Artikel

Beleidsraamwerk gegrond op samewerking,’ sê Ndlebe van Departement van Basiese Onderwys op FEDSAS se algemene jaarvergadering

20/11/2017 - Fedsas


Skoolbeleid van enige aard moet bydra tot die skep van ’n omgewing waar mense voel dat hulle behoort en dat hulle aanvaar en gewaardeer word. In so ’n omgewing is mense in staat om hul volle potensiaal te ontwikkel en dra hulle by tot die welstand en bevordering van die skoolomgewing.
           
Dit was die boodskap van mnr. James Ndlebe, direkteur van onderwysbestuur en beheerontwikkeling by die Departement van Basiese Onderwys. Hy was die gasspreker op die algemene jaarvergadering van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), wat op Saterdag, 18 November 2017, in Bloemfontein plaasgevind het.
           
Die fokus van Ndlebe se toespraak was die rol van beleid in die onderwysomgewing. “Die doelwit van die Departement van Basiese Onderwys is om leerders toe te rus met die bevoegdhede wat nodig is om in die 21ste eeu sukses te behaal. Hierdie bevoegdhede is ’n raamwerk oor kennis en vaardighede wat deur waardes onderskryf moet word,” sê Ndlebe. Die doel van hierdie bevoegdhede is om kinders in staat te stel om onder meer verantwoordelike besluite te neem, sorgsaamheid teenoor hul medemens te ontwikkel, positiewe verhoudings te vestig, asook om uitdagende situasies effektief te hanteer.

“Die hele beleidsraamwerk, vanaf die Grondwet tot en met elke skool se eie visie- en misssiestelling, moet dieselfde oorkoepelende doelwit hê. En hierdie visie, missie en waardes moet aan alle rolspelers van daardie betrokke skoolgemeenskap gekommunikeer word. Dit is al hoe ons kan seker maak dat ons skoolstelsel leerders lewer met ’n goeie selfbewyssyn, ’n deeglike morele kompas en die vaardighede en kennis wat nodig is om die uitdagings van die toekoms aan te pak.”
           
Hierdie siening van beleid, en veral die plig wat dit op onderwysrolspelers plaas om saam te werk, word ook gedeel deur FEDSAS en sy lede. “Wanneer goeie beleid ontwikkel word en diegene wat uitvoering daaraan moet gee, deeglik opgelei word, sal dit vir elke openbare skool moontlik wees om sukses te behaal,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS. “Een van die deurslaggewende aspekte van hierdie benadering tot beleid is egter politieke wil. Dit is baie moeilik vir die beheerliggaam van ’n openbare skool om suksesvolle beheer en bestuur toe te pas indien dit geskied binne ’n omgewing waar beleid nie ontwikkel word met die beste belang van die kind in gedagte nie.”

Colditz sê die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys is ’n voorbeeld van politieke inmenging wat indruis teen alles waarvoor die Grondwet en die Suid-Afrikaanse Skolewet staan. “Hoe kan ’n skool leerders lewer wat voldoen aan die vereistes van die 21ste eeu indien die regering die betrokkenheid van onderwysrolspelers tot die minimum probeer beperk?”
           
Colditz sê FEDSAS het ’n goeie verhouding met die Departement van Basiese Onderwys en het deur die jare waardevolle bydraes tot die onderwysbeleidsomgewing gelewer. “Die organisasie sal dus voortgaan om toe te sien dat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel op só ’n wyse ontwikkel dat gehalte-onderrig in alle openbare skole ’n werklikheid word.”
 
FOTO: Mnr. James Ndlebe, direkteur van skoolbestuur en beheerontwikkeling by die Departement van Basiese Onderwys. Ndlebe was die gasspreker by die algemene jaarvergadering van FEDSAS, wat op Saterdat, 18 November 2017, in Bloemfontein plaasgevind het.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid