Artikel

Minister van Basiese Onderwys loof FEDSAS vir 25 jaar as ‘betroubare en gerespekteerde onderwysvennoot’; beloof groter fokus op gemeenskapsbetrokkenheid

25/11/2018 - Fedsas


’n Sterk fokus op gemeenskapsbetrokkenheid is ’n sleutelaktiwiteit waaraan die regering en die departement van basiese onderwys tot dusver nie genoeg aandag gegee het nie.

Die Minister van Basiese Onderwys, me. Angie Motshekga, sê beleidsverandering en institusionele herstrukturering was tot dusver die kernfokus van die departement. “Gevolglik het ons nie daarin geslaag om gemeenskappe by basiese onderwys te betrek tot die mate wat nodig is vir openbare skole om suksesvol te funksioneer nie. Daar is steeds ’n groot gaping tussen funksionerende en wanfunksionerede skole.”

Motshekga was die hoofspreker op ’n galadinee ter viering van die 25ste bestaansjaar van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), wat Vrydagaand (23 November 2018) in Bloemfontein plaasgevind het. Motshekga het na FEDSAS as ’n betroubare en gerespekteerde onderwysvennoot verwys en gesê samewerking van hierdie aard is wat nodig is om ouers en die breër skoolgemeenskap by onderwys betrokke te kry. Sy sê die regering het basiese onderwys herprioritiseer as ’n topprioriteit maar dat toegewyde en kundige onderwysleiers nodig is om in hierdie doelwit te slaag.

Motshekga het FEDSAS geloof vir die werk wat die organisasie doen om skoolbeheerliggame, en sodoende skoolgemeenskappe, toe te rus. “Die sukses wat julle behaal het, is ’n bewys dat Suid-Afrikaners kán saamwerk tot voordeel van ons land.”

FEDSAS se nasionale voorsitter, mnr. Erhard Wolf, sê FEDSAS en die departement van basiese onderwys se siening van die belangrike rol van onderwys in ’n ontwikkelende samelewing stem ooreen. “FEDSAS het nog altyd die standpunt gehuldig dat samewerking tussen rolspelers die sleutel is tot sukses. Dit is daarom goed om te hoor dat me. Motshekga hierdie mening met ons deel en waardering het vir FEDSAS se rol.”

FEDSAS se uitvoerende hoof, mnr. Paul Colditz, beaam dat onderwys ’n spansport is. “Wanneer rolspelers op beleid- en bestuursvlak saamwerk, sal samewerking tussen ouers en skoolbeheerliggame asook skole en skoolgemeenskappe die logiese uitvloeisel wees.” Colditz het Motshekga bedank vir die positiewe professionele verhouding wat daar tussen haar departement en FEDSAS bestaan.

“FEDSAS se visie is om gehalte-onderrig in openbare skole te bevorder. Omdat hierdie visie die maatstaf is vir al ons besluite en aktiwiteite, behaal FEDSAS sukses as ’n leier in skoolbeheer en –bestuur en geniet die organisasie die respek van ander onderwysrolspelers. Natuurlik het rolspelers verskillende doelwitte, maar die eindbestemming moet dieselfde wees. Oor die jare het FEDSAS daarin geslaag om aan te pas by verandering sonder om die eindbestemming uit die oog te verloor. Dít sal altyd ons benadering bly,” sê Colditz.
 
FOTO (FEDSAS25): Van links na regs: Mnr. Erhard Wolf (FEDSAS se nasionale voorsitter), me. Lynette Francis (programleier), mnr. Paul Colditz (FEDSAS se uitvoerende hoof), me. Angie Motshekga (Minister van Basiese Onderwys) en dr. Jaco Deacon (FEDSAS se adjunkhoof).
 
(FEDSAS is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 2000 openbare skole is reeds lid van FEDSAS.)

 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid