Artikel

FEDSAS baie tevrede met deelname aan SBL-verkiesings

20/03/2024 - Fedsas


Kieserbetrokkenheid by vanjaar se skoolbeheerliggaamverkiesings is merkbaar beter as in vorige verkiesings. 

“Hierdie is werklik demokrasie in aksie. Wat ons lidskole betref, dui alles daarop dat die meeste ouers nóg aan die SBL-verkiesings deelgeneem het sedert die Skolewet in werking getree het,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).

FEDSAS het reeds vroeg in die skooljaar met ’n uitgebreide bemarkingsveldtog begin om bewusmaking te skep rondom die SBL-verkiesings en die belangrikheid van ouers se deelname. “FEDSAS het onlangs ’n blitsopname onder lede gedoen en die terugvoer is baie positief. Ons lidskole is oor die algemeen goed voorberei en dit lyk veral asof beter kiesmetodes deurslaggewend is. Die voldagverkiesings en e-verkiesings is in die meerderheid gevalle met groot sukses gebruik. Daar is min dispute verklaar en die meeste daarvan is vinnig opgelos.”

 Deacon sê in baie gevalle was daar ook heelwat meer nominasies vir kandidate. “Dit wys dat skoolgemeenskappe eienaarskap neem en daarvoor is FEDSAS werklik dankbaar. FEDSAS se werk is om beheerliggame toe te rus maar dit kan net gebeur indien daar ’n behoorlik verkose beheerliggaam by ’n skool is.”

Die beheerliggaamverkiesings vind nog tot einde Maart plaas en daar is steeds geleentheid vir ouers om deel te neem. “Môre (21 Maart 2024) vier ons Menseregtedag. Om aan jou skool se verkiesing deel te neem, is ’n uitstekende geleentheid om by te dra tot ons kinders se reg op gehalte-onderrig. Nie net verseker dit ’n beter toekoms vir ons kinders nie, maar dit dra ook by tot beter gemeenskappe.”

Deacon sê waar beheerliggame reeds verkies is, lê daar nou ’n groot opleidingstaak voor. “FEDSAS se opleiding is kernbelangrik en die hele beheerliggaam en die skool se bestuurspan moet dit saam bywoon. Dit is nie net nuwe lede wat touwys gemaak moet word nie; die nuwe span moet ook saamgesnoer word.”

FEDSAS het ’n uitgebreide opleidingsprogram wat nasionaal en in al die provinsies aangebied word. “Die opleiding is nie beperk tot FEDSAS-lede nie. Nie-lede word aangemoedig om ook te registreer om sodoende ’n goeie grondslag te lê vir die volgende drie jaar se werk.”

Deacon sê terwyl beheerliggaamlede nou met hul werk moet begin, is ouers se taak nie afgehandel nie. “Deelname aan SBL-verkiesings gee ouers die geleentheid gee om direk betrokke te wees by hul kinders se opvoeding, maar deelname aan die algemene verkiesing in Mei vanjaar aan skoolgemeenskappe die geleentheid gee om onderwysbeleid te beïnvloed.”

Vir meer inligting oor FEDSAS se opleidingsprogramme, besoek www.fedsas.org.za 


Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid