Artikel

SBL-tussenverkiesings: FEDSAS bied steun aan nuutverkose beheerliggaamlede

27/02/2020 - Fedsas


 
Tussenverkiesings om vakatures in beheerliggame te vul, is tans onderweg by talle openbare skole in Suid-Afrika. Vir die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) is dit belangrik om hierdie nuwe beheerliggaamlede te ondersteun sodat die werksaamhede van die beheerliggaam met die minste moontlike ontwrigting kan voortgaan.

“FEDSAS het vanjaar twee groot inisiatiewe geloods om dit vir nuutverkose beheerliggaamlede so gerieflik as moontlik te maak om hul kundigheid te verbreed. Eerstens is daar ? e-leer-kursus wat tot einde Maart beskikbaar is en wat beheerliggaamlede in staat stel om op hul eie tyd en teen hul eie pas die opleiding te voltooi. Dan is die publikasie ? Praktiese handleiding oor skoolbeheer nou ook as ? e-boek beskikbaar in al 11 tale,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Die publikasie is spesifiek gemik op die induksie en opleiding van skoolbeheerliggaamlede.

Deacon sê FEDSAS het verlede jaar die FEDSAS E-leer-platform bekend gestel, waar nuwe kursusse gereeld bygevoeg word. “Die platform word deur FEDSAS se Sentrum vir Tegnologie bestuur en verskeie elemente van FEDSAS se opleidingsmateriaal en publikasies is reeds elektronies beskikbaar.”

Die FEDSAS E-leer-platform vervang nie FEDSAS se primêre opleiding nie, maar dit maak dit wel moontlik vir beheerliggaamlede wat nie die opleidingsessies kan bywoon nie, om steeds toegang tot die materiaal te kry. “Buiten vir die kursus vir nuutverkose beheerliggaamlede, is daar reeds talle ander kursusse beskikbaar vir lede om hul kennis op te knap.”

FEDSAS se Sentrum vir Tegnologie het ook 13 van FEDSAS se publikasies as e-boeke op die Snapplify-platform beskikbaar gestel. “Vir FEDSAS is dit baie belangrik om tred te hou met tegnologiese ontwikkeling en mense se veranderende behoeftes. Aanlyn-publikasies maak inligting maklik bekombaar en bied veral ? goeie alternatief aan beheerliggaamlede in afgeleë gebiede wat andersins sukkel om materiaal in die hande te kry.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid