Artikel

Limpopo-onderwysdepartement plaas leerders se veiligheid op die spel deur onwettig nóg leerders in oorvol Hoërskool Ellisras te plaas, sê FEDSAS

17/01/2023 - Fedsas


Die skoolbeheerliggaam van die Hoërskool Ellisras gaan vandag die hooggeregshof in Polokwane vra om die provinsiale onderwysdepartement te dwing om nie bykomende leerders by die skool in te skryf nie. Die skool, ’n parallelmediumskool in Lephalale, kan volgens ’n veiligheidsevaluasie net sowat 400 leerders akkommodeer maar het reeds meer as 800 ingeskrewe leerders. Nou wil die provinsiale onderwysdepartement die skool onwettig dwing om nog 44 leerders in te skryf.


“Eerstens is die provinsiale departement se optrede strydig met wetgewing, wat bepaal dat ’n skoolbeheerliggaam toelatings hanteer. Maar in hierdie geval is daar ’n bykomende en selfs dringender aspek – daar is strukturele probleme met die skoolgebou wat vererger word deur oorval klasse,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), wat die skoolbeheerliggaam bystaan in die hofaansoek.


Deacon sê die strukturele uitdagings is reeds na die tragiese gebeure by die Hoërskool Driehoek in 2019 uitgewys. Vier leerders is dood toe ’n brug by dié skool ineengestort het. “Volgens ingenieursverslae is dit dringend dat leerdergetalle by die Hoërskool Ellisras verminder moet word weens die infrastruktuur-uitdagings. Dié verslae word reeds die afgelope drie jaar aan die provinsiale onderwysdepartement voorgelê, maar daar word niks daaraan gedoen nie.”


Deacon sê in Februarie verlede jaar het die provinsiale onderwysdepartement ook sy mag misbruik om bykomende leerders onwettig by die skool te plaas. Eers ná ingryping en mediasie deur die nasionale departement van basiese onderwys het die provinsiale departement van plan verander. Boonop ontken die provinsiale departement nou dat die vergadering ooit plaasgevind het, ten spyte van dokumentêre bewyse.


“Hierdie magsvergryp is maar net nog ’n voorsmakie van wat voorlê indien die voorgestelde wysigings aan skolewetgewing deurgevoer gaan word. Ouers, voogde en gemeenskappe moet van elke geleentheid gebruik maak om kommentaar op die BELA-wetgewing te lewer. Anders is die nagevolge van sulke magsmisbruik elke skool se voorland.”


Deacon sê ná byna drie dekades begryp talle staatsamptenare steeds nie dat daar nie staatskole in Suid-Afrika is nie. “Dit is openbare skole wat deur gemeenskappe bestuur word. In die geval van die Hoërskool Ellisras het die staat dus die gemeenskap versaak en plaas nou kinders se veiligheid op die spel ter wille van ’n politieke agenda.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid