn moet ook tydens hierdie vergadering verkies word.”

Buiten vir omvattende hulpbronne, het FEDSAS ook ’n uitgebreide opleidingsprogram gereed om nuwe beheerliggame te help om van dag een af behoorlike besluite binne ’n raamwerk van goeie skoolbeheer en -bestuur te kan neem. Bykans 200 provinsiale sessies word aangebied, met die eerste opleidingsessie wat reeds op 12 Maart begin vir skole wat vroeg verkiesings gehou het. Daar is ook verskeie aanlyn-induksiesessies beskikbaar.

“Die impak wat ’n deeglik opgeleide en goed toegeruste skoolbeheerliggaam op ’n skool en uiteindelik ons kinders se toekoms het, kan nie genoeg beklemtoon word nie,” sê Deacon. 



Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid