Artikel

FEDSAS stel handleiding vir skoolbegrotings bekend

29/07/2024 - Fedsas


’n Behoorlike begroting is ’n balanseertoertjie selfs wanneer ruim hulpbronne beskikbaar is. Wanneer die ekonomie egter onder druk is, moet hierdie begrotingstoertjie boonop sonder veiligheidsnette uitgevoer word. Openbare skole is geen uitsondering nie en veral skole wat skoolfonds hef, sukkel om die boeke te laat klop.


“Stygings in die koste van munisipale dienste en die maandelikse vasstelling van die brandstofprys bemoeilik sake vir skole, wat aan jaarlikse begrotings gebind is,” sê mnr. Riaan van der Bergh, adjunkhoof van FEDSAS en bestuurder van die FEDSAS Sentrum vir Finansies en Risikobestuur. FEDSAS het onlangs die Sakpasgids vir Skoolbegrotings bekend gestel om skoolbeheerliggame te help met hierdie proses.


Van der Bergh sê dit is moeilik vir skole om skoolfonds met meer as die gepubliseerde inflasiekoers (VPI) te verhoog. Terselfdertyd styg ander kostes teen ’n hoër koers, wat beteken skole moet noodgedwonge hul besteding op sekere gebiede sny. Wanbetaling van skoolfonds, slegte skuld en ’n styging in aansoeke om vrystelling van skoolfonds maak hierdie toertjie selfs meer ingewikkeld. “’n Blitsopname onder FEDSAS-lidskole dui daarop dat daar vanjaar ’n styging van nagenoeg 15% in onbetaalde skoolfonds is vergeleke met verlede jaar. By baie skole is tot 20% van die skoolfonds oninbaar weens vrystellings.”


FEDSAS se begrotingsgids berus op goeie beginsels vir die begrotingsproses. Van der Bergh sê die groot waarde van die gids lê egter in die bestedingsnorme wat ingesluit is. “Die normgids berus op die bestedingsinligting van meer as 120 skole. Skoolbeheerliggame kan dus hul skool meet aan soortgelyke skole wanneer finansiële besluite geneem word.”


Een van die grootste uitdagings bly die bepaling van skoolfonds. “Daar is ’n fyn balans tussen bekostigbare skoolfonds en waarde vir geld. Elke sent tel dus in besluite oor hoe die beskikbare fondse bestee gaan word.” Die begrotingsgids gee ’n aanduiding van beste praktyk en die verhouding tussen die groot bestedingskategorieë. Onderskeid word getref tussen skole van verskillende groottes, asook tussen laerskole, hoërskole, gekombineerde skole en skole met koshuise.  


Van der Bergh sê FEDSAS se Sentrum vir Finansies het verskeie projekte wat gemik is om skoolbeheerliggame, finansiële beamptes en tesouriers toe te rus. “FinVriende is ’n leergemeenskap met die nuutste inligting oor skoolfinansies. Die sentrum het ook die Sim4Schools-projek wat skole in staat stel om op ’n innoverende manier geld in te samel. Hoe meer inkomstestrome, hoe beter.” Dit is ook belangrik dat skole hul bestedingspatrone voortdurend monitor en aanpas. “Behoeftes verander. ’n Voorbeeld is Robotika en Kodering wat vanaf volgende jaar in die kurrikulum ingesluit word. Dit is noodsaaklik om leerders vir die uitdagings van die 21ste eeu voor te berei, maar daarmee saam kom uitgawes wat nie noodwendig voorheen oorweeg is nie.”
 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid