Artikel

FEDSAS-adjunkhoof ontvang tweede wêreldtoekenning vir onderwysleierskap

16/07/2019 - Fedsas


FEDSAS se adjunkhoof, dr. Jaco Deacon, is vir ’n tweede keer vereer met die Wêreldonderwyskongres (World Education Congress, WEC) se hoogste toekenning vir leierskap in onderwys. Deacon het die toekenning vroeër vandeesmaand op die WEC se 19de jaarlikse konferensie in Indië ontvang. ’n Internasionale paneel onderwyskenners wys jaarliks die wenners aan vir uitnemendheid in onderwysleierskap en onderrig. Vanjaar het verteenwoordigers van 32 lande die konferensie bygewoon.
  
“Jaco is die verpersoonliking van uitnemendheid in onderwysleierskap. Nie net is hy ’n kenner van onderwysreg en –bestuur nie, maar sy passie, insig en visie vir onderwys maak van hom die soort leier wat Suid-Afrikaanse onderwys nou nodig het,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS.

“Vir my beteken die toekenning dat FEDSAS se werk ook internasionaal raakgesien word. Nie net was dit vir my ’n voorreg om die organisasie daar te verteenwoordig nie, maar ek is ook trots om ’n verteenwoordiger te wees van ’n organisasie wat so ’n leidende rol speel en ’n beduidende invloed het op veral onderwysbestuur,” sê Deacon.

Vanjaar se WEC-konferensie het ’n sterk fokus gehad op die impak van die vierde industriële revolusie, veral op ontwikkelende lande, die vaardighede wat benodig word vir die 21ste eeu en die gebruik van tegnologie. “Blootstelling aan onderwysleiers uit soveel verskillende lande stel FEDSAS in staat om die organisasie te meet aan die beste in die wêreld. Terselfdertyd is dit ook bemoedigend om te sien dat baie lande worstel met dieselfde uitdagings waarmee Suid-Afrika te kampe het. Dit stel ons in staat om oplossings uit te ruil en die standaard van onderwysbestuur voortdurend te verbeter.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid