Artikel

Nuwe FEDSAS-personeellede in Oos-Kaap takel groot onderwysuitdagings

17/02/2017 - Fedsas


Die talle onderwysuitdagings waardeur die Oos-Kaap in die gesig gestaar word, is hoog op die agenda van die twee nuwe personeellede van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) in dié provinsie.

Die nuwe provinsiale bestuurder in die Oos-Kaap, mnr. Bun Hopley, het 35 jaar ondervinding in die onderwys, waarvan die laaste 13 jaar as skoolhoof van die oudste hoërskool in Suid-Afrika, Muir College Boys’ High in Uitenhage. Hopley neem oor by mnr. Abé Smith, wat ná meer as ’n dekade in diens van FEDSAS afgetree het. “Een van die belangrikste funksies van FEDSAS is om leiers van skole en beheerliggame te ondersteun met goeie besluitneming. Dan is daar die Oos-Kaap se groot agterstand in die aanstel van onderwysers, asook die uitdaging om skole van toerusting en leermateriaal te voorsien,” verduidelik Hopley. Hy word bygestaan deur FEDSAS se nuwe adjunk-provinsiale bestuurder, me. Josephine Rodgers, ’n hoërskoolonderwyser wat in haar loopbaan van twee dekades in Kaapstad, Port Elizabeth en die Midde-Ooste klasgegee het. Sy het ondervinding in remediërende onderwys, asook onderwys wat voorsiening maak vir leerders met spesiale behoeftes.
           
Rodgers sê haar fokus is veral op skole in benadeelde gemeenskappe. Buiten al die uitdagings wat ander skole ook in die gesig staar, kan hierdie skole geen fooie hef nie. “Ek glo vas dat ons armoede deur middel van onderwys kan uitwis. Kinders moet van Graad R af aan eersteklas-opvoeding blootgestel word. Dit sluit in kleiner klasse, meer onderwysers en ook onderwysers met beter vaardighede.”
           
“Die Oos-Kaap is ’n groot uitdaging wat onderwys betref,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. “Ons personeel word met die hand uitgesoek om spesifieke uitdagings die hoof te bied. Die nuwe Oos-Kaapse span is geen uitsondering nie. Met hul ervaring en unieke vaardighede is hulle ’n aanwins vir die breër onderwysgemeenskap in hierdie provinsie.”
 


 

 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid