Artikel

FEDSAS se SBL-opleiding vind groot byval, selfs by onderwysamptenare

10/05/2018 - Fedsas


Skoolbestuur is ’n spanpoging. En te oordeel aan die uitstekende en uiteenlopende bywoning van opleiding van nuutverkose beheerliggaamlede is skoolgemeenskappe besig om in te koop op die idee. Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) bied hierdie opleiding landwyd aan sedert die voltooiing van die driejaarlikse skoolbeheerliggaamverkiesings in Maart vanjaar.
           
“Wat veral verrassend is, is die uiteenlopende aard van die bywoning,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. “Dit is te verwagte dat SBL-lede van FEDSAS-lidskole die opleiding sal bywoon, maar ’n groot aantal skoolbeheerliggame wat nog nie lid is van FEDSAS nie, het op die uitnodiging reageer en ook die opleiding bygewoon. En dan is daar ook heelwat onderwysamptenare wat sessies bywoon.”
           
Deacon sê die bywoning van verskillende onderwysrolspelers vergemaklik skoolbestuur. “As amptenare en SBL-lede aan dieselfde inligting blootgestel is, is alle partye op dieselfde bladsy en vergemaklik dit enige bestuursproses.”
           
Tot dusver het byna 8500 mense landwyd die sessies bygewoon. “Dit oortref reeds die totaal van die vorige ronde opleidingsessies in 2015,” sê Deacon. Opleiding in Gauteng en die Wes-Kaap het pas begin.

“FEDSAS kan die belangrikheid van die opleiding nie oorbeklemtoon nie. Skoolbestuur behels dat SBL-lede deeglike kennis moet dra van bepaalde wetgewing en prosesse rakende die onderwys. Sodoende kan talle probleme, veral rondom beleidsbepaling, voorkom word eerder as dat daar later reaktief opgetree moet word.”
           
Deacon sê terugvoering oor die sessies is positief, met veral nuwe SBL-lede wat baie baat vind by die deeglike uiteensetting van die funksies van ’n beheerliggaam. “Die opleiding is in verskillende tale beskikbaar en FEDSAS probeer die inligting so toeganklik moontlik maak. So byvoorbeeld het meer as 300 SBL-lede van die bergagtige Qwaqwa-omgewing sessies in Sesotho bygewoon. Hierdie omgewing gaan gebuk onder armoede en werkloosheid. Dink net watter waarde dit het vir kinders in hierdie omgewing om gehalte-onderrig te kry. Om ’n omgewing te skep waar leerders toegang tot goeie onderrig het, is uiteindelik die primêre taak van ’n skoolbeheerliggaam.”
           
Deacon sê skoolbeheerliggame wat nie lid van FEDSAS is nie, is steeds welkom om die opleiding by te woon. “Trouens, enige persoon in ’n skoolgemeenskap wat ’n aktiewe rol wil speel, kan FEDSAS kontak vir meer inligting. Skoolbestuur is ’n spanpoging, dit is nie nét die regering of nét die beheerliggaam of nét die onderwysers se plig om onderwys te laat funksioneer nie. ’n Openbare skool behoort aan die onmiddellike gemeenskap waarin daardie skool geleë is – dit is álmal se verantwoordelikheid.”

Vir meer inligting of registrasie, besoek www.fedsas.org.za
(FEDSAS is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 2000 openbare skole is reeds lid van FEDSAS.)

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid