Artikel

FEDSAS dien POPI-klag in oor Gauteng-onderwysdepartement

01/07/2021 - Fedsas


'n Klag is teen die Gauteng-onderwysdepartement ingedien nadat die persoonlike inligting van meer as 11 000 leerders, ouers en voogde na bewering onregmatig bekend gemaak is ingevolge die POPI-wetgewing. Volgens die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), wat die klag by die Inligtingsreguleerder ingedien het, is die inligting van leerders, ouers en voogde van die Tshwane-wes-distrik onbeskermd per e-pos na ontvangers van verskeie skole in minstens drie distrikte in Gauteng gestuur.

“Dit het onder ons aangedag gekom dat die inligting afkomstig is van die SASAMS-stelsel, wat deur die staat gebruik word vir skool-administrasie en –bestuur,” sê dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van FEDSAS.

Deacon sê FEDSAS vra al vir bykans 'n jaar dat provinsiale onderwysdepartemente en SASAMS aan die POPI-wetgewing voldoen. “SASAMS is duidelik nie 'n beskermde stelsel nie en bevat die persoonlike inligting van miljoene skoolgaande kinders en hul ouers of voogde. Die doel van POPI is juis om gestalte te gee aan individue se grondwetlike reg op privaatheid deur persoonlike inligting te beskerm.”

Deacon sê dit is kommerwekkend dat so 'n reuse-databasis, boonop een wat deur die staat beheer word, nie voldoen aan die vereistes van die wetgewing nie en amptenare op 'n roekelose wyse die inligting deel. “Instansies het jare gehad om voor te berei. Die Gauteng-onderwysdepartement is veronderstel om bewus te wees daarvan dat die departement, as verantwoordelike party, die plig het om die nodige stappe te neem om inligting in sy besit of onder sy beheer te beskerm en amptenare op te lei.”

Bykomend moet die departement ook, indien dit onder sy aandag kom dat ongemagtigde toegang tot inligting verkry is, die persone wie se inligting uitgelek het, daarvan inlig. FEDSAS kon nie vasstel of dit wel gebeur het nie. “Die inligting sluit onder meer name, adresse, ID-nommers en selfoonnommers is.”

Deacon sê vir alle rolspelers in die onderwyssektor moet kinders se belange altyd die swaarste weeg. “Daar word reeds soveel gedoen om kinders te beskerm. Indien persoonlike inligting van onder andere minderjarige kinders wel onregmatig versprei is, sal dit growwe nalatigheid aan die kant van die Gauteng-onderwysdepartement wees.”

FEDSAS het besluit om die klag teen die departement in te dien juis omdat dat die organisasie reeds herhaaldelike versoeke gerig het dat departemente die nodige stappe neem om inligting te beskerm. “Die wetgewing het nie uit die bloute in werking getree nie. FEDSAS is reeds maande lank besig met opleiding vir beheerliggame om toe te sien dat daar aan die vereistes voldoen word.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid