Artikel

FEDSAS positief oor gees van samewerking ná eerste amptelike vergadering met nuwe Minister van Basiese Onderwys

01/08/2024 - Fedsas


Erkenning van die rol van skoolbeheerliggame in die sukses van skole is een van die positiewe aspekte van FEDSAS se eerste amptelike vergadering met die nuwe Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube. Die vergadering vorm deel van Gwarube se bekendstelling aan rolspelers in die onderwyssektor.


“FEDSAS het nie met ’n wenslysie by die vergadering opgedaag nie. Ons het FEDSAS en ons dienste aan die minister bekend gestel as deel van ons volgehoue verbintenis tot diens aan die sektor,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole. FEDSAS is verteenwoordig deur Deacon, die organisasie se adjunkhoofde, dr. Juané van der Merwe en mnr. Riaan van der Bergh, asook mnr. George Moroasui, FEDSAS se Nasionale Ontwikkelingsbestuurder.


Deacon sê buiten die minister en haar adjunk, dr. Reginah Mhaule, was senior amptenare van die Nasionale Departement van Basiese Onderwys ook teenwoordig. So ook beheerliggaamorganisasies wat deel vorm van die Nasionale Raadplegende Forum. “Belangrike besluitnemers en rolspelers was saam in een vertrek, wat ’n goeie vertrekpunt vir toekomstige samewerking is.”


FEDSAS se fokus is op die toerus van beheerliggame. Deacon sê dit was dus goed om te hoor dat die minister en haar adjunk die plek van beheerliggame in die onderwysketting na waarde ag, en ook bewus is van die omvang van die taak om alle beheerliggame behoorlik toe te rus. “Minister Gwarube was geskok om te hoor hoeveel wanfunksionele beheerliggame daar is. Haar teiken vir funksionele beheerliggame is 100% en sy het dit duidelik gemaak dat dit net haalbaar is met die steun van beheerliggaamorganisasies soos FEDSAS.”


Deacon sê dit onderskryf die belangrikheid van die werk wat FEDSAS doen. “Ons is dekades al verbind tot hierdie doelwit. Noue samewerking met beheerliggame help die minister en haar departement om te weet wat op voetsoolvlak gebeur. Met FEDSAS se gevestigde netwerk en byna 2000 lede landwyd is ons in ’n uitstekende posisie om te help.”


 Deacon sê FEDSAS het positiewe indrukke van die eerste vergadering en sien uit na ’n goeie werksverhouding. “Dit is nou belangrik om die minister toe te laat om haar voete te vind. Ons sal tydens ons volgende vergadering die operasionele sake hanteer. Intussen gaan die gewone skakeling en vergaderings met senior amptenare voort.”


Belangrike sake wat tans onder bespreking is, sluit in voorstelle oor wysigings aan die tabelle vir die vrystelling van die betaling van skoolfonds, nie-betalings van oordraggelde aan skole, vakante poste en talle uitstaande beleidstukke.
“FEDSAS se werk gaan voort. En soos altyd maak ons erns van strategiese verhoudings tot voordeel van ons lede maar veral tot die bevordering van onderwys in ons land.”

FEDSAS se afvaardiging na die vergadering met die Minister van Basiese Onderwys is, van links na regs, dr. Jaco Deacon (uitvoerende hoof), mnr. George Moroasui (nasionale ontwikkelingsbestuurder), dr. Juané van der Merwe en mnr. Riaan van der Bergh (albei adjunkhoofde).

Onderwysrolspelers het vandeesweek met die Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube (voor, tweede van regs) en haar adjunk, dr. Reginah Mhaule (voor, tweede van links), vergader.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid