Artikel

Goeie onderwysers én ’n bevorderlike skoolomgewing nou nodig, sê FEDSAS ter viering van Wêreldonderwysersdag

02/10/2023 - Fedsas


Die wêreldwye tekort aan onderwysers neem veral krisisafmetings aan in Afrika suid van die Sahara. In hierdie streek is daar ’n akute tekort aan gekwalifiseerde onderwysers, wat meebring dat miljoene kinders nie toegang tot onderwys het nie. Die fokus van vanjaar se viering van Wêreldonderwysersdag is juis op hierdie tekort en die uitdagings wat die onderwysprofessie in die gesig staar. Wêreldonderwysersdag word jaarliks op 5 Oktober gevier.


“Skoolbeheerliggame is ten nouste betrokke by die aanstel van onderwysers. Om toe te sien dat die beste moontlike opvoeders aangestel word en dat goeie opvoeders behou word, moet dus baie hoog op ’n beheerliggaam se agenda wees. Die gehalte van onderrig is direk verwant aan goeie opvoeders,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole). In Suid-Afrika val Wêreldonderwysersdag in die skoolvakansie en FEDSAS moedig sy lidskole daarom aan om op die eerste Vrydag van die vierde kwartaal, op 13 Oktober, dank aan onderwysers te betoon.


Die Verenigde Nasies se tema vanjaar is “Die onderwysers wat ons benodig vir die onderrig wat ons wil hê”. Die doel van die veldtog is om klem te lê op pogings om eerstens die daling in opvoedergetalle te stop en dan te begin fokus op ’n toename in onderwysergetalle. Die beste advertensie vir die professie is natuurlik onderwysers self en hulle is in die beste posisie om jongmense opgewonde te maak om ook opvoeders te wees.


“Die skoolomgewing het ook ’n belangrike invloed in onderwysers se werksomstandighede. Oorvol klasse, te min hulpbronne en probleme met basiese dienste soos water en elektrisiteit stel groot eise aan onderwysers. Skoolbeheerliggame moet toesien dat onderwysers in ’n veilige omgewing werk, dat hulle professionele vryheid in die klaskamer geniet en in die gemeenskap erkenning kry vir die verskil wat hulle in elke kind se lewe maak,” sê Deacon.


Die potensiële invloed wat die Wetsontwerp op Basiese Onderwyswette, of BELA, op die onderwysomgewing in Suid-Afrika gaan hê, is kommerwekkend. “Indien beheerliggaamfunksies soos die bepaling van taal- en toelatingsbeleid na provinsiale onderwyshoofde verskuif, beteken dit dat veral goeie skole gedwing gaan word om meer en meer leerders te akkommodeer. Goeie skole se kapasiteit is reeds onder skoot en oorvol klasse en die druk op onderwysers se werkslading wanneer hulle bykomende tale moet akkommodeer, is maar van die krisisse op die horison.”


Deacon sê een manier om onderwysers te help, is vir skoolgemeenskappe om betrokke te wees by die verkiesing van sterk skoolbeheerliggame. “Volgende jaar vind die driejaarlikse skoolbeheerliggaamverkiesing weer plaas. Kundige mense met sterk leierseienskappe moet hulself verkiesbaar stel, en ouers en voogde móét stem in hierdie verkiesings.”

Dan is steun vir moontlike regsaksies deur verskeie drukgroepe oor die grondwetlikheid van BELA ook noodsaaklik. “FEDSAS het reeds ’n kundige span aangestel, maar ons skole en skoolgemeenskappe se hulp nodig om die saak tot die einde deur te sien.”


FEDSAS is dankbaar vir elke opvoeder wat ’n verskil in kinders se lewe maak, binne en buite die klaskamer. “Die organisasie se fokus is op gehalte-onderrig, wat net moontlik is wanneer onderwysers al die steun het wat nodig is. FEDSAS se werk is om seker te maak beheerliggame is toegerus om daardie steun te bied.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid