Artikel

FEDSAS-adjunkhoof maak daadwerklike bydrae met navorsing vir doktorale proefskrif

22/04/2024 - Fedsas


Sosiale geregtigheid vir leerders is slegs moontlik deur samewerking tussen skoolbeheerliggame aan die een kant en die nasionale departement van basiese onderwys en die provinsiale onderwysdepartemente aan die ander kant. Die praktiese uitvoering hiervan is die fokus van FEDSAS se adjunkhoof se doktorale proefskrif. Dr. Juané van der Merwe se doktorsgraad, onder leiding van prof. Mariette Reyneke, is onlangs tydens die Universiteit van die Vrystaat se herfsgradeplegtigheid in Bloemfontein toegeken.

          

“Juané is al tien jaar by FEDSAS en die organisasie is bevoorreg om iemand met haar kundigheid, ervaring en kwalifikasies te hê,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS. Van der Merwe is die hoof van FEDSAS se regsdienste en dien ook op die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Onderwysreg.

          

Van der Merwe sê sy werk daagliks met probleme wat voortvloei uit konflik en ’n magstryd tussen beheerliggame en onderwysamptenare. “Hoewel die Grondwet ’n plig tot samewerking op die partye plaas, is daar nie duidelike riglyne oor wat die omvang van die plig vir elke party is of hoe dit in die gewone handel en wandel van skoolbeheer en -bestuur moet lyk nie.”

          

Haar proefskrif stel omvattende riglyne voor vir meganismes soos betekenisvolle betrokkenheid, gedeelde verantwoordelikhede en die nastreef van ’n gesamentlike doelwit, maatreëls om regstappe te vermy, morele en etiese leierskap en verantwoordbaarheid. “Die begrip ‘samewerking’ word oral rondgegooi maar wanneer dit by die punt van uitvoering kom, is daar gedurig verskille tussen beheerliggame en provinsiale onderwysdepartemente oor elkeen se sfeer van invloed en besluitnemingsmag.”

          

Van der Merwe sê talle van hierdie geskille eindig in regsgedinge. “Bo en behalwe die feit dat regsgedinge tyd en geld kos wat eerder vir die doeleindes van gehalte-onderrig aangewend kon word, verskuif dit die fokus weg van leerders en hul behoeftes.”

          

Deacon sê talle van Van der Merwe se voorstelle word reeds met groot vrug deur FEDSAS gebruik om lede by te staan. “Uiteindelik sal ons graag wil sien dat alle rolspelers inkoop op die riglyne sodat dit geformaliseer kan word as deel van skoolbeheer en -bestuur.”

          

Deacon en die voorsitter van FEDSAS se Nasionale Raad, dr. Shaun Mellors, het Van der Merwe geloof vir haar deursettingsvermoë en ook vir haar visie en die praktiese aard van haar navorsing.


Dr. Jaco Deacon (FEDSAS se uitvoerende hoof), dr. Juané van der Merwe (FEDSAS se adjunkhoof) en dr. Shaun Mellors (voorsitter van FEDSAS se Nasionale Raad).

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid