Artikel

‘Onderwys is die sleutel tot verandering in die samelewing,’ sê FEDSAS ter viering van Wêreldonderwysersdag

10/10/2022 - Fedsas


Globale uitdagings soos die klimaatkrisis, sosiale ongelykhede en gewelddadige konflik plaas telkens weer die fokus op die belangrikheid van onderwys as die enigste manier om hierdie uitdagings die hoof te bied. Om hierby aan te sluit, is vanjaar se tema vir die viering van Wêreldonderwysersdag “Die transformasie van onderwys begin by onderwysers”. Volgens UNESCO het onderwys nog altyd ’n belangrike rol gespeel in die transformasie van die samelewing. Om dus ’n volhoubare toekoms te skep, moet die onderwyssektor self ook transformeer.


“Onderwysers wat opgelei word om aan te pas by verandering gee weer aan leerders die geleentheid om uitdagings as geleenthede te sien,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).


Deacon sê die wêreld het kundiges nou meer as ooit nodig. “Die kenners van die toekoms sit nou op die skoolbanke en hul sukses is afhanklik van gehalte-onderrig. Die sleutel tot daardie gehalte-onderrig is onderwysers. Ons moet dus seker maak dat onderwysers toegang het tot die hulpbronne wat hiervoor nodig is, hetsy toerusting of opleiding. Dit is elke land se plig om toe te sien dat die onderwys-werksmag professioneel en gemotiveer is. As deel van hierdie motivering is dit ook belangrik dat ons hulde bring aan onderwysers wat ’n uitsonderlike bydrae lewer.”


Wêreldonderwysersdag word jaarliks op 5 Oktober gevier. In Suid-Afrika val die datum in die skoolvakansie en word die dag dus voor of ná die skoolvakansie gevier. FEDSAS het dit die afgelope paar jaar op die eerste Vrydag in die vierde skoolkwartaal gevier. “FEDSAS vat vanjaar hande met die ATKV om passievolle onderwysers te vereer. Ons moedig beheerliggame, ouers, leerders en ander belanghebbendes aan om nou al te begin beplan vir die viering van Wêreldonderwysersdag by hul skole. Doen iets spesiaal en lekker!”


Deacon moedig almal aan om sosiale media te gebruik om hulde te bring aan opvoeders wat ’n positiewe impak maak deur die hutsmerk #dankieonnie op FEDSAS se platforms, insluitend Facebook, Twitter, Linkedin en Instagram, te deel.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid