Artikel

Aktiewe deelname aan beheerliggaamverkiesings bemoedigend en word aangemoedig, sê FEDSAS

07/03/2024 - Fedsas


’n Gees van gesonde demokratiese deelname kenmerk vanjaar se skoolbeheerliggaamverkiesings. Dié verkiesings vind elke drie jaar plaas en skole het tot 31 Maart vanjaar om dit af te handel.


“Ons ontvang baie goeie terugvoer van talle van ons lidskole oor gemeenskappe wat baie meer betrokke is as by vorige verkiesings. Dit is wonderlike nuus, veral in die lig van die talle uitdagings wat vanjaar op onderwys wag,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).


Deacon sê dit is duidelik dat al meer skoolgemeenskappe eienaarskap neem. “Dit gee gestalte aan die gees van die Skolewet, wat bepaal dat openbare skole ’n gemeenskapsbate is wat deur ’n gemeenskap bestuur word.”


FEDSAS is steeds besig met ’n uitgebreide bewusmakingsveldtog, nie net om ouers aan te moedig om te stem nie, maar om alle rolspelers bewus te maak van die prosedures en aanvaarbare en toelaatbare aksies en aktiwiteite rondom so ’n verkiesing. “Die beheerliggaamverkiesing is ’n demokratiese proses. Daar is geen plek vir hekwagters, hetsy in persoon of in die vorm van ongeskrewe re?ëls en persepsies oor prosedures nie. Die meeste provinsies het behoorlike verkiesingsregulasies gepubliseer, wat die prosedures en rolle duidelik uiteensit. Skoolleiers se rol in die verkiesing behels kommunikasie oor die proses en vind plaas deur die skool se amptelike kommunikasiekanale. Uittredende beheerliggame se funksies sluit onder meer in om die verkiesingsproses te beplan en daaraan uitvoering te gee. Die proses word afgesluit met ’n behoorlike oordragvergadering saam met die nuwe beheerliggaam.”


Deacon sê in hierdie stadium word aanvaar dat beheerliggame reeds op die datum en formaat van die verkiesing besluit het. “Buiten vir die proseskommunikasie, speel die skool ook ’n belangrike rol in die bemarking van die verkiesing. Die skool moet ook, sodra die kandidate benoem is, al die kandidate op gelyke wyse aan die skoolgemeenskap bekend te stel. FEDSAS verwelkom goeie, gesonde demokratiese prosesse en verkiesings om die beste moontlike leiers vir ons skole te verkies. Goeie skoolleiers sal hierdie energie en momentum positief in belang van hulle skool ontgin.”


Deacon sê aktiewe deelname aan beheerliggaamverkiesings was vir lank afwesig. “Ons is baie bly om te verneem dat ouers en gemeenskappe buite die skool se amptelike strukture kommunikeer, werwing doen en moontlike kandidate voorstel. Dit is belangrik dat ons sterk kandidate nomineer en in groot getalle opdaag om te stem. Dit is per slot van sake hierdie beheerliggame wat met die gevolge van BELAB gaan handel.”


FEDSAS beklemtoon ook weer die belangrikheid van goeie beheerliggaam-opleiding. “Ons versoek ons lede om seker te maak dat die beheerliggaam en bestuurspanne goed toegerus is vir hul taak. FEDSAS het deeglike, beproefde opleidingsprogramme en talle ander hulpbronne om beheerliggame by te staan.”

Vir meer inligting oor die SBL-verkiesing asook FEDSAS se opleidingsprogramme en ander hulpbronne, besoek www.fedsas.org.za

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid