Algemene vrae

Algemene vrae


Vraag:

HS Nosob se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Die beheerliggaam het Woensdag verneem dat die Departement vier opvoeders van ? naburige skool na hulle skool sal oorplaas omdat Nosob goeie groei toon en die buurskool op die punt staan om te sluit. Die Departement steun op artikel 8(5). Nosob het ? behoefte aan ten minste drie ekstra poste, wat dringend gevul moet word. Die voorsitter wil weet of die Departement wél vier persone vir drie poste kan stuur en of hulle optrede korrek is.

Antwoord:

Artikel 8(5) van die Wet op Indiensneming van Opvoeders 76 van 1998 bepaal:
“(5) Die Departementshoof kan, sonder ’n aanbeveling in subartikel (2) beoog, ’n opvoeder tydelik vir ’n vasgestelde tydperk verplaas van ’n pos by ’n openbare skool of openbare inrigting vir verdere onderwys en opleiding na ’n pos by ’n ander openbare skool of openbare inrigting vir verdere onderwys en opleiding.”
Die klem is op “tydelik” en “vir ’n vasgestelde tydperk”. Artikel 8(6) lui dan:
“(6) 'n Opvoeder in subartikel (5) bedoel moet na sy of haar vorige pos terugkeer aan die einde van die tydperk in daardie subartikel beoog.”
Die vraag hier is: Hoe kan die onderwysers na hul vorige poste terugkeer indien die skool waar hulle was, gesluit het? Duidelik kan hulle nie, want die poste bestaan nie meer nie.
Oorplasing van opvoeders
Die oorplasing van botallige opvoeders van een skool na ’n ander val onder die Wet op Indiensneming van Opvoeders sowel as Kollektiewe Ooreenkoms 4 van 2016.  ’n Opvoeder kan nie na ’n pos oorgeplaas word sonder dat die pos in ’n oop of geslote Bulletin geadverteer was, en sonder die aanbeveling van die skoolbeheerliggaam nie.
Die Departement kan nie net botallige opvoeders na ’n skool stuur nie, selfs al het daardie skool vakatures. Die voorskrifte van Kollektiewe Ooreenkoms 4 van 2016 moet gevolg word. Daarom moet die skool nie die vier opvoeders aanvaar nie. Sodra die skool sy vakatures in ’n Bulletin geadverteer het, kan daar onderhoude met die vier opvoeders gevoer word en indien die skoolbeheerliggaam reken dat hulle geskik is, kan die beheerliggaam hulle oorplasing by die Departement aanbeveel. Dit is nie die Departement se prerogatief om ’n opvoeder se geskiktheid vir ’n pos te bepaal nie. Slegs die beheerliggaam van die skool kan dit doen.
Bronne
1. Wet op Indiensneming van Opvoeders 76 van 1998
2. Kollektiewe Ooreenkoms 4 van 2016
3. “Kontrolelys vir aanstellings” op die FEDSAS-webtuiste (volg die skakels “Dokumente/Regsopinies/Opvoeders”)
4. FEDSAS v Limpopo Department of Education

Vraag:

LS Nosob se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Die Departement het die skoolhoof opdrag gegee om aan die begin van elke jaar ? batelys aan die Departement te stuur. Die Departement wil ook ? volledige lys van alle skenkings, borge en name van skenkers ontvang. Die skoolhoof voel dat die inligting beskikbaar is en dat die skool niks het om weg te steek nie. Die voorsitter soek dringend raad.

Antwoord:

Vir ’n volledige uiteensetting van die eienaarskap, beheer en administrasie van bates, raadpleeg die dokumente “Finansiële en batebestuur van openbare skole” en “Eiendomsreg van openbare skole”.
Hierdie antwoord gaan van die veronderstelling uit dat die skool die eienaar van die roerende bates is en dit deur die beheerliggaam geadministreer en beheer word.
Artikel 42 van die Skolewet bepaal dat die beheerliggaam rekord moet hou van die skool se bates. Hierdie rekordhouding sal dan uit die aard van die saak die opstel van ’n inventaris impliseer.
Artikel 43(6) bepaal dat die beheerliggaam op die versoek van ’n belanghebbende persoon die rekords waarna artikel 42 verwys, vir inspeksie beskikbaar moet stel. Hierdie rekords sluit dan die inventaris in, en amptenare van die Departement kom uit die aard van die saak in aanmerking as ’n belanghebbende persoon (indien hulle die Departement se ‘belang’ by die inventaris kan bewys, natuurlik).
Let egter daarop dat die beheerliggaam, en nie die skoolhoof nie, verantwoordelik is vir die opstel en byhou van die skool se inventaris. Slegs die beheerliggaam kan hierdie bevoegdheid aan die skoolhoof delegeer, en nie die Departement nie. 
Artikel 58A(1) van die Skolewet bepaal dat die Departementshoof die reg het om ’n inventaris van al die bates van die skool op te stel en te inspekteer.
Hierdie bepaling magtig egter nie die Departementshoof om die bates wat op die inventaris voorkom, te inspekteer of daarop beslag te lê nie. Die Departementshoof mag slegs die inventaris self opstel of, indien een reeds bestaan, dit inspekteer. Geen afskrif van die inventaris wat die skool opgestel het, hoef aan die Departementshoof gestuur te word nie.
Met betrekking tot die lys van alle skenkings, borge en name van skenkers bepaal artikel 59(1) van die Skolewet dat ’n skool inligting beskikbaar moet stel vir inspeksie deur enige persoon in soverre sodanige inligting vir die uitoefening en beskerming van sodanige persoon se regte vereis word. Indien die Departement op hierdie artikel steun, moet hulle bewys dat die inligting oor die skenkers en borge noodsaaklik is vir die uitoefening en beskerming van ’n reg. Dit is te betwyfel of die Departement sodanige reg in verband met inligting oor donateurs en borge sal kan bewys.
Ingevolge artikel 59(2) moet elke skool die inligting oor die skool wat rederlikerwys deur die Departementshoof of die Direkteur-Generaal van die Nasionale Departement van Onderwys in samewerking met die Departementshoof vereis word, voorsien. Hierdie artikel verwys na inligting oor die skool. Die inligting wat die Departement verlang, is egter nie inligting oor die skool nie, maar inligting oor die borge en skenkers. Dit hoef dus nie beskikbaar gestel te word nie. 
Bronne:
Die Suid-Afrikaanse Skolewet
“Skole se verpligting om inligting aan provinsiale amptenare te verskaf”
“Submission of asset register of schools”

Vraag:

HS Nosob se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Die skool is op privaat grond gebou en die eiendom is pas verkoop. Die beheerliggaam is nou baie bekommerd oor die voortbestaan van die skool. Van die skool se ouers beweer dat daar ’n kliniek op die grond gebou gaan word, en ander beweer daar kom ’n motorhawe. Die voorsitter soek dringend raad.

Antwoord:

Die volgende bepalings in artikel 14 van die Skolewet is van belang:
 “14 Openbare skole op private eiendom
(1) Behoudens die Grondwet en ’n onteiening ingevolge artikel 58 van grond of ’n saaklike reg om die eiendom waarop die openbare skool geleë is, te gebruik, kan ’n openbare skool op private eiendom voorsien word slegs ingevolge ’n ooreenkoms tussen die Lid van die Uitvoerende Raad en die eienaar van die private eiendom.
[Sub-a. (1) vervang by a. 2 van Wet 53 van 2000.]
(2) ’n Ooreenkoms in subartikel (1) beoog, moet strook met hierdie Wet en moet in die besonder voorsiening maak vir-
(a) ...;
(b)...;
(c)...;
(d) die sekerheid van okkupasie en gebruik van die eiendom deur die skool;
(e)...; en
(f) die beskerming van die eienaar se regte met betrekking tot die eiendom wat deur die skool geokkupeer, geaffekteer of gebruik word.
(3) Die bepalings van die Wet op die Registrasie van Aktes, 1937 (Wet 47 van 1937), is nie van toepassing op ’n saaklike reg, met uitsluiting van eiendomsreg, wat deur die Staat, ’n openbare skool of ’n ander party verkry word ingevolge ’n ooreenkoms in hierdie artikel beoog nie.
(4) Die reg beoog in subartikel (3) is afdwingbaar teen enige regsopvolger van die eienaar van die betrokke eiendom.
(5) Ondanks subartikel (3) moet ’n registrateur van aktes op die eiendomsakte van die geaffekteerde eiendom ’n endossement aanbring dat die eiendom onderworpe is aan ’n ooreenkoms in hierdie artikel beoog, indien die registrateur in ontvangs is van-
(a) ’n aansoek om sodanige endossement deur die eienaar van die eiendom, of die Lid van die Uitvoerende Raad of enige ander houer van ’n reg beoog in subartikel (3), tesame met die eiendomsakte van die eiendom; en
(b) beëdigde verklarings van die eienaar van die eiendom en die Lid van die Uitvoerende Raad wat verklaar dat ’n ooreenkoms beoog in hierdie artikel gesluit is.
(6) ...
(7) Die Registrateur van aktes kan enige endossement wat ooreenkomstig subartikel (5) aangebring is, kanselleer indien die eienaar van die eiendom ’n beëdigde verklaring deur die Lid van die Uitvoerende Raad van die provinsie waarbinne die openbare skool geleë is, dat sodanige openbare skool ingevolge artikel 33 gesluit is, voorlê.
[Sub-a. (7) ingevoeg by a. 5 (b) van Wet 100 van 1997.]
(8) Enige hereregte, seëlregte, gelde of kostes wat ten opsigte van die registrasie van ’n reg ingevolge subartikel (3) betaalbaar is, kan ten volle of gedeeltelik uit fondse wat vir dié doel deur die provinsiale wetgewer bewillig is, betaal word, maar die openbare skool beoog in subartikel (1) is nie aanspreeklik vir sodanige regte, gelde of kostes nie.
[Sub-a. (8), voorheen sub-a. (7), hernommer by a. 5 (b) van Wet 100 van 1997.]”
 
Daar moet allereers vasgestel word of die LUR en die vorige eienaar ’n ooreenkoms ingevolge artikel 14 het, naamlik dat die openbare skool op die privaat eiendom mag funksioneer. Indien daar wel ’n ooreenkoms is, sal artikel 14(4) van toepassing wees. Deur die ooreenkoms verkry die skool ’n reg om die grond te gebruik en te beset, met ander woorde ’n saaklike reg. Die Registrateur van Aktes moes dit dan ook so aangeteken het. Hierdie saaklike reg is nou ook afdwingbaar teen die volgende eienaar. Die saaklike reg kom slegs tot ’n einde indien die LUR die skool kragtens artikel 33 van die Skolewet sluit. Die Regulasies insake die Minimum Vereistes vir ’n Ooreenkoms tussen die Lid van die Uitvoerende Raad en die Eienaar van die Privaat Eiendom waarop ’n Openbare Skool Geleë is bepaal dan ook dat so ’n ooreenkoms geldig bly solank die skool bestaan. Die ooreenkoms is dus nie afhanklik van die bestaan van die eienaar nie, maar van die skool. Die skool moet dus die LUR in kennis stel van die nuwe verwikkelinge, en die nuwe eienaar van die grond moet ingelig word van die skool se bestaan en die reg om die verskaffing van onderwys op die grond voort te sit. Die LUR moet met die nuwe eienaar ’n ooreenkoms aangaan oor die aspekte in artikel 14(2).
Indien daar nie ’n ooreenkoms tussen die LUR en die eienaar was nie, moet die skool die LUR in kennis stel dat die grond verkoop is. Die LUR moet dan met die eienaar in verbinding tree en ’n artikel 14-ooreenkoms probeer sluit. Hierdie ooreenkoms moet ooreenstem met artikel 14(2) en die bepalings in die Regulasies insake die Minimum Vereistes vir ’n Ooreenkoms tussen die Lid van die Uitvoerende Raad en die Eienaar van die Privaat Eiendom waarop ’n Openbare Skool Geleë is. Indien die eienaar nie ’n  ooreenkoms wil sluit nie, is dit die LUR se plig om alternatiewe geboue of grond vir die skool te vind. Sien die saak Governing Body of the Juma Musjid Primary School v Essay N.O, waarin daar bevind is dat die LUR, en nie die eienaar nie, hoofsaaklik verantwoordelik is vir die beskerming en verwesenliking van die leerders se reg op basiese onderwys. Die eienaar het ’n grondwetlike plig om nie met die leerders se reg op basiese onderwys in te meng of dit te verhinder nie, en moet die LUR ’n redelike tyd gun om alternatiewe planne te bedink.
Bronne:
Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996
Die Suid-Afrikaanse Skolewet, 84 van 1996
Regulasies insake die Minimum Vereistes vir ’n Ooreenkoms tussen die Lid van die Uitvoerende Raad en die Eienaar van die Privaat Eiendom waarop ’n Openbare Skool Geleë is, Staatskoerant 19 Desember 1997 Nr 18566
Governing Body of the Juma Musjid Primary School v Essay N.O CCT 29/10 [2011] ZACC 13  

Vraag:

LS Nosob se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. ’n Amptenaar van die Departement van Vervoer het die skool genader en wil graag die kwessie van ’n skolierpatrollie met die beheerliggaam kom bespreek. Die verkeersvolume in Nosob het die afgelope paar maande drasties toegeneem met gewone verkeer sowel as swaar konstruksie- en weermagvoertuie. Die voorsitter wil nou weet of ’n skolierpatrollie verpligtend is en wie uiteindelik aanspreeklik gehou kan word indien enige skade of verlies daaruit sou voortspruit.

Antwoord:

Om mee te begin, is dit duidelik dat ’n skolierpatrollie nie verpligtend is nie. Artikel 57(5) van die Nasionale Padverkeerswet bepaal soos volg:
“5) In sulke omstandighede en onderworpe aan sulke voorwaardes as wat die betrokke LUR kan bepaal, kan skoliere of studente in patrollies georganiseer word (wat as skolierpatrollies bekend sal wees) ten einde ’n toepaslike padverkeersteken op die voorgeskrewe manier te vertoon om die veiligheid van skoliere of studente wat ’n openbare pad oorsteek, te verseker.” (Vry vertaling)
Dit is dus die skool se besluit of hulle ’n skolierpatrolie wil instel of nie.
Met betrekking tot wie aanspreeklik sou wees vir enige skade of verlies, sal artikel 60 van die Skolewet van toepassing wees, omdat ’n skolierpatrollie as ’n skoolaktiwiteit beskou word. Artikel 60(1) van die Skolewet lui soos volg:
“60 Aanspreeklikheid van Staat
(1) (a) Behoudens paragraaf (b) is die Staat aanspreeklik vir enige deliktuele of kontraktuele skade of verlies wat veroorsaak word as gevolg van enige daad of versuim in verband met enige skoolaktiwiteit wat deur ’n openbare skool bedryf word en waarvoor sodanige openbare skool aanspreeklik sou gewees het by gebrek aan die bepalings van hierdie artikel.”
Die Departement van Onderwys sal dus aanspreeklik wees vir enige skade of verlies wat dalk daaruit kan voortvloei, ongeag of die Departement van Vervoer betrokke is.
Die Personeeladministrasiemaatreëls maak in hoofstuk A, paragraaf 4.1.2.1(d) voorsiening vir opvoeders om skolierpatrolliediens te verrig. Dit is dus nie ‘addisionele werk’ wat opvoeders sal moet verrig nie en geen bykomende vergoeding is dus nodig nie.
Omdat die beheerliggaam ingevolge artikel 20(1)(a) die belang van die skool moet bevorder, sou dit raadsaam wees om met die Departement van Vervoer en die Departement van Onderwys in gesprek te tree en die moontlikhede van ’n skolierpatrollie te bespreek. Die voorsitter moet dus versoek dat die skoolhoof en ’n amptenaar van die Departement van Onderwys die vergadering bywoon.
Vir meer inligting oor die registrasie van skolierpatrollies, die onderskeie partye se rolle en ander inligting, gaan gerus na http://www.arrivealive.co.za/pages.aspx?nc=Scholar_Patrol_Authorisation.

Vraag:

HS Nosob se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Die skool se adjunkhoof is tydelik deur die Departement na ? naburige skool oorgeplaas om as skoolhoof waar te neem. Die adjunk is egter die opvoeders se verkose verteenwoordiger in die beheerliggaam by Nosob. Die voorsitter wil weet of daar nou ’n tussenverkiesing moet plaasvind en of die beheerliggaam tans wel reg saamgestel is.

Antwoord:

Kragtens artikel 8(5) van die Wet op Indiensneming van Opvoeders kan die Onderwyshoof ’n opvoeder tydelik vir ’n vasgestelde tyd van ’n pos by een openbare skool na ’n pos by ’n ander openbare skool oorplaas sonder die aanbeveling van die beheerliggaam (artikel 8(2)). Artikel 8(6) van die wet bepaal voorts dat die persoon wat oorgeplaas word aan die einde van die tydperk na sy of haar vorige pos moet terugkeer.
Die implikasie hiervan is dat so ’n opvoeder nie sy/haar pos by die skool ontruim vir die tydperk wat hy/sy na die ander skool oorgeplaas word nie. Artikel 23(12) van die Skolewet bepaal dat ’n lid van die beheerliggaam van ’n openbare skool sy/haar lidmaatskap van die beheerliggaam verloor indien hy/sy nie meer in die kategorie val waarin hy/sy verkies is nie. Die adjunkhoof het egter nie die pos ontruim nie, en dus is daar geen vakature en ook geen behoefte aan ’n tussenverkiesing nie. Dieselfde argument sou geld indien die adjunkhoof byvoorbeeld met verlof was of afwesig was weens siekte. Die adjunkhoof bly daarom lid van die beheerliggaam, tensy hy/sy bedank. Niks verhoed egter die beheerliggaam om ’n ander opvoeder op die voorgeskrewe wyse in die beheerliggaam te koöpteer indien so ? behoefte sou bestaan nie. (Sien artikel 23(6) van die Suid-Afrikaanse Skolewet.) Die beheerliggaam mag ’n ander opvoeder, wat nie stemreg sal hê nie, in die adjunkhoof se plek koöpteer tot en met die adjunkhoof se terugkeer.  

Vraag:

LS Nosob se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Die skool het verlede jaar ’n geskeide ma van die betaling van skoolgeld vrygestel nadat sy daarom aansoek gedoen het. Sy het onder andere aangevoer dat sy geen kontak met die pa het nie en ook nie weet waar hy hom bevind nie. Die pa het egter teen die einde van November R7 000 se skoolgeld inbetaal. Die ma versoek nou dat die geld aan haar uitbetaal word, omdat daar reeds vrystelling gegee is. Die voorsitter wil weet wat hulle te doen staan.

Antwoord:

Artikel 40(1) van die Skolewet bepaal dat ’n ouer aanspreeklik is vir die betaling van   skoolgeld, tensy en in soverre vrystelling toegestaan word nadat daar by die skool daarom aansoek gedoen is. Vrystelling word ooreenkomstig die bepalings van die  Regulasies vir die Vrystelling van Ouers van die Betaling van Skoolgeld van 2005 hanteer.
Let ook op die regsmening “Geskeide ouers se aanspreeklikheid om skoolgeld te betaal” en  “Implikasies van die Wes-Kaapse skoolgeldvrystellingsaak van 2016” .
Die vraag is of die beheerliggaam op item 7 van die Regulasies kan steun om die ma se vrystelling terug te trek? Die antwoord is nee, omdat die ma se finansiële posisie nie verander het nie, en die beheerliggaam op grond van háár posisie vrystelling verleen het, en nie op grond van albei ouers se finansies nie. Die beheerliggaam was dus nalatig deur nie moeite te doen om albei ouers se inligting aan te vra nie en dus op grond van gebrekkige inligting aan die ma vrystelling te gee. Vrystelling beteken dat die kinders se skoolgeld vir die jaar letterlik afgeskryf word. Toe die beheerliggaam besluit het om vrystelling te gee, het die skuld dus in die geheel verdwyn. 
Die pa is daardeur ook outomaties vrygestel, en die R7 000 moet dus aan hom terugbetaal word. As die pa nie opgespoor kan word nie, kan die skool die geld na die volgende jaar oordra. Die skool sou ook die R7 000 kon gebruik om ’n opsporingsagent aan te stel om die pa in die hande te kry sodat die geld aan hom terugbetaal kan word, of om sy toestemming te kry om die geld vir 2013 se skoolgeld aan te wend (sien ook item 11).
Die R7 000 behoort aan die pa terugbetaal te word, en nie aan die ma nie. Die skool sal dus voortaan baie noukeurig moet kyk na aansoeke, en moet veral aandag skenk aan aansoeke deur sogenaamde enkelouers. 
Daar kan nie geargumenteer word dat dit ’n vrywillige betaling was nadat die aansoek om vrystelling toegestaan is nie: Die pa het immers nie ten tyde van die betaling geweet dat vrystelling toegestaan is nie.  

Vraag:

Die beheerliggaam van  HS Nosob het Dinsdag ’n vergadering gehou waartydens die voorsitter bedank het. Dit is so genotuleer en sy skriftelike bedanking sou volg. Donderdag het hy sy bedanking teruggetrek. Die ‘nuwe’ voorsitter wil nou weet of die vorige voorsitter wel bedank het en of die bedanking geldig was. Die beheerliggaam wil doodseker maak, want die lid is ’n advokaat en ’n vuurvreter.

Antwoord:

Bedanking is ’n eensydige handeling. Sodra ’n bedanking oorgedra (en, soos in hierdie geval, genotuleer) is, is dit finaal. Dit kan nie juis teruggetrek word nie. As ’n werknemer uit sy werk bedank, kan hy die werkgewer vra of hy sy bedanking kan terugtrek. As die werkgewer instem, ontstaan daar eintlik tegnies ’n nuwe werksverhouding, en beteken dit eintlik herindiensneming.
In sommige van die provinsies se regulasies word daar na ’n “skriftelike bedanking” verwys. Dit sou bloot vir bewysdoeleindes wees. Die bedoeling van die partye is deurslaggewend, en die bestaan van ? genotuleerde besluit (voor getuies) behoort voldoende te wees om aan dié vereiste te voldoen.
As ’n mens bedank uit ’n pos waartoe jy verkies is, soos dié van verkose beheerliggaamlid, ontstaan daar ’n vakature. Daardie vakature kan nie by wyse van instemming gevul word nie, maar slegs deur middel van die voorgeskrewe proses. Dít beteken dus koöptering vir hoogstens 90 dae en ’n tussenverkiesing.

Vraag:

Die beheerliggaamvoorsitter van LS Nosob bel u vir advies. Dit is nou presies ’n jaar sedert die beheerliggaamverkiesing plaasgevind het. Die Departement het die skoolhoof opdrag gegee om seker te maak dat nuwe ampsdraers verkies word.

Antwoord:

Artikel 31 van die Skolewet bepaal soos volg:
“31.   Ampstermyn   van   lede   en   ampsdraers   van   beheerliggame.
(1)  Die ampstermyn van ’n lid van ’n beheerliggaam wat nie ’n leerder is nie, mag nie drie jaar te bowe gaan nie.
(2)  Die ampstermyn van ’n lid van ’n beheerliggaam wat ’n leerder is, mag nie een jaar te bowe gaan nie.
(3)  Die ampstermyn van ’n ampsdraer van ’n beheerliggaam mag nie een jaar te bowe gaan nie.
(4)  ’n Lid of ampsdraer van ’n beheerliggaam kan herverkies of gekoöpteer word, na gelang van die geval, ná verstryking van sy of haar ampstermyn.”
Die belangrike aspek is dat daar ? verkiesing van ampsdraers moet wees, maar dit hoef nie noodwendig ‘nuwe’ ampsdraers te wees nie. Die beheerliggaam besluit self oor kontinuïteit en opvolgingsbeplanning, en sal die bepalings van die wet uitvoer sonder dat die Departement die skoolhoof daaraan hoef te herinner.

Vraag:

Die beheerliggaamvoorsitter van HS Nosob bel u vir advies. Die Departement het die skoolhoof op die laaste dag van die kwartaal in kennis gestel dat hulle die skoolsaal gedurende die vakansie vir KABV- (“CAPS”-)opleiding sal gebruik. Die skool moet sorg dat dit daagliks oop-/toegesluit word, skoongemaak word, en dat kleedkamers beskikbaar is. Die skoolhoof en personeel is egter nie die vakansie in Nosob nie, en die beheerliggaam wil weet of die skool enige plig het.

Antwoord:

Artikel 20(1)(g) van die Skolewet bepaal soos volg:
“(1) Behoudens hierdie Wet moet die beheerliggaam van ’n openbare skool-
(g) die skool se eiendom, asook die geboue en gronde deur die skool beset, met inbegrip van koshuise, administreer en beheer, maar die uitvoering van hierdie bevoegdheid moet op geen manier met die implementering van ’n besluit wat die Lid van die Uitvoerende Raad of Departementshoof ingevolge enige reg of beleid geneem het, inmeng of dit andersins belemmer nie; ...”
Artikel 20(1)(k) lui:
“(1) Behoudens hierdie Wet moet die beheerliggaam van ’n openbare skool-  (k) op versoek van die Departementshoof, die redelike gebruik van die fasiliteit van die skool vir opvoedkundige programme wat nie deur die skool aangebied word nie, in regverdige omstandighede soos deur die Departementshoof bepaal, toelaat.”
Eerstens is dit duidelik dat die beheerliggaam die reg het om te besluit wie die skoolterrein betree en gebruik. Die Departementshoof se besluit om die skool se saal te gebruik, kom egter nie in aanmerking as ’n besluit soos wat artikel 20(1)(g) bedoel nie, omdat dit nie ingevolge enige reg of beleid geneem is nie.
Artikel 20(1)(k) bepaal egter dat die beheerliggaam die gebruik van die skool se fasiliteite op die Departementshoof se versoek moet toelaat, mits dit vir die aanbieding van opvoedkundige programme is en in regverdige omstandighede geskied. Dit is aanvegbaar of KABV-opleiding as ’n opvoedkundige program beskou word; dit is dalk opvoedkundig van aard vir die opvoeders wat dit bywoon. Die omstandighede waarin die versoek gerig is, is egter nie regverdig nie. Die Departementshoof moes die skool/beheerliggaam redelike tyd gegun het om die fasiliteite reg te kry, sowel as om ’n personeel- of beheerliggaamlid te reël om oop en toe te sluit. Omdat die beheerliggaam in beheer is van die skoolterrein kan die beheerliggaam besluit om nie ’n ander persoon toe te laat om oop en toe te sluit nie. Daar rus dus geen plig op die skool nie.
Die volgende aspek wat hanteer moet word, is koste. Die Departement moet betaal vir die uitgawes wat aangegaan word, en die skool kan nie bloot as borg vir die Departement optree nie. Daar behoort ’n behoorlike huurooreenkoms en ’n ooreenkoms vir ander uitgawes te wees.
Sien ook “Openbare skole se regte t.a.v. vaste eiendom” op die webblad.

Vraag:

Die beheerliggaamvoorsitter van LS Nosob bel u vir advies. Die voorsitter het ’n skrywe van die Onderwysdepartement ontvang waarin ál die lede van die beheerliggaam aangesê word om ’n vorm in te vul waarin alle persoonlike belange verklaar word. Hierdie vorm vereis dat lede inligting bekend maak oor al hulle aandele of ander finansiële belange, direkteurskappe of vennootskappe, besoldigde werk verrig, konsultantewerk verrig of geskenke wat hulle van enige persoon buiten ’n familielid ontvang het gedurende hul diens in die beheerliggaam. Die voorsitter wil weet of die lede die vorms moet invul.

Antwoord:

Artikel 26 van die Skolewet bepaal dat ’n lid van ’n beheerliggaam hom aan die beheerliggaam moet onttrek vir die duur van die bespreking van en besluitneming oor enige aangeleentheid waarby die lid ’n persoonlike belang het.
Artikel 14 van die Grondwet waarborg die reg op privaatheid. Hierdie vorm maak wesenlike inbreuk op individue se reg op privaatheid. Die inligting oor beheerliggaamlede wat in die verklaring-/onthullingsvorm versoek word, hou merendeels geensins verband met ’n potensiële belangebotsing tussen individuele lede van beheerliggame en die skool nie.
Hou in gedagte dat lede van beheerliggame nie vir hulle diens in beheerliggame vergoed mag word nie en dat die diens vrywillig verrig word. As potensiële ouerlede van beheerliggame vooraf bewus sou wees dat hulle persoonlike inligting op so ’n wyse aan ’n ieder en elk beskikbaar gestel sal word, sal hulle eenvoudig weier om hulle vir diens in beheerliggame beskikbaar te stel. Sodoende sal broodnodige kennis, ervaring en kundigheid vir hierdie belangrike taak verlore gaan.
Artikel 26 van die Skolewet is voldoende vir die openbaarmaking van inligting om persoonlike belange te verklaar.
Die lede moet dus nie die vorms invul nie.
Bronne:
Die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996
Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996
“Skole se plig om inligting aan provinsiale departemente te verskaf”

Vraag:

Die voorsitter van Stuurman Primêre skool skakel u vir advies.  Hul wil weet of die graad R ouers ook mag stem in die beheerliggaamverkiesing en of hul name ook op die kieserslys moet verskyn? 


Antwoord:

In artikel 1 omskryf die Suid-Afrikaanse Skolewet ? skool as “? openbare skool of ? onafhanklike skool wat leerders in een of meer grade van graad A (Aanvang) tot graad 12 inskryf”.

In die geval waar graad R ten volle deel uitmaak van die skool – dit word glad nie apart/privaat bestuur deur die beheerliggaam nie maar kry ook van die Departement hulp in die vorm van poste of toelaes, sal al die ouers op die toelatingsregister van die skool dus aan die verkiesing kan deelneem en is verkiesbaar in die beheerliggaam.

Die getal leerders in graad R word as deel van die totale getal leerders gereken wat die grootte van die beheerliggaam sal bepaal asook die kworum wat tydens die verkiesing behaal moet word. 

Vraag:

Die Voorsitter van Stuurman Primêre Skool wil weet of die Graad R en RR opvoeders en asisstente mag deelneem aan die beheerliggaamverkiesing en indien wel in watter kategorie van die BL mag hul dien? 

Antwoord:

The SA Schools Act contains the following provisions regarding educators:

Definitions

'educator' means any person, excluding a person who is appointed to exclusively perform extracurricular duties, who teaches, educates or trains other persons or who provides professional educational services, including professional therapy and education psychological services, at a school;

'school' means a public school or an independent school which enrols learners in one or more grades from grade R (Reception) to grade twelve;

Section 20 

20(4) Subject to this Act, the Labour Relations Act, 1995 (Act 66 of 1995), and any other applicable law, a public school may establish posts for educators and employ educators additional to the establishment determined by the Member of the Executive Council in terms of section 3 (1) of the Educators' Employment Act, 1994.

20(5) Subject to this Act, the Labour Relations Act, 1995 (Act 66 of 1995), and any other applicable law, a public school may establish posts for non-educators and employ non-educator staff additional to the establishment determined in terms of the Public Service Act, 1994 (Proclamation 103 of 1994).

Section 20 (7) A public school may only employ an educator in a post established in terms of subsection (4) if such educator is registered as an educator with the South African Council of Educators.”

To serve on the SGB in the educator component the following requirements must be met:

  1. The person must be appointed as an educator in terms of the South African Schools Act, with specific reference to the Employment of Educators Act and Basic Conditions of Employment Act.
  2. The person must be appointed as an educator for any grades R to 12.
  3. The person must be registered as an educator with SACE.
  4. Staff who are appointed to exclusively perform extracurricular duties are excluded to serve on the Educator component of the SGB (depending on circumstances these employees may serve on the non-educator component).  

Vraag:

Die hoof van die Primêre Skool Vissersvallei bel jou vir advies. Talle ouers het in 2020 gekies om hulle kinders uit die skool te haal en tuis te onderrig. Dieselfde ouers nader nou die skool met die versoek dat die leerders toegelaat word om aan die skool se kultuur- en sportaktiwiteite deel te neem. Die hoof wil graag weet of die skool verplig is om dié “gasheerfunksie” te verskaf aan leerders wat vir tuisonderrig geregistreer is.

Antwoord:

Artikel 16(2) van die Skolewet is hier van belang. Dit lui: “’n Beheerliggaam staan in ’n vertrouensposisie teenoor die skool.” Dié bepaling beteken dat ’n SBL te alle tye in die skool se belang moet optree. ’n SBL is natuurlik ook ’n statutêre liggaam wat sy bevoegdhede in ooreenstemming met die bepalings van die Skolewet uitoefen.


Die meeste SBL-werksaamhede word in artikel 20 van die Skolewet saamgevat. Artikel 20(1) lui byvoorbeeld soos volg: “Behoudens hierdie wet moet die beheerliggaam van 'n openbare skool ... (a) die beste belange van die skool bevorder en poog om die ontwikkeling daarvan te verseker deur die voorsiening van onderwys van gehalte aan alle leerders in die skool ...” (eie onderstreping).


Indien ’n SBL van ’n openbare skool sou voorsiening maak vir die “gasheerfunksies” waarna die vraag verwys, sal dít beteken dat:

  • die SBL sy vertrouensposisie teenoor die skool skend; 
  • die skool se belange nie bevorder word nie; en
  • die SBL nie juis die voorsiening van onderwys van gehalte aan alle leerders in die skool bevorder nie.


Die toelating van tuisgeskoolde leerders by die sport- en kultuuraktiwiteite van die skool kan ’n SBL in ’n ernstige verknorsing laat beland wat betref sy vertrouensverhouding met die skool, en sy plig om die skool se belange te bevorder. Leerders is een van die samestellende komponente van ’n openbare skool, wat kragtens artikel 15 van die Skolewet ’n regspersoon is. 


Indien ingeskrewe leerders boonop uit sportspanne en sport- en kultuuraktiwiteite weggelaat sou word om vir tuisgeskoolde leerders plek te maak, skend die SBL beslis sy vertrouensverhouding met die skool en versuim om in die skool se belang op te tree.


Vir ? volledige antwoord op die vraag, raadpleeg die regsmening getiteld: “Gasheerfunksie van openbare skole” by hierdie skakel.

Vraag:

Die hoof van die Primêre Skool Marshall Meadow bel jou vir advies. Hulle is raadop om openlike faksiestemwerwing voor die SBL-verkiesing te probeer keer.


Byvoorbeeld:

  • Die dame aan die stuur van die skool se ouer-onderwyser-vereniging het ’n WhatsApp versprei waarin sy die verskillende groepe vra om vir sekere mense van haar kerk te stem, onder meer haar geliefde eggenoot.
  • ’n Huidige SBL-lid deel sy stemwerwingsvideo met ouers op verskeie sosialemediaplatforms.


Hoewel niks hiervan waarskynlik tegnies onwettig is nie, kom die etiek daarvan verdag voor.

Antwoord:

Skole is afhanklik van die ondersteuning van die skoolgemeenskap, en veral van die leiers in daardie gemeenskap. Ouers kan met hulle geesdrif, kennis en kundigheid ? geweldige groot bydrae lewer tot suksesvolle skole. Dít kan egter net gebeur as daardie ouers hulle verkiesbaar stel vir die SBL, of minstens in die SBL-verkiesing stem. Openbare skole is in wese organe van die burgerlike samelewing, en behoort daarom deur demokraties verkose organe van die burgerlike samelewing beheer te word. 


Niks verhoed individue om stemme te werf nie. In die praktyk word daar op velerlei wyses en op verskillende platforms vir sekere kandidate voorbrand gemaak. Wanneer een persoon/groep hulle saak aan die ouers stel, moet dit egter nie ten koste en tot nadeel van ’n ander wees nie. Almal wat aan die kriteria voldoen, het immers ’n gelyke kans om in die beheerliggaam verkies te word. Boonop is daar verkiesingsregulasies wat die hele proses reguleer en wat streng nagekom moet word om ’n verkiesing vry en regverdig te verklaar. Ouers/groepe moet dus op ’n billike en deursigtige manier stemme werf wat nie tot moontlike geskille kan aanleiding gee nie.


Let daarop dat sodra iemand in die SBL verkies word, daardie persoon die skool in die geheel verteenwoordig, al het die lid dalk voor die verkiesing onder ’n bepaalde groep stemme gewerf. Artikel 16(2) van die Skolewet stel dit duidelik dat SBL-lede in ’n vertrouensposisie teenoor die skool staan, en dus te alle tye in die skool se belang moet optree. Na hulle verkiesing verteenwoordig ouers nie meer ouers nie; opvoeders verteenwoordig nie meer opvoeders nie; leerders verteenwoordig nie meer leerders nie, en die skoolhoof verteenwoordig nie die onderwysowerhede in die SBL nie. Elke lid moet altyd in die hele skool se belang optree. 


Wanneer lede hierdie vertrouensplig ten volle begryp, het dit ’n kragtige effek. Indien SBL-lede egter glo dat hulle ten alle koste die belange moet bevorder van diegene wat hulle verkies het, is mislukking die SBL se voorland. Dan word die SBL ’n strydtoneel vir groepbelange en ly die skool sonder uitsondering daaronder.


Vraag:

Die voorsitter van Vosvlaktes Hoërskool bel jou vir advies. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het die skool genader met ’n versoek om die skool se fasiliteite vir gebruik as ’n stemlokaal beskikbaar te stel. Wat is die skool se regte en verpligtinge indien hulle toestem?

Antwoord:

Kragtens artikel 20(2) van die Skolewet kan die SBL die redelike gebruik van die fasiliteite van die skool vir gemeenskaps-, sosiale en skoolfondsinsamelingsdoeleindes toelaat, onderworpe aan sodanige redelike en billike voorwaardes as wat die SBL kan bepaal, wat die heffing van fooie of tariewe ten bate van die skool kan insluit.  


Indien die OVK ? skool versoek om sy fasiliteite as ’n stemlokaal beskikbaar te stel, moet die skool en die OVK ? ooreenkoms aangaan. Die ooreenkoms moet bepaal dat die OVK die perseel vir die registrasietydperk (waar van toepassing) en/of vir stemming en die tel van stemme benodig, en watter huurtarief die OVK aan die skool sal betaal. Let daarop dat die provinsiale Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) ooreenkomstig artikel 36(4) van die Skolewet moet goedkeuring verleen vir die verhuring van die skool se eiendom.   


Versekering


Die skool moet op eie onkoste toesien dat die perseel en die skool se toerusting op die perseel te alle tye en teen alle risiko’s verseker is. Die versekeraar(s) moet ook in kennis gestel word van die huurooreenkoms en die voorgenome gebruik van die perseel as ’n registrasie- en/of stemlokaal vir die verkiesing. Die skool sal geen eis of vorderingsreg teen die OVK hê vir enige skade, verlies, rente, koste, uitgawes of enigiets dergeliks ten opsigte van die versekerde perseel en toerusting nie. Die skool sal ook nie deur artikel 60 van die Skolewet gedek word nie omdat die skoollokaal nie vir ? skoolaktiwiteit gebruik word nie. 


Vertoon van plakkate, baniere, ensovoorts


Wat die vertoon van verkiesingsplakkate van politieke partye betref, is artikel 33A van die Skolewet belangrik, veral met betrekking tot die aanloop tot verkiesingsdag. Hierdie artikel bepaal dat geen partypolitieke aktiwiteite by ’n skool mag plaasvind gedurende die skooltye wat die SBL van die skool bepaal nie. Partypolitieke aktiwiteite sluit onder meer in:

  • veldtogvoering;
  • die hou van byeenkomste;
  • die verspreiding van pamflette en strooibiljette; en
  • die hang of opsit van plakkate en baniere.


Artikel 33A gaan verder en bepaal spesifiek dat ’n skool ook nie mag toelaat dat materiaal van ’n partypolitieke aard op sy terrein vertoon word nie, tensy dit met die skoolkurrikulum verband hou. Hierdie verbod is by implikasie sowel gedurende as buite skooltyd van toepassing. Die skoolterrein sluit ook die heinings rondom die skool in, en enige eiendom wat aan die skool behoort. Daar bestaan egter geen sodanige verbod met betrekking tot plakkate, baniere en ander materiaal van die OVK nie, en die SBL kan dus die redelike vertoon van OVK-materiaal gedurende stemdag toelaat.


Partypolitieke aktiwiteite


Boonop mag geen lid van ’n politieke party inbreuk maak op skooltyd om partypolitieke aktiwiteite te bedryf nie. Die verbod op partypolitieke aktiwiteite gedurende skooltyd impliseer dat sodanige aktiwiteite egter wel búite skooltyd op die skoolterrein mag plaasvind. Die SBL het egter beheer oor die skoolterrein en kan dus hieroor besluit. 


Nogtans bepaal artikel 108 van die Kieswet 73 of 1998 soos volg: 


“Verbod op sekere politieke aktiwiteite. 

Op stemdag mag geen persoon —

(a) enige politieke vergadering, optog, betoging of ander politieke geleentheid hou of daaraan deelneem nie; of

(b) in die gebied binne die grens van ’n stemlokaal aan enige politieke aktiwiteit, behalwe die uitbring van ’n stem, deelneem nie.”


Op stemdag self mag geen partypolitieke aktiwiteite dus op ’n skoolterrein wat as ? stemlokaal dien, plaasvind nie, selfs al val dit buite skooltyd. 


Uiteindelik moet SBL’e onthou dat húlle vir die administrasie en beheer van die skoolterrein verantwoordelik bly en dus met die nodige sorg en in die skool se belang moet optree.


Vraag:

Jy ontvang die volgende e-pos van die voorsitter van Aphane-akademie, ’n onafhanklike skool. “Ek sien geen verwysing in die Skolewet na onafhanklike skole, die invordering van skoolgeld en die opheffing van kontrakte weens niebetaling nie. Kan jy my asseblief sê watter wetgewing handel oor onafhanklike skole en skoolgeld?”

Antwoord:

Soos die hof in Mlawuli v St Francis College bevestig het, verrig onafhanklike skole nie ’n openbare werksaamheid nie en is hulle verhouding met ouers kontraktueel. Die betaling van skoolgeld by onafhanklike skole is derhalwe nie ’n statutêre verpligting nie, maar ’n kontraktuele een (wat onder ’n kontrak val, en nie onder die Skolewet nie). By onafhanklike skole kom ouers se versuim om skoolgeld te betaal dus op kontrakbreuk neer. Die invordering van skoolgeld behoort daarom teen hierdie agtergrond te geskied.


Die aangeleentheid van NM v John Wesley School het gegaan oor ’n onafhanklike skool se beleid wat leerders uitsluit indien ouers kontrakbreuk pleeg deur nie skoolgeld te betaal nie. Die hof het gesê die beleid self is nie onwettig nie, maar enige besluit: 

  • moet redelik wees;
  • moet die kind se reg op onderwys respekteer;
  • moet in die kind se belang wees; en
  • moet prosedureel billik wees.


’n Samevatting van hierdie saak is op die FEDSAS-spanskyf te kry – klik hier vir toegang. Raadpleeg ook die uitspraak in AB v Pridwin Preparatory, wat handel oor die opheffing van die ooreenkoms tussen ouers en ’n onafhanklike skool weens die ouers se gedrag.

Vraag:

Die voorsitter van die Tegniese Skool Dikana bel jou vir advies. Hulle het ’n brief van ’n lid van die ANC-jeugliga (ANCYL) ontvang waarin die jeug daarop aandring dat alle aankope gedoen en alle dienste verkry word van ’n maatskappy wat op die ANCYL-databasis in die bepaalde wyk verskyn. Hulle versoek ook ’n dringende vergadering met die SBL en dreig met radikale optrede as die skool nie aan hulle eise gehoor gee nie.

Antwoord:

Die beste benadering is om die jeugleiers na die skool te nooi om hulle versoek te bespreek. Luister eers na hulle argumente en verduidelik dan die volgende:


Hoe voorkeurverkryging by die skool werk, en die implikasies van die Mededingingswet  


Verduidelik dat skole wetlik verplig is om ’n mededingende mark te verseker, en aan die Wet op Mededinging 89 van 1998 moet voldoen. Skole moet hulle bedingingsvermoë gebruik om die beste transaksies te bekom. Dít sluit in:

  • om ’n aantal moontlike verskaffers te nader om die mededingendste tariewe te kry;
  • om ’n mededingende tenderproses te volg; en
  • om ’n verskaffer (of verskaffers) te kies op grond van duidelike en objektiewe kriteria, soos die laagste prys vir die gepaste gehalte.


Wanneer die SBL goedere en dienste deur middel van tenders of kwotasies verkry, verrig hulle ’n openbare werksaamheid namens die skool. Die SBL moet dus aan die beginsels in artikel 33 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, en die bepalings van die Wet op Bevordering van Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 voldoen. Dít bepaal dat almal geregtig is op regmatige, redelike en prosedureel billike administratiewe optrede. Die SBL mag nie enige kwotasie of tender aanvaar waarvoor daar nie voorsiening gemaak word in die skool se begroting wat ’n meerderheid van ouers by ’n vergadering ingevolge artikel 38(2) van die Skolewet aanvaar het nie. Onderstreep ook dat enige persoon vir dienslewering aan die skool kan tender, en dat die skool hulle sal laat weet wanneer nuwe tenders uitgereik word. 


Die verskaffing van dienste of produkte deur die Departement van Basiese Onderwys 


Indien enige van die produkte of dienste waarna die jeugleiers se brief verwys deur die Departement van Basiese Onderwys voorsien word, moet dít aan die jeug uitgewys word. 


Personeel in diens geneem 


Indien die Departement enige personeellede in diens geneem het om enige van die gelyste dienste te lewer, moet dít ook uitgewys word. 


Artikel 21-werksaamhede  


Indien die bevoegdhede in artikel 21(a), (c) en (d) nie aan die skool toegewys is nie, kan dít gewoon aan die jeugliga uitgewys word. Sonder daardie bevoegdhede mag die SBL nie handboeke, opvoedkundige materiaal of toerusting aankoop of vir dienste betaal nie. In so ’n geval kan die jeugleiers eenvoudig na die provinsiale onderwysdepartement verwys word.

Vraag:

Die voorsitter van Knoetze-kollege bel vir advies. Hy wil graag weet hoe hulle te werk moet gaan om te sorg dat hulle skool aan die vereistes van die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting 4 van 2013 (POPIA) voldoen.

Antwoord:

POPIA het op 1 Julie 2021 in werking getree. Om alles gereed te kry om aan die vereistes van die wet te voldoen, besoek gerus FEDSAS se webtuiste by www.fedsas.org.za en laai die POPIA-toerustingspakket af. Bestudeer eerstens die “Praktiese gids vir die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA)”. Kry dit onder “Dokumente” > “POPIA”. Hierdie gids bied ’n stapsgewyse aksieplan vir voldoening aan POPIA en dien as ’n praktiese bekendstelling aan die POPIA-toerustingspakket. Die pakket bevat al die beleide, kontrakte, vorms en dokumente wat die skool sal nodig kry om aan POPIA te voldoen.

Vraag:

Hoërskool Muller se SBL-voorsitter bel jou vir advies. Die Departement het die SBL in kennis gestel dat drie opvoeders van ’n buurskool, wat op die punt staan om permanent te sluit, ingevolge artikel 8(5) van die Wet op die Indiensneming van Opvoeders oorgeplaas sal word. Hoërskool Muller het ten minste drie vakatures wat dringend gevul moet word. Die voorsitter wil weet of die Departement sonder meer drie persone vir drie poste mag stuur.

Antwoord:

Die personeellede van die buurskool sal botallig verklaar en dus herontplooi moet word. Die regsraamwerk oor die herontplooiing van botallige opvoeders is soos volg:


Wet op die Indiensneming van Opvoeders 76 van 1998 (Indiensnemingswet)


Onderwysaanstellings val onder artikel 6(3)(a) van die Indiensnemingswet, wat soos volg bepaal: “[E]nige aanstelling, bevordering of oorplasing in of na enige pos op die diensstaat van ’n openbare skool [kan] ... slegs op aanbeveling van die beheerliggaam van die openbare skool ... gedoen word, en indien daar opvoeders in die betrokke provinsiale onderwysdepartement is wat as gevolg van operasionale vereistes meer is as die diensstaat vir opvoeders van ’n openbare skool ... kan sodanige aanbeveling gedoen word slegs uit kandidate deur die Departementshoof geïdentifiseer, wat botallig en vir die betrokke pos geskik is.”


Onderwysoorplasings val onder artikel 8, wat vir die volgende voorsiening maak:


  • Artikel 8(2): Die permanente oorplasing van opvoeders tussen twee skole, op aanbeveling van die SBL van die ontvangerskool. Nietemin moet hierdie artikel in samehang met artikel 8(4) gelees word, wat bepaal: “’n Aanbeveling in subartikel (2) beoog, moet gedoen word binne twee maande vanaf die datum waarop ’n beheerliggaam of -raad versoek is om ’n aanbeveling te doen, en by gebreke daarvan kan die Departementshoof ’n verplasing doen sonder die aanbeveling.”


  • Artikel 8(5): Die tydelike oorplasing van ’n opvoeder van ’n pos by die een skool na ’n pos by ’n ander skool, vir ’n vasgestelde tydperk, sonder die aanbeveling van die SBL van die ontvangerskool. Nogtans moet artikel 8(5) in samehang gelees word met artikel 8(6), wat bepaal: “’n Opvoeder in subartikel (5) bedoel moet na sy of haar vorige pos terugkeer aan die einde van die tydperk in daardie subartikel beoog.”


Skolewet


Ingevolge artikel 20 moet die beheerliggaam van ’n openbare skool “die beste belange van die skool bevorder en poog om die ontwikkeling daarvan te verseker deur die voorsiening van onderwys van gehalte aan alle leerders in die skool” (artikel 20(1)(a)) en “die aanstelling van opvoeders by die skool by die Departementshoof aanbeveel” (artikel 20(1)(i)). 


Resolusie 4 van 2016 van die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (RAVO)


Paragraaf B6.5.1 tot 6.5.5 van Resolusie 4 van 2016 bepaal kortliks soos volg:


  • ’n Botallige opvoeder kan ingevolge artikel 8 van die Indiensnemingswet oorgeplaas word na ’n ander pos wat by sy/haar vaardighede pas.
  • ’n Permanente oorplasing kan slegs op die SBL se aanbeveling gedoen word (artikel 6.3 en 8(2) van die Indiensnemingswet).
  • Die Departement moet ’n lys van beskikbare vakatures sowel as posprofiele opstel.
  • Botallige opvoeders moet uit hierdie lys kies.
  • Die opvoeders se keuses moet aan die betrokke SBL voorsien word, wat dan twee maande tyd het om ’n aanbeveling te doen.


Die provinsiale departemente moet hierdie voorgeskrewe prosedures volg voordat botallige opvoeders na enige skool oorgeplaas kan word. Voldoening aan die prosedures sal verseker dat:


  • alle botallige opvoeders ’n gelyke geleentheid ontvang om mee te ding om beskikbare vakatures wat by hulle profiele pas, d.w.s. billike arbeidspraktyk;
  • die opvoeder se profiel by die posprofiel pas, wat in die belang van die skool, die leerders én onderwys in die geheel sal wees; en
  • SBL’e inspraak het.

Ten slotte


Die oorplasing van permanente opvoeders ingevolge bedryfsvereistes kan slegs ingevolge artikel 8(1)(c) in samehang met artikel 8(2) en 8(4) van die Indiensnemingswet gedoen word. Kragtens artikel 8(4) van die Indiensnemingswet kan ’n departement ’n oorplasing sonder die SBL se aanbeveling doen indien die SBL versoek is vir ’n aanbeveling, maar versuim het om binne twee maande aan die versoek gehoor te gee. Hierdie bepaling skakel weer in by paragraaf B.6.5.5 van die RAVO-resolusie.


Kortom kom dit dus op die volgende neer:


  • Die eensydige (oor)plasing van botallige personeellede deur die Departement is onwettig.
  • Die SBL kan versoek word om botallige opvoeders vir permanente plasing te oorweeg.
  • Die SBL is daarop geregtig om die besonderhede te ontvang van al die botallige opvoeders wat geskik is vir die pos.
  • Nadat die SBL die besonderhede ontvang het, moet hulle die botallige kandidate binne twee maande oorweeg, en bepaal of die kandidate by die profiel van die pos pas. (Versuim om dít binne twee maande te doen kan daartoe lei dat die Departement gewoon voortgaan met ’n plasing.)
  • Indien kandidate nié aan die posvereistes voldoen nie, moet dít verduidelik word.
  • Indien kandidate wél aan die posvereistes voldoen, moet die SBL in die lig van artikel 20(1)(a) die beste kandidaat aanbeveel, en kan die oorplasing bekragtig word. (Die SBL mag nie op onredelike wyse weier om ’n botallige opvoeder wat geskik is vir die pos te aanvaar nie.)


Vraag:

Die SBL-voorsitter van die Tegniese Hoërskool Pienaar bel jou vir advies. Van die skool se personeellede is steeds huiwerig om die Covid-19-inenting te kry. Hulle wil weet of die inenting verpligtend gemaak kan word in die werkplek

Antwoord:

Volgens die Riglyne oor Gesondheid- en Veiligheidsmaatreëls in Sekere Werkplekke wat op 11 Junie 2021 in die Staatskoerant verskyn het, moes elke werkgewer wat nié uitdruklik daarvan uitgesluit is nie, ’n risikobeoordeling onderneem om op grond van sy bedryfsvereistes te bepaal of inenting verpligtend gemaak behoort te word. Indien wel, moes die werkgewer werknemers identifiseer wat ingeënt moet word op grond van hulle veronderstelde risiko in hulle werk óf as gevolg van hulle ouderdom of onderliggende toestande (riglyn 3(1)(a)).


Die werkgewer moet voorts ’n plan ontwikkel of ’n bestaande een wysig om te beskryf watter maatreëls getref sal word ten opsigte van die inenting van werknemers ooreenkomstig die gepubliseerde riglyne en/of enige tersaaklike gesamentlike ooreenkoms (riglyn 3(1)(b)). In die ontwikkeling en implementering van hierdie plan moet die werkgewer sy werknemers se grondwetlike reg op liggaamlike integriteit én op vryheid van godsdiens, oortuiging en mening in ag neem (riglyn 3(4)).


Die riglyne bevat ook stappe om te volg waar ’n werkgewer daarop aandring dat werknemers ingeënt word. Dit bepaal dat ’n plan wat vereis dat werknemers ingevolge die nasionale inentingsprogram ingeënt word, moet voorsiening maak vir (riglyn 4(2) & bylae C):

  • die werkgewer se plig om elke werknemer in kennis te stel van die verpligting om ingeënt te word wanneer ’n entstof beskikbaar is; ’n werknemer se reg om inenting op grondwetlike of mediese gronde te weier, en die beskikbare geleentheid vir ’n werknemer om ’n gesondheid- en veiligheidsverteenwoordiger, ’n werkersverteenwoordiger of ’n vakbondbeampte te raadpleeg indien die werknemer so versoek;
  • die werkgewer se plig om vervoer na en van amptelike inentingsterreine te voorsien indien dit redelikerwys haalbaar is; en
  • die werkgewer se plig om siekteverlof toe te staan indien die werknemer newe-effekte ondervind en weens die inenting nie kan werk nie, of om ’n eis ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes 130 van 1993 in te dien.


Dit is belangrik om daarop te let dat die riglyne ’n werknemer se reg erken om inenting op grondwetlike of mediese gronde te weier. Indien die werknemer weier, kan die werkgewer:

  • die werknemer van voorligting voorsien, of die werknemer toelaat om ’n gesondheid- en veiligheidsverteenwoordiger of vakbond te raadpleeg; 
  • die werknemer vir verdere mediese aandag verwys indien daar ’n mediese teenaanduiding vir inenting bestaan; of 
  • stappe doen om redelike voorsiening te maak vir die werknemer in ’n pos wat nié ooreenkomstig die werkgewer se inentingsplan inenting vereis nie.


Vraag:
Laerskool Sydney se skoolhoof bel vir dringende advies. By Donderdag (26/02/2009) se beheerliggaamvergadering is twee lede gekoöpteer in die plek van 'n ouer wie se kind hoërskool toe is en 'n ouer wat by dieselfde vergadering bedank het. Laasgenoemde ouer het bedank omdat die gesin na 'n ander provinsie verhuis. Die skoolhoof deel u mee dat die driejaarlikse beheerliggaamverkiesing vir die provinsie gedurende Mei sal plaasvind. Die beheerliggaam voel 'n tussenverkiesing is onnodig en dat die twee gekoöpteerde lede maar tot Mei moet aanbly. Die skoolhoof noem ook dat hy 'n brief aan die Provinsiale Onderwysdepartement geskryf het om toestemming te vra dat hierdie twee persone tot Mei kan aanbly sonder om 'n tussenverkiesing te hou. Hy het nog geen reaksie van die Departement ontvang nie. Adviseer die skool se beheerliggaam oor die regsposisie en oor die dokumente wat FEDSAS beskikbaar het.

Antwoord:

Ter inleiding is dit belangrik om met artikel 23 van die Suid-Afrikaanse Skolewet (die Skolewet) vertroud te wees.

Artikel 23(9) bepaal dat die ouers wat in die beheerliggaam verkies is te alle tye een meer moet wees as die totaal van die res van die beheerliggaam.

Indien dít nie die geval is nie, bepaal artikel 23(10) dat die beheerliggaam ouers moet koöpteer. Ouers kan vir 90 dae mét stemreg gekoöpteer word, maar `n verkiesing moet voor die verstryking van die 90 dae plaasvind.

Artikel 23(12) van die Skolewet bepaal dat, sodra `n verkose ouerlid van die beheerliggaam nie meer in die kategorie val waarin hy/sy verkies is nie, sy/haar lidmaatskap outomaties verval, en dat daar dadelik iemand gekoöpteer moet word om die vakature te vul.

Artikel 31(1) van die Skolewet bepaal dat 'n ouerlid van die beheerliggaam se termyn nie drie jaar mag oorskry nie. Sien die hofuitspraak Stutterheim High School v. MEC Eastern Cape op FEDSAS se webtuiste. Die lid is natuurlik herkiesbaar.

In `n neutedop is die antwoord dus soos volg:

Die ouer wat op 26 Februarie 2009 bedank het, is waarskynlik nie`n probleem nie. Koöptering vir 90 dae verval op 26 Mei, en dus is daar geen probleem om die ouerlid by die driejaarlikse verkiesing te vervang nie (mits die provinsie se verkiesing wél in Mei plaasvind).

In die geval van die ouer wie se kind hoërskool toe is, is die koöptering van krag vanaf die dag waarop die skool in 2008 gesluit het, naamlik 10 Desember, en loop dit dus op 10 Maart 2009 ten einde. In daardie stadium sal hulle`n tussenverkiesing volgens voorskrifte moet hou, aangesien die Onderwysdepartement geen regsbevoegdheid het om enige uitsonderings te maak nie. Die versoek vir die Onderwysdepartement se goedkeuring dat die ouer se termyn verleng kan word, is dus`n nuttelose oefening. Myns insiens verval die limaatskap van `n ouer wie se kind matriek geskryf het op die dag wanneer daar sekerheid is dat die kind matriek geslaag het.

Vraag:
Een van die administratiewe beamptes by die skool (departementele aanstelling) het teenoor die skoolhoof erken dat sy oor `n tydperk van 12 jaar meer as R200 000 by die skool verduister het. Sy is uitgevang nadat een van die nuwe beheerliggaamlede die skool se geldsake ondersoek het. Die dame is bereid om R1 000 per maand terug te betaal totdat haar seun klaar is met universiteit, waarna sy R2 500 per maand kan afbetaal. Adviseer die skool se beheerliggaam.

Antwoord:

Die skool en beheerliggaam kan nie die aanbod aanvaar nie. Eerstens druis dit in teen alles waarvoor FEDSAS staan. Ons kan nie hierdie optrede toesmeer en ons steeds op verantwoordelike en deursigtige bestuur beroem nie. Tweedens is daar bepaalde risiko’s vir die skool en beheerliggaam – die terugbetaling kan dalk agterweë bly. Beheerliggaamlede kan persoonlike aanspreeklikheid opdoen as hulle nie van skoolgeld kan rekenskap gee nie. Daar is twee keuses: Die vrou kan bedank en die geld uit haar pensioen terugbetaal, terwyl `n strafregtelike klag by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gelê word. OF Daar word voortgegaan met dissiplinêre optrede (met ontslag die enigste opsie), die saak word by die SAPD aangemeld, en die skool dagvaar die vrou vir die uitstaande bedrag. Die werkgewer is die Provinsiale Departement, en daarom behoort die Departement die dissiplinêre stappe te doen. Die werknemer se emosionele pleidooi behoort nie die uitkoms vir die skool te beïnvloed nie. Die vrou kan dit, sowel as die feit dat sy die geld uit haar pensioen gaan terugbetaal, eerder as versagting in haar strafsaak gebruik.

Vraag:
Een van die skool se jong onderwyseresse het op pad na die hoof se kantoor op `n los teël gegly en geval. Sy is onmiddellik na haar huisdokter, en die hoof is pas in kennis gestel dat sy haar been gebreek het. Adviseer die skool oor verdere optrede.

Antwoord:

Die antwoord vir hierdie probleem is te vinde in 'n nuusbrief wat FEDSAS op 17 Februarie 2009 uitgestuur het. Die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (VBBS-wet) maak voorsiening vir versekering teen beserings en siektes wat werknemers aan diens opdoen. Dit is baie belangrik dat werkgewers aan die bepalings van die Wet voldoen, aangesien nienakoming tot die oplegging van boetes deur die Vergoedingskommissaris kan lei, en ook werknemers die geleentheid bied om eise teen die werkgewer in te stel vir enige besering of siekte wat hulle by die werk opdoen. `n Ongeval is `n voorval met `n bekende datum, tyd en plek wat uit `n werknemer se diens ontstaan en in die loop daarvan plaasvind, en wat `n persoonlike besering tot gevolg het. Alle ongevalle, of beweerde ongevalle, wat mediese uitgawes en afwesigheid van diens van meer as drie dae tot gevolg het, moet binne sewe dae by die Kommissaris aangemeld word. In die praktyk beteken dit die volgende: -  Die skool moet die ongeval ingevolge die VBBS-wet aanmeld. - Die onderwyseres moet alle mediese rekeninge aan die Kommissaris stuur sodat sy daarvoor vergoed kan word. Dít geld ook indien die skool haar met mediese hulp bystaan (hoewel die skool geensins tot sodanige bystand verplig is nie). - Die skool sal onmiddellik ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid (BGV-wet) 'n ondersoek na die ongeval op tou moet sit waarin die skool se veiligheidsverteenwoordiger `n leidende rol moet speel, en die nodige herstelwerk sal gedoen moet word. - Die Departement sal ingelig moet word sodat `n tydelike aanstelling vir die tydperk van afwesigheid gemaak kan word.

Vraag:
Laerskool Sydney se skoolhoof wil graag meer inligting bekom oor sy verantwoordelikhede teenoor aanstellings bykomend tot die diensstaat van die staat. Adviseer die hoof met bepaalde verwysing na bronne en presies waar om hierdie bronne op te spoor.

Antwoord:

Alle opvoeders en nie-opvoeders wat bykomend tot die staat se diensstaat aangestel word, is die skool se verantwoordelikheid. Die beheerliggaam is dus verantwoordelik vir hierdie personeel, en die bestuur word aan die skoolhoof opgedra. Die skoolhoof is daarom die bestuurder van elk van hierdie personeel. Die belangrikste toepaslike wetgewing is die Wet op Arbeidsverhoudinge, Wet 66 van 1995, en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, Wet 75 van 1997. FEDSAS het omvattende hulpbronne op sy webtuiste om werkgewers in dié verband by te staan. Onder “Voorbeelde”: Konsepdienskontrakte Konsepgriewe- en -tugkodes Menslikehulpbronbestuur in skole Onder “Regsmenings – opvoeders”: Riglyne vir die bestuur van opvoeders en nie-opvoeders wat bykomend tot die staat se diensstaat aangestel word Toesighouding en evaluering deur personeel wat deur die beheerliggaam aangestel is

Vraag:
Hoewel die skool steeds vir die Paasvakansie gesluit is, is een van die sekretaresses by die werk. Sy het `n oproep van die Departement van Openbare Werke ontvang om die koshuis oop te sluit sodat van die Departement se werkers vir twee weke daar kan bly. Volgens die Departement is hulle verantwoordelik vir alle staatsgeboue, en kan hulle daarom ook enige staatsgebou gebruik. Die sekretaresse kry nie die skoolhoof in die hande nie en wil by jou weet wat haar nou te doen staan. Adviseer haar en verduidelik presies waar sy die nodige dokumente in die hande kan kry.

Antwoord:

Die beheer en bestuur van skoolkoshuise is die uitsluitlike verantwoordelikheid van die skoolbeheerliggaam. Die sekretaresse moet onder geen omstandighede die koshuis vir die Departement oopsluit nie. Indien die Departement die koshuis wil gebruik, kan hulle `n versoek in dier voege aan die beheerliggaam rig, wat dan moontlik die koshuis aan die Departement kan verhuur. Spesiale Nuusbrief 9 van 2009 is op 23 Maart 2009 aan skole gestuur met die nodige inligting oor die beheer en bestuur van koshuise. Die dokument verwys na bepaalde artikels in die Suid-Afrikaanse Skolewet, en 'n regsmening word oor verskeie aspekte van koshuisbestuur gegee.

Vraag:
Hulle het aan die begin van die jaar twee jong onderwyseresse vir graad R en graad 1 aangestel. Die skool is die werkgewer. Die onderwyseres in die graad 1-klas het pas uitgevind sy is swanger. Hy wil uitvind wat die skool se verpligtinge teenoor die onderwyseres is en wat haar verpligtinge teenoor die skool is.

Antwoord:

Daar is twee moontlikhede: 1. Die dienskontrak sal die bepalings bevat. Daarom hoop ons dat die FEDSAS-dienskontrakte gebruik word. Die FEDSAS-dienskontrak bepaal dat die onderwyseres geregtig is op vier maande onbetaalde kraamverlof. Die onderwyseres moet die skool minstens 20 dae voor die aanvang van die kraamverlof skriftelik in kennis stel van haar voorneme om sodanige verlof te neem, met vermelding van die aanvangsdatum van die kraamverlof en die datum van terugkeer daarná. Hierdie kennisgewing moet vergesel word van `n doktersbrief waarop die verwagte geboortedatum van die kind aangedui word. Die dienskontrak is op www.fedsas.org.za onder die opskrif “Voorbeelde” beskikbaar as “Konsepdienskontrak vir opvoeders en nieopvoeders”. 2. Indien daar geen skriftelike dienskontrak bestaan nie, geld die bepalings van artikel 25 en 26 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, Wet 75 van 1997. Kortom bepaal dié artikels die volgende: • Vier aaneenlopende maande kraamverlof • Die verlof neem `n aanvang enige tyd vanaf vier weke voor die verwagte datum van geboorte, of op `n vereiste datum na gelang van die werknemer of haar ongebore kind se gesondheid, soos deur `n mediese praktisyn of vroedvrou gesertifiseer. • `n Werknemer mag nie vir ses weke ná die geboorte van haar kind werk nie, tensy `n mediese praktisyn of vroedvrou sertifiseer dat sy geskik is om te werk. • `n Werknemer wat gedurende die derde trimester `n miskraam het of wie se kind doodgebore word, is geregtig op ses weke kraamverlof ná sodanige miskraam of doodgeboorte. Tensy sy nie in staat is om dit te doen nie, moet die werknemer haar werkgewer vier weke vooraf in kennis stel van die beoogde aanvangsdatum van haar kraamverlof sowel as die datum waarop sy sal terugkeer. Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes maak nie voorsiening vir betaling tydens kraamverlof nie, en daarom is kraamverlof onbetaalde verlof. `n Werknemer is egter geregtig om kraamvoordele ingevolge die Werkloosheidsversekeringswet te eis. Die werknemer kan ook `n ooreenkoms met haar werkgewer sluit om vir betaling voorsiening te maak, of `n vakbond kan deur kollektiewe bedinging `n kollektiewe ooreenkoms sluit wat vir betaalde kraamverlof voorsiening maak. Die beheerliggaam het wél `n verantwoordelikheid om seker te maak dat swanger vroue en moeders wat borsvoed nie werk doen wat `n gevaar vir haar en/of haar baba inhou nie. Sien ook die Wet op Basiese Diensvoorwaardes se “Kode vir Goeie Praktyk oor die Beskerming van Werknemers tydens `n Swangerskap en ná die geboorte van `n Kind”. Vir die tydperk wat die onderwyseres op kraamverlof is, sal die skool `n tydelike aanstelling in haar plek moet maak. Tersaaklike inligting is op www.fedsas.org.za onder die opskrif “Aanstelling van bykomende personeel” beskikbaar.

Vraag:
Die skoolhoof van Hoërskool Sydney het die afgelope twee weke gereeld van skole in die nuus gelees. In die lig van die Waterkloofgebeure soek hy klarigheid oor die volgende: 1.Mag `n sportorganiseerder uit skoolgeld betaal word sonder dat hy enigsins by onderrig betrokke is? Let wel: Hierdie organiseerder is by slegs een sportsoort betrokke. 2.Mag personeel `n 10%-kommissie ontvang indien hulle `n groot borgskap bekom? 3. Indien `n onderwyser goedkoop/gratis verblyf op die skoolterrein het, moet dit as `n belastingvoordeel verklaar word? Indien wel, wat is die skool se rol om die belasting te verhaal of aan die Ontvanger van Inkomste te verklaar?

Antwoord:

1. Ja, onder die volgende voorwaardes en bepalings: a. Dat daar `n behoorlike dienskontrak bestaan waarin die organiseerder se pligte en verantwoordelikhede volledig uiteengesit word. b. Dat die jaarlikse begroting wat deur die ouers goedgekeur word vir die bepaalde portefeulje voorsiening maak. c. Indien dit op net een sportsoort van toepassing is, is dit wenslik dat die uitgawe binne die sportsoort se jaarlikse begroting val, wat dan ook seker impliseer dat die sportsoort sal poog om bykomende inkomste te skep. Dit sou uiters onbillik wees dat al die kinders in die skool slegs een sportsoort ‘borg’ as hulle nie eens daaraan deelneem nie. d. Raadpleeg gerus die volgende dokumente op die FEDSAS-webtuiste by www.fedsas.org.za: Onder lededokumente: Vrae oor skoolgeld Aanstelling van bykomende personeel 2. a. Eerstens, wat departementele aanstellings betref, het ons met twee aspekte te doen, naamlik “Addisionele vergoeding vir staatsdienswerknemers” (wat op die web beskikbaar is) sowel as “Riglyne vir die inwerkingstelling van artikel 38(a)”. b. Tweedens, wat die ander personeel betref, dus diegene wat deur die beheerliggaam aangestel is, sou ek dit nie aanbeveel nie, tensy hul aanstellingskontrak spesifiek bepaal dat die persoon ook vir die werwing van borge verantwoordelik is sowel as die persentasie wat as ‘beloning’ uitgeloof word. Alle uitgawes is egter onderworpe aan die goedkeuring van die beheerliggaam en die begroting. Iets wat my egter hinder, is die begrip ‘groot’. `n Mens bekom tog borgskappe vir `n bepaalde doel, anders is dit bloot `n borg ter aanvulling van skoolfonds, wat dan onder die normale skoolbegroting en -uitgawes sou ressorteer. `n ‘Groot’ borg van R2 000 vir die skaakspan sou dus met die R20 000 vir die rugbyspan vergelyk kon word. Hier sou `n mens uiters versigtig moet wees en konsekwent moet optree. Dit kan as aansporingsmaatreël slaag, maar die beginsel ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet (die Skolewet), artikel 36(1) sowel as artikel 37(1), (2), (3), (4), (5), (6) en (7), bly van toepassing. Sien in dié verband artikel 37(6), wat soos volg bepaal: “Die skoolfonds, alle opbrengste daaruit en alle ander bates van die openbare skool mag slegs gebruik word vir: (a) opvoedkundige doeleindes by of in verband met sodanige skool; (b) opvoedkundige doeleindes by of in `n openbare skool, volgens ooreenkoms met sodanige ander openbare skool en met instemming van die Departementshoof; (c) die uitvoering van die werksaamhede van die Beheerliggaam; of (d) `n ander opvoedkundige doel soos ooreengekom tussen beheerliggaam en die Departementshoof.” Artikel 38A plaas verdere beperkings op sodanige betalings, en dit is dalk raadsaam om weer artikel 37–39 en artikel 42–44 van die Skolewet te bestudeer. Die antwoord is dus nee, tensy daar aan al die vereistes voldoen word. 3. In dié verband verwys ek jou weer na die FEDSAS-webtuiste, bepaald `n dokument getiteld “Wooneenhede op skoolgronde”. Daarin word die situasie uiteengesit indien die verblyf as bykomende diensvoordeel gereken sou word. Indien dit egter as `n koshuisaangeleentheid beskou word, geld artikel 38A sowel as die dokument oor koshuise. Die Wet op Indiensneming van Opvoeders is ook op die FEDSAS-webblad beskikbaar.

Vraag:
Die skool het 'n satellietkleuterskool met voorskoolse kinders van 4 tot 6 jaar. Die graad R-klas is die skool se grootste voedingsbron. Die hoof van die kleuterskool het egter drie kinders uitgewys wat volgende jaar 7 jaar oud word, maar steeds nie skoolgereed is nie. Die laerskoolhoof is bang dat die skool aanspreeklikheid sal opdoen as die kinders nie laerskool toe gaan nie. Adviseer hom.

Antwoord:

Artikel 3 van die Suid-Afrikaanse Skolewet (die Skolewet) bepaal dat ouers moet toesien dat 'n leerder skoolgaan vanaf die eerste skooldag van die jaar waarin die leerder 7 word. Die skool sal dus nie aanspreeklikheid opdoen indien die kinders nie by 'n skool ingeskryf is nie, maar wél die ouers. Dit is egter ook die kleuterskool se plig om die ouers van bostaande in kennis te stel. Indien die kinders na die kleuterskool se oordeel nog nie skoolgereed is nie, moet die ouers daarvan ingelig word en bystand ontvang om die nodige aansoek om vrystelling van skoolbywoning in te dien. Artikel 4(1) van die Skolewet bepaal dat die Onderwyshoof algehele, gedeeltelike of voorwaardelike vrystelling van verpligte onderrig aan 'n leerder mag toestaan indien dit in die besondere leerder se belang sou wees. In die verlede het die ‘kinderleidingklinieke’ hierdie diens gelewer. Dit is egter algemene kennis dat dié rol nie meer oral vervul word nie, en ouers sal dus nou self vir die koste van die skoolgereedheidsverslag moet instaan. Dit blyk ook dat die proses en dokumente van provinsie tot provinsie kan verskil.

Vraag:
Laerskool Sydney se skoolhoof bel jou vir advies. Sy wil graag weet of die graad R-ouers aan die beheerliggaamverkiesing mag deelneem, en hoe die getal kinders in die graad R-klas die getal leerders in haar skool vir doeleindes van die verkiesing sal beïnvloed.

Antwoord:

In artikel 1 omskryf die Suid-Afrikaanse Skolewet `n skool as “`n openbare skool of `n onafhanklike skool wat leerders in een of meer grade van graad A (Aanvang) tot graad 12 inskryf”. Al die ouers op die toelatingsregister van die skool kan dus aan die verkiesing deelneem en is verkiesbaar in die beheerliggaam. Die getal leerders in graad R word as deel van die totale getal leerders gereken wat die grootte van die beheerliggaam sal bepaal.

Vraag:
Volgens die skoolhoof van Hoërskool Sydney gaan dit regtig goed by die skool en is hy in beheer van sake. Jy verneem egter van die voorsitter van die beheerliggaam dat die skoolhoof binne die volgende 12 maande gaan aftree, en dat hy nóú reeds meer tyd aan sy boerdery as aan die skool bestee. Adviseer die voorsitter oor moontlike optrede.

Antwoord:

Daar is verskillende oplossings vir hierdie probleem. Die uitdaging is egter om die beste oplossing in belang van die skool te kry. Eerstens is daar die moeilike uitweg – dissiplinêre optrede ingevolge die Wet op Indiensneming van Opvoeders. Die klag word aan die Departement gerig, en die proses word dan deur die Departement bestuur. Tweedens is daar die maklikste uitweg – trotseer maar die 12 maande. Derdens is daar die verantwoordelike uitweg. `n Oudskoolhoof antwoord my soos volg: “Ek sal die beheerliggaamvoorsitter aanraai om baie spoedig `n informele dog indringende gesprek met die hoof te hê. Hy moet die skoolhoof daarop wys dat hy nie twee beroepe gelyktydig mag beoefen nie. Hy moet probeer om die hoof te kry om meer tyd aan die skool te bestee. Indien dít nie die gewenste uitwerking het nie, moet hy die gesprek herhaal en feitelik aan die skoolhoof bewys dat hy nie al sy gewone pligte nakom nie, en dat dit selfs besig is om handuit te ruk. Die voorsitter moet as deel van sy aanmaning bewyse voorlê. Hy moet `n aantal wesenlike sake aanhaal en op weeklikse verslagdoening daaroor aandring, en eis dat die hoof belangrike geleenthede bywoon. Indien die hoof hierdie reddingsboei wegstamp, moet die voorsitter `n verslag voorberei wat aan die Departementshoof vir aandag en optrede gerig word. Ek lei af dat die hoof reeds geruime tyd daar is en deurgaans goeie werk gelewer het, en net nóú `n tydelike oordrewe hunkering na aftrede het. Hy kort eintlik bemoediging en belangstelling eerder as dissiplinêre optrede.” Indien die situasie steeds nie verbeter nie en die skoolhoof tot die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) behoort, is dit ook `n geleentheid om die ‘protokol van samewerking’ te gebruik om die probleem in die skool se belang te hanteer.

Vraag:
Hoërskool Sydney se beheerliggaamverkiesing vind Vrydag plaas. Daar is 12 opvoeders wat deur die skool aangestel is en 32 opvoeders op die staat se diensstaat. Die skoolhoof is nie seker of die opvoeders wat bykomend tot die staat se diensstaat aangestel is as opvoeders in die beheerliggaam verkies kan word nie. Adviseer die skoolhoof.

Antwoord:

Die Suid-Afrikaanse Skolewet verwys slegs na opvoeders, en onderskei nie tussen departementele aanstellings en opvoeders wat bykomend tot die staat se diensstaat aangestel is nie. Daarom kan enige opvoeders as opvoeders in die beheerliggaam verkies word.

Vraag:
Hoërskool Sydney se beheerliggaamverkiesing het Vrydag plaasgevind, en die nuwe beheerliggaam vergader eers volgende Donderdag die eerste keer om die ampsdraers te kies. Die skoolhoof wil weet watter beheerliggaam tot Donderdag aanspreeklik is: die ou beheerliggaam of die nuut verkose een?

Antwoord:

Die ou beheerliggaam hou op funksioneer die oomblik as die nuwe een se verkiesingsuitslag bekend gemaak is. Die term ‘konstituering’ is eintlik maar net `n verkiesing van ampsdraers en nie die wegspring of ontstaan van `n nuwe beheerliggaam nie. `n Skoolbeheerliggaam se ampstermyn is drie jaar. As die termyn voor die nuwe verkiesing verstryk het, bestaan daar eenvoudig geen beheerliggaam nie. Sien die uitspraak van Stutterheim High School v. MEC Eastern Cape.

Vraag:
Hoërskool Sydney ontvang gereeld omsendskrywes van die Departement waarin bepaalde opdragte gegee word. Die voorsitter van die nuwe beheerliggaam wil weet of die Onderwysdepartement deur middel van `n omsendbrief maatreëls kan afkondig en afdwing wat in stryd is met `n wet of met `n regulasie wat kragtens `n wet uitgevaardig is.

Antwoord:

Nee. Die Departement mag wél beleid toepas, maar beleid kan nie regte en verpligtinge skep nie. Dít kan slegs deur wette van die nasionale en provinsiale wetgewers, en regulasies ingevolge sulke wette gedoen word. Raadpleeg die dokument oor die rangorde van wette en die regstatus van omsendbriewe op die FEDSAS-webblad.

Vraag:
Laerskool Sydney se skoolhoof bel jou baie bekommerd. `n Departementele amptenaar het pas opdrag gegee dat die skool die Departement onmiddellik van `n inventaris van al die skool se roerende bates voorsien, sodat die staat kan vasstel watter van sy bates by die skool is. Die nuwe beheerliggaamvoorsitter weier om hieraan gehoor te gee, en het die skoolhoof opdrag gegee om oor die eienaarskap van roerende bates navraag te doen. Adviseer die beheerliggaam.

Antwoord:

Alle openbare skole is die eienaars van alle roerende eiendom wat hulle sedert die inwerkingtreding van die Suid-Afrikaanse Skolewet (die Skolewet), dus sedert 1 Januarie 1997, verkry het – sien artikel 37(5) van die Skolewet. Alle voormalige staatsondersteunde skole (d.w.s. ‘model C’-skole) was reeds voor 1 Januarie 1997 die eienaars van alle roerende eiendom wat hulle in daardie stadium besit het – artikel 52(2) van die Skolewet. Alle artikel 21-skole wat nié voormalige model C-skole is nie, het vanaf die datum waarop hulle artikel 21-status verwerf het die eienaars geword van alle roerende eiendom in hul besit – artikel 52(3) van die Skolewet. Met ander woorde, die enigste roerende eiendom by openbare skole wat nog aan die staat kan behoort, is daardie bates wat voor 1 Januarie 1997 in die besit was (en nog is) van openbare skole buiten voormalige model C-skole of artikel 21-skole.

Vraag:
Hoërskool Sydney se hoof bel jou baie bekommerd. 'n Departementele amptenaar het hom meegedeel dat die Departement nog nie sy skool se nuwe beheerliggaam bekragtig het nie, en dus dringend vir die name wag sodat hulle `n wettige beheerliggaam kan daarstel. Die hoof deel jou mee dat hulle beheerliggaam al vier vergaderings gehou het en die naweek ook `n strategiese beraad gehad het. Die skoolhoof wil weet of dít beteken dat nie een van hul besluite afdwingbaar is nie.

Antwoord:

Die Suid-Afrikaanse Skolewet vereis geen bekragtiging van 'n beheerliggaam deur enige departement nie. Sodra die beheerliggaamverkiesing se uitslae bekend is, is dít die nuwe wettige verkose beheerliggaam wat onmiddellik met hul werksaamhede moet begin. Die vereiste in sommige provinsies dat die name binne 14 dae ná die verkiesing aan die Departement gestuur moet word, is bloot vir administratiewe doeleindes en het absoluut niks met die wettigheid van die beheerliggaam te doen nie. Daar is daarom niks te bekragtig nie.

Vraag:
Hoërskool Sydney se hoof bel jou weer baie bekommerd. Hy het pas `n skrywe van sy Onderwyshoof in die provinsie ontvang wat dit duidelik stel dat geen drank op die skoolterrein verkoop mag word nie. Hy noem dat dít enige geleenthede (troues, ensovoorts) insluit, en dat sogenaamde beheerliggaamgeleenthede as skoolaktiwiteite sal tel. Die Departement sal voortaan alle aansoeke om dranklisensies teenstaan, en dissiplinêr teen enige skoolhoof optree wat sy beheerliggaam verkeerd adviseer.

Antwoord:

FEDSAS het sy vertolking by advokaat Boshoff van die Nasionale Departement van Onderwys nagegaan. Ons stem minstens oor een saak saam, naamlik dat die verbod op die gebruik van alkohol nie fondsinsamelingsgeleenthede van skole geld nie. Die brief van die Onderwyshoof is dus radikaal verkeerd – sien die regsmening oor alkohol op skoolterreine op die webblad. Sien ook die omskrywing van `n skoolaktiwiteit in die Suid-Afrikaanse Skolewet, sowel as die uitspraak in die Ferdinand Postma-saak. Die stelling dat `n beheerliggaam nooit enige aktiwiteit anders as `n ‘skoolaktiwiteit’ kan reël nie is derhalwe ook geheel en al verkeerd. Sien ook FEDSAS se spesiale nuusbrief in hierdie verband.

Vraag:
Laerskool Sydney se beheerliggaamvoorsitter doen navraag oor die skool se snoepwinkel, en vra die volgende: Mag slegs artikel 21-skole 'n onderneming bedryf en ander projekte aanpak ten einde bykomende inkomste vir die skool te verdien?

Antwoord:

Nee, alle openbare skole mag (móét in der waarheid) projekte van stapel stuur, wat die bedryf van `n onderneming kan insluit, ten einde bykomende geld vir die skool te verdien. Dít spruit uit die verpligting wat artikel 36(1) van die Suid-Afrikaanse Skolewet aan beheerliggame oplê, naamlik om “alle redelike maatreëls binne sy vermoë [te] tref om die hulpbronne deur die Staat voorsien aan te vul ten einde die gehalte van onderwys wat deur die skool aangebied word aan alle leerders by die skool, te verhoog”.

Vraag:
Laerskool Sydney se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir dringende advies oor die begrotingsproses. 'n Senior amptenaar van die Provinsiale Departement het `n afskrif van die begroting versoek en dring daarop aan om die ouers by die begrotingsvergadering toe te spreek. Dit is die nuwe beheerliggaam se eerste begroting, en die waarnemende skoolhoof was voorheen `n departementshoof. Die skool het ook `n nuwe koshuis en wil weet of dié koshuis ook deel van die begroting moet uitmaak.

Antwoord:

Artikel 38 van die Suid-Afrikaanse Skolewet handel oor die begrotingsproses. Die Departement maak nie deel uit van die proses nie en kan derhalwe nie op `n afskrif van die begroting of 'n spreekbeurt by die vergadering aandring nie. Die skool het net een bankrekening, en die koshuis is onlosmaaklik deel van die skool. Dus sal die koshuis ook deel van die begroting moet uitmaak.

Vraag:
Hoërskool Sydney se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir dringende advies. Hulle het pas twee poste vir opvoeders op die skool se diensstaat geadverteer, en een van die beheerliggaamlede se lewensmaats het om `n pos aansoek gedoen. Hoe moet die voorsitter die saak hanteer?

Antwoord:

Hierdie vraag handel oor etiese, verantwoordelike, verantwoordbare en deursigtige besluitneming. Die beheerliggaam behoort `n beginselbesluit te neem dat lede hulself moet verskoon of aan die gesprek onttrek indien hulle `n belang by `n bepaalde punt het. Dié belang moet verklaar word. Dít is ook hoe die beheerliggaamvoorsitter dié saak moet hanteer.

Vraag:
Laerskool Sydney se voorsitter bel jou vir advies. Hy is bekommerd dat daar nie `n kworum by eerskomende Donderdag se begrotingsvergadering gaan wees nie en dat die beheerliggaam daarom nie enige finansiële verbintenisse sal kan aangaan nie.

Antwoord:

Die Suid-Afrikaanse Skolewet stel geen kworumvereiste vir begrotingsvergaderings nie. Daar móét egter ingevolge artikel 38 behoorlik (30 dae) kennis gegee word en die begroting moet 14 dae voor die vergadering ter insae beskikbaar wees.

Vraag:
Laerskool Sydney se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir advies. Hy deel jou mee dat die beheerliggaam gedurende die vakansie `n bosberaad gehou en alle beleid hersien het. Hy het bepaald opdrag ontvang om risiko’s op die skoolterrein te ondersoek, en versoek jou bystand.

Antwoord:

Sien die regsmenings oor risiko’s op FEDSAS se webblad. FEDSAS kan bepaalde risiko’s uitwys, maar OHS is die konsultante wat die risiko’s op die skoolterrein kan help bestuur. Sien hul advertensie op ons webblad.

Vraag:
Hoërskool Sydney se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir advies. `n Aantal leerders het Donderdag ná skool `n partytjie by die dorp se dam gaan hou. Die skoolhoof was bewus dat die leerders na die dam sou gaan. `n Video wat daar gemaak is, wys duidelik hoe die leerders dagga rook en drank gebruik. Een van die leerders is die skool se onderhoofmeisie. Wat staan die skool te doen?

Antwoord:

Die kern van die antwoord lê in die omskrywing van `n skoolaktiwiteit in artikel 1 van die Suid-Afrikaanse Skolewet (die Skolewet). Hoewel die hoof daarvan bewus was, is hy nie vir die kinders verantwoordelik nie – dit is duidelik nie `n skoolaktiwiteit nie en die ouers is dus vir die leerders verantwoordelik. Die enigste leerder wat moontlik aangekla kan word, is die onderhoofmeisie. Dít sou ook net kan gebeur as die Verteenwoordigende Raad van Leerders (VRL) se gedragskode bepaal dat VRL-lede te alle tye ambassadeurs vir die skool en VRL moet wees (of iets soortgelyks). Beheerliggame en opvoeders moet daarteen waak om `n soort ‘vervolgingsmentaliteit’ te ontwikkel en ouers se verantwoordelikhede te aanvaar. Beheerliggame en opvoeders kan net binne die raamwerk van die Skolewet optree.

Vraag:
Laerskool Sydney se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir advies. Daar is `n groot aantal opvoeders in diens van die skool, en in hierdie stadium blyk dit nie of daar genoeg geld vir al die bykomende opvoeders sal wees nie. Hy verneem graag hoe hulle die saak moet hanteer.

Antwoord:

Alle werknemers van die skool moet so gou moontlik oor die finansiële stand van sake ingelig word, sowel as oor die moontlikheid dat dieselfde hoeveelheid poste nie vir die nuwe jaar beskikbaar sal wees nie. Die meeste van ons lede het jaarkontrakte, en dit is daarom goeie praktyk om die poste vir die volgende jaar ná die begrotingsvergadering te adverteer sodat daar geen verwagting geskep word dat die kontrakte bloot ‘verleng’ sal word nie. Die beheerliggaam behoort eintlik jaarliks oor die skep van bykomende poste te besin en daarvoor te beplan en te begroot. Die poste as sodanig is aan die begroting, en nie die kontrakte nie, gekoppel. Die kontrakte is maar net daar om die posbekleërs aan die skool te verbind. Indien daar nie geld beskikbaar is nie, moet alle personeel wat daardeur geraak word so vinnig moontlik ingelig word. In geval van permanente personeel sal die Wet op Arbeidsverhoudinge se proses van diensbeëindiging weens bedryfsredes gevolg moet word. Sien die dokument “Aanstelling van bykomende personeel” op die FEDSAS-webblad. Dit is raadsaam om `n kundige by die afleggingsproses te betrek.

Vraag:
Hoërskool Sydney se skoolhoof bel jou vir advies. Van die skool se ouers is baie ongelukkig oor die nuwe hoofseun wat Vrydag by die prysuitdelingsgeleentheid aangewys is, en het hul geskil na die Departement verwys. Die Departement wil die skoolhoof Donderdag kom spreek, en die hoof soek dringend jou hulp.

Antwoord:

Die beginpunt is die provinsiale regulasies vir die samestelling en verkiesing van die beheerliggaam en ook die Verteenwoordigende Rade van Leerders (wat van provinsie tot provinsie wissel). Die leerderverteenwoordiger in die beheerliggaam is nie noodwendig die ‘hoofseun/hoofdogter’ nie. Bostaande proses moet egter nie met die verkiesing van sogenaamde hoofleiers verwar word nie – hierdie proses word deur die skool self bestuur, en val binne die regsbevoegdheid van die beheerliggaam. Raadpleeg die dokument “Leerlingrade by openbare skole” op die FEDSAS-webblad.

Vraag:
Laerskool Sydney se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir advies. Die skoolhoof tree volgende week af en dus moet daar `n waarnemende hoof aangestel word totdat die skoolhoofpos gevul is. Daar is tans `n adjunkhoof en twee departementshoofde, maar die voorsitter verkies `n jong en dinamiese man (posvlak 1) in die personeel. Die beheerliggaam het reeds vergader en steun die voorstel, maar twyfel oor die proses wat die Departement gaan volg.

Antwoord:

Paragraaf 1.3(iii) van die Personeeladministrasiemaatreëls (PAM) bepaal dat `n opvoeder slegs in `n pos mag waarneem wat een posvlak hoër is as die pos waarin hy/sy op daardie tydstip is. Die enigste persoon wat dus in die vakante skoolhoofpos mag waarneem, is die adjunkhoof – sien ook PAM, hoofstuk A, item 4, wat waarneming as skoolhoof in die hoof se afwesigheid as een van die adjunkhoof se take bepaal. Die beheerliggaam moet om `n plaasvervanger aansoek doen en die adjunkhoof aanbeveel, waarná die Departement van Onderwys die aanstelling moet goedkeur. Waarnemerstoelae sal slegs betaal word indien die waarnemer vir langer as ses weke waarneem, vir hoogstens 12 maande. Die beheerliggaam moet eerder hul energie daaraan bestee om die regte skoolhoof aan te stel as om te veel hare oor `n waarnemende skoolhoof te kloof.

Vraag:
Hoërskool Aruab het pas as lid aangesluit. Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir advies. Die Provinsiale Onderwysdepartement het die skool ingelig dat dit vanaf Woensdag `n Engelse baan sal aanbied wanneer 24 Engelssprekende graad 8-leerders vir onderrig sal opdaag. Die distrikskantoor grond sy instruksies op die Konstitusionele Hof se uitspraak in die Ermelosaak, en stel dit duidelik dat die skool nog ruimte vir leerders het en daarom die behoeftes van die gemeenskap in ag moet neem. Welke stappe moet die skool onmiddellik neem, en hoe moet die skoolhoof die saak Woensdag hanteer?

Antwoord:

Hoërskool Aruab is sekerlik die eerste van baie skole wat verlede week dié probleem gehad het. Die onmiddellike stap vir die beheerliggaam is om `n besluit oor leerdertoelating te laat notuleer, en die skoolhoof opdrag te gee om die besluit toe te pas. (Die rede hiervoor is dat die skoolhoof `n opdrag van sy werkgewer, die Departement, ontvang het en dissiplinêr aangekla kan word as hy dit nie uitvoer nie. Die beheerliggaam is egter ingevolge artikel 20(g) verantwoordelik vir die beheer van die skoolterrein en -geboue.) Dit is ook raadsaam dat die beheerliggaam met skoolopening self beheer by die hekke neem, en, indien nodig, moet die Suid-Afrikaanse Polisiediens se hulp ingeroep word om onregmatige betreders te beheer. Die beheerliggaam kan die distrikskantoor bloot vra om hul versoek skriftelik aan die beheerliggaam te rig sodat die beheerliggaam FEDSAS se taalstrategie (“Taal in skole” – bl 23–35) kan volg en deur die nodige stappe kan gaan om `n ingeligte besluit te neem. Dit is egter belangrik om sterk te staan onder die aanvanklike druk, en nie sommer leerders tot die skool toe te laat wat nie aan die skool se toelatings- en taalbeleid voldoen nie. Die feit dat die skool plek het, beteken nie dat daardie plek onmiddellik afgestaan moet word nie. Die raadplegingsproses moet steeds sy beloop neem.

Vraag:
Laerskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir advies. Meer as 35 plaaskinders in die distrik kan oënskynlik nie in enige van die twee plaasskole plek kry nie. Laerskool Aruab het tans 65 Afrikaanssprekende leerders in die skool. Die skool se geriewe het plek vir meer as 300 leerders. Wat is die skool se verantwoordelikheid teenoor hierdie leerders?

Antwoord:

Laerskool Aruab se beheerliggaam bepaal steeds die toelatingsbeleid ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet (die Skolewet), en die beheerliggaam is ingevolge artikel 20(1)(g) verantwoordelik vir die beheer en administrasie van die skoolterrein. Die Departement sal op artikel 29 van die Grondwet steun, wat bepaal dat elke kind die reg het op basiese onderwys. Hierdie reg moet egter van die staat, en nie van die skool nie, geëis word, omdat die staat in dié verband `n verpligting teenoor die leerders het. Die staat moet dus hulpbronne voorsien om vir die plaaskinders voorsiening te maak. Ingevolge die Skolewet het Laerskool Aruab se beheerliggaam geen statutêre plig teenoor enige plaaskind nie. Wat egter die Konstitusionele Hof se uitspraak in die Ermelosaak betref, en indien `n versoek vir toelating inderdaad volg (wat uiteraard `n beleidsaangeleentheid sal wees), sal die beheerliggaam na al die faktore moet kyk (soos dit in die dokument oor die implikasies van die Ermelo-uitspraak vervat word). Die skool het egter `n morele plig. Dit sal moeilik wees om enige hof te oortuig dat die plaaskinders nie op die skoolterrein welkom is nie terwyl daar in werklikheid vir nog 235 kinders plek is. Dit is duidelik dat die terrein nie optimaal benut word nie, en daarom het die argument ook `n etiese sy. Die beheerliggaam kan met die Departement onderhandel vir bykomende hulpbronne wat nodig sou wees om vir die nuwe leerders voorsiening te maak, of kan die moontlikheid van twee skole op een skoolterrein ondersoek. Indien hierdie onderhandelinge suksesvol is, is dit noodsaaklik dat die resultaat daarvan baie deeglik op skrif gestel word. Die beheerliggaam hoef onder geen druk te swig om van sy eie identiteit of die karakter van die skool afstand te doen nie, maar moet aan die gesprek deelneem om na die belang van al die leerders in die omgewing om te sien, sodat Laerskool Aruab kan oorleef en bly voortbestaan.

Vraag:
Hoërskool Aruab se skoolhoof bel jou vir advies. Die Departement het die afgelope vier jaar `n groot aantal studiebeurse vir onderwysstudente beskikbaar gestel, en die meeste van hierdie studente het vanjaar op grond van hul beursooreenkoms by die Departement diens aanvaar. Hierdie jong opvoeders beskik oor universiteitskwalifikasies en sluit wiskundiges, wetenskaplikes en ekonome in, maar kry nêrens plasings nie. Die Departement het gevolglik `n skrywe aan alle skole gestuur waarin die skole ingelig word dat die jong opvoeders sonder enige proses by skole geplaas sal word. Die skoolhoof is onseker oor wat hom te doen staan as een van hierdie jong opvoeders dié week by sy skool opdaag.

Antwoord:

Dié probleem moet teen die agtergrond beskou word van `n positiewe stap deur die Departement om weer `n groot aantal beurse vir opvoedkundestudente van alle tale en kulture toe te staan. Funza Lushaka-beursstudente is besig om af te studeer en moet ingevolge die beursooreenkoms vir diens aanmeld. Indien die Departement nie poste aan dié studente kan voorsien nie, word hulle van alle beursvoorwaardes vrygestel. Daar is dus wesenlike druk op Departemente om poste vir hierdie studente te kry, en die druk sal dus noodwendig na skole afgewentel word. Artikel 20(1)(i) van die Suid-Afrikaanse Skolewet bepaal dat beheerliggame, met inagneming van die Wet op Indiensneming van Opvoeders, aanbevelings oor opvoederaanstellings by die Departement kan maak. Die Wet op Indiensneming van Opvoeders handel bepaald oor die eerste aanstelling van `n opvoeder, maar bepaal in subartikel 6A(2)(a) dat die beheerliggaam oor die posvereistes by die skool geraadpleeg moet word. Laasgenoemde artikel lui soos volg: Wet op Indiensneming van Opvoeders, Wet 76 van 1998 “6A Eerste aanstelling of aanstelling na `n diensonderbreking van opvoeder (1) Ondanks artikel 6(3)(a), kan die werkgewer in die geval van `n eerste aanstelling of `n aanstelling na `n diensonderbreking van een of meer jare in enige provinsiale onderwysdepartement: (a) aansoeke ontvang van aansoekers wat vir die eerste keer aansoek doen of van aansoekers wat na `n diensonderbreking terugkeer; (b) die aansoeke prosesseer en aansoeke indeel by vakante poste waar hulle inpas; en (c) behoudens subartikel (2) aanstellings by `n skool doen. (2) Die aanstelling in subartikel (1) beoog kan slegs gedoen word nadat die werkgewer: (a) die betrokke beheerliggaam oor die spesifieke pos en die vereistes daarvan geraadpleeg het; (b) verseker het dat die applikant wat aangestel staan te word, voldoen aan die vereistes van die pos; en (c) verseker het dat die applikant oor die nodige kwalifikasies beskik.” Dit is dus duidelik dat die Departement eers `n proses moet volg voordat `n aanstelling gemaak kan word, en dat `n opvoeder onder geen omstandighede sonder die vereiste proses aangestel mag word nie. Gedurende die onderhoud moet die beheerliggaam die volgende in gedagte hou: 1. Die bedryfsvereistes van die skool (taal, kultuur, kurrikulum, ensovoorts) 2. Die posvoorsiening van die Departement, en poste wat deur die beheerliggaam gedek word Aspekte wat gewoonlik beoordeel moet word, sluit die volgende in: Taalvaardigheid Kommunikasievaardigheid Kwalifikasies Vak- en algemene kennis Prestasies Gemeenskapsbetrokkenheid Leierskap Buitemuurse betrokkenheid en aktiwiteite Ondervinding Bostaande lys is nie `n geslote lys nie en sal na gelang van die omstandighede by elke skool aangepas moet word. Dit is egter van wesenlike belang dat die beheerliggaam `n goed gemotiveerde aanbeveling aan die Departement voorsien in die lig van die hofbeslissing in Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole: Vrystaat en Ander v. Departementshoof : Departement van Onderwys Vrystaat (2064/2004) [2004] ZAFSHC 39 (20 May 2004). In bogenoemde saak maak regter Kruger die volgende opmerking: “[31] `n Aanstelling wat by `n skool gedoen word, geskied nadat die Provinsiale Onderwysdepartement die betrokke beheerliggaam se mening ingewin het oor die spesifieke pos en die vereistes daarvan. Daarna moet die Onderwysdepartement self verseker dat die applikant wat aangestel staan te word voldoen aan die vereistes van die pos en oor die nodige kwalifikasies beskik. Die funksie van die betrokke beheerliggaam word ingevolge artikel 6A dermate beperk dat dit slegs sy mening kan lug oor die spesifieke pos en die vereistes daarvan. Die Onderwysdepartement is nie daaraan gebonde nie. Die beheerliggaam se funksie is dus een van `n raadgewer, adviseur of konsultant. [32] `n Enkele opmerking is nie onvanpas nie, en dit is: Op die Provinsiale Onderwysdepartement word ? groot verantwoordelikheid geplaas by die aanstelling van opvoeders in terme van artikel 6A. Hulle alleen sal rekenskap moet gee dat die applikant wat aangestel staan te word voldoen aan die vereistes van die pos en oor die nodige kwalifikasies beskik.” Die beheerliggaam moet aan die skoolhoof opdrag gee om nie enige opvoeder te aanvaar voordat die beheerliggaam `n aanbeveling oor die persoon gemaak het nie. Indien `n student vir diens kom aanmeld omdat die Departement hom/haar sonder die regte prosedure geplaas het, kan die FEDSAS-skrywe vir botallige opvoeders gebruik word.

Vraag:
Hoërskool Aruab se skoolhoof bel jou vir advies. `n Groot groep ouers is ongelukkig oor bepaalde besluite wat die beheerliggaam geneem het, en het `n petisie onderteken waarin hulle die beheerliggaam versoek om onmiddellik te bedank sodat hulle vervang kan word. Die ouers versoek ook die gebruik van die skoolsaal vir `n ouervergadering wat hulle self sal reël.

Antwoord:

Die skoolbeheerliggaam is die wettige verkose liggaam met die regsbevoegdheid om besluite te neem (sien artikel 16 van die Suid-Afrikaanse Skolewet). Hierdie besluite moet verantwoordelik en rasioneel wees. (Raadpleeg ook die webblad vir die dokument van Etiek SA oor besluitneming.) Dit is goeie praktyk om die skoolgemeenskap van terugvoer oor beheerliggaambesluite te voorsien en ook meganismes te skep waardeur lede van die skoolgemeenskap redes vir besluite kan aanvra of klagte kan lê. Geen ouer of groep ouers kan die beheerliggaam van hul pligte onthef nie. Die Onderwyshoof kan egter onder bepaalde (hoogs uitsonderlike) omstandighede drasties ingevolge artikel 18A, 22 en 25 optree en individue onthef of die hele beheerliggaam ontbind. Daar is egter `n proses wat gevolg moet word, en daar moet duidelike getuienis wees dat die beheerliggaam hul plig versuim of geheel en al ophou funksioneer het. Die beheerliggaam moet die gegriefde ouers versoek om hul griewe op skrif te stel sodat die beheerliggaam `n behoorlike ondersoek van stapel kan stuur of `n antwoord kan voorberei. Die beheerliggaam kan ook oorweeg om `n ouerafvaardiging in `n kleiner vergadering te ontmoet om die geskille te probeer besleg. (FEDSAS kan ook in hierdie proses as fasiliteerder optree.) Dit is nie raadsaam om die skool se geriewe vir drukgroepvergaderings beskikbaar te stel nie. Die beheerliggaam behoort die proses te bestuur en moet nooit toelaat dat die middelpunt van beheer verskuif nie. Indien die beheerliggaam bostaande proses gevolg het en gereed is met antwoorde op die vrae, kan `n ouervergadering oorweeg word om terugvoer te gee. Die beheerliggaam is egter dan in beheer van die vergadering.

Vraag:
Die voorsitter van Laerskool Aruab wil die volgende by jou weet: Kan hulle skool se toelatingsbeleid gewysig word om kinders wat van ander skole kom en wie se ouers oral verseg om skoolgeld te betaal, toelating te weier? Die beheerliggaam gebruik reeds kinders se dissiplinêre rekord om aansoeke te oorweeg.

Antwoord:

Dit sou baie moeilik wees om die toelatingsbeleid te wysig, omdat hierdie bepaling amper op `n ‘strafsanksie’ teen die leerder sou neerkom. Die Suid-Afrikaanse Skolewet (die Skolewet) bepaal dat die skoolbeheerliggaam verantwoordelik is vir die bepaling van die skool se toelatingsbeleid, onderworpe aan die Skolewet en provinsiale wetgewing [artikel 5(5)]. In The MEC of Education v. Queenstown Girls High School-saak is daar opgemerk dat die toelatingsbeleid onderworpe is aan `n aantal belangrike beperkinge. In die eerste plek moet sodanige beleid in pas wees met die Grondwet. Dít beteken dat die beleid nie op enige manier onbillik teen enige persoon mag diskrimineer nie (paragraaf 28). Artikel 29(1)(a) en 2 van die Grondwet bepaal verder dat elkeen die reg het op basiese onderwys sowel as om in openbare onderwysinstellings in die amptelike taal van hul keuse onderrig te ontvang. Die toelatingsbeleid moet voorts aan die bepalings van die Skolewet voldoen. Artikel 5(3) van die Skolewet bepaal dan ook dat geen kind toegang tot `n skool geweier kan word op grond daarvan dat sy/haar ouers nie kan of wil skoolgeld betaal nie. Skoolbeleid kan dus nie `n kind toegang weier op grond daarvan dat ouers nie skoolgeld wil betaal nie. Indien die ouers nie die skoolgeld kan betaal nie, kan hulle om vrystelling aansoek doen ingevolge die Departement van Onderwys se regulasies oor die vrystelling van die betaling van skoolgeld. Artikel 41(7) bepaal verder dat geen leerder van sy/haar reg om aan enige skoolaktiwiteite deel te neem ontneem mag word nie, ten spyte van sy/haar ouers se versuim om skoolgeld te betaal. Die enigste manier om die saak te hanteer is om die toelating van sulke leerders dermate te beheer dat leerders wat `n ander skool systap om na jou skool toe te kom op `n waglys geplaas word en slegs toelating kry nadat jy seker is dat daar in al jou naaste leerders se behoeftes voorsien is. Jy laat hulle dus net toe as daar nog plek is (en hoop intussen dat leerders wie se ouers hul verantwoordelikhede nakom die skool volmaak). Die reg op onderwys is 'n reg teen die staat en nie teen `n bepaalde skool nie. Jou skool se toelatingsbeleid kan inderdaad vir `n geografiese toevoergebied voorsiening maak. Jy kan dus kinders uitsluit wat ander skole systap, of, beter gestel, voorkeur verleen aan leerders wat nader aan die skool woon. (Dit is natuurlik `n probleem as jou skool nié vol is nie.) Die beheerliggaam moet `n proses instel en laat bestuur om skoolgeld in te vorder, en moet in geval van wanbetaling die nodige regstappe doen. Artikel 41 van die Skolewet bepaal dat die skool die betaling van skoolgeld deur middel van regswerking kan afdwing. Hulle moet dus die kind toelaat, maar die skool kan stappe doen om die betaling van skoolgeld af te dwing indien die ouers sonder goeie rede weier. `n Leerder se dissiplinêre rekord kan wél by oorweging van toelating in ag geneem word. Sien in hierdie verband ook FEDSAS se konseptoelatingsbeleid en die twee hofsake van die Hoër Meisieskool Queenstown op ons webwerf.

Vraag:
Hoërskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel jou baie bekommerd. Die omgewing gaan reeds `n geruime tyd gebuk onder `n tekort aan skole. Hoewel hul skool reeds stampvol is met Afrikaanssprekende leerders, ervaar hulle geweldige druk om Engelssprekende leerders toe te laat. Die beheerliggaam het die Departement telkens weggewys omdat daar letterlik nie meer oop klaskamers is nie. Die Departement het die skoolhoof Vrydag in kennis gestel dat hulle Donderdag ses opslaanklasse sal kom oprig wat dan vir die naburige oorvol Engelse skool se oorskotleerders gebruik kan word. Die beheerliggaam behoort tot FEDSAS, en weet dus wat hul regte met betrekking tot taal- en toelatingsbeleid is, maar benodig advies oor die nuwe opslaanklasse.

Antwoord:

Die grond en geboue waarop en waarin die skool geleë is, behoort (met enkele uitsonderings) natuurlik aan die staat. Kragtens artikel 13 van die Suid-Afrikaanse Skolewet (die Skolewet) het die skool (as regspersoon) egter die reg om daardie grond en geboue te beset en te gebruik. Artikel 13 lui soos volg: “(2) Behoudens artikel 20(1)(k) het `n openbare skool wat vaste eiendom okkupeer wat deur die Staat besit word, die reg om, vir die duur van die skool se bestaan, die vaste eiendom te beset en te gebruik tot voordeel van die skool vir opvoedkundige doeleindes by of in verband met die skool. (3) Die reg bedoel in subartikel (2) kan slegs beperk word: (a) deur die Lid van die Uitvoerende Raad; en (b) indien die vaste eiendom nie deur die skool in die belang van die onderwys benut word nie.” Die twee regte wat deur die twee woorde in vetdruk hier bo geskep word, is besitreg en gebruiksreg. Albei hierdie regte staan in ons regstelsel as saaklike regte bekend omdat dit met fisiese, tasbare sake te doen het. Op sekere uitsonderings na is saaklike regte in sekere sin ‘absolute’ regte wat jy met uitsluiting van andere het en uitoefen. Tensy jy anders ooreenkom, is jy byvoorbeeld die alleeneienaar van grond of `n voorwerp, en mag niemand op daardie reg inbreuk maak nie. Die besit- en gebruiksregte wat in die Skolewet vervat word, is sulke uitsluitlike regte. Ander mense (selfs die eienaar, met ander woorde die Departement van Onderwys) word van die besit en gebruik van die eiendom uitgesluit. Hiermee saam moet artikel 20(1)(g) van die Skolewet gelees word. Dit lui soos volg: “(1) Behoudens hierdie Wet moet die beheerliggaam van `n openbare skool: (g) die skool se eiendom, asook die geboue en gronde deur die skool beset, met inbegrip van koshuise, administreer en beheer, maar die uitvoering van hierdie bevoegdheid moet op geen manier met die implementering van `n besluit wat die Lid van die Uitvoerende Raad of Departementshoof ingevolge enige reg of beleid geneem het, inmeng of dit andersins belemmer nie ...” (Die laaste stukkie van hierdie artikel, “maar die uitvoering van hierdie bevoegdheid ... inmeng of andersins belemmer nie”, is in 2007 bygevoeg. Tans bestaan daar nie enige reg of beleid wat die Lid van die Uitvoerende Raad of Departementshoof in staat stel om `n besluit soos wat die artikel beoog, te neem nie). As jy dié wetgewing se implikasies reg verstaan, het geen persoon, ook nie departementele amptenare nie, die reg om die skoolterrein sonder beheerliggaamtoestemming te betree of enigsins te gebruik nie. Die Departement kan dus slegs die tydelike klasse by die skool oprig indien die beheerliggaam geraadpleeg is en hulle daartoe toestem. Daar moet ook aan die minimum vereistes vir fisiese geriewe, soos ablusiegeriewe en veiligheid, voldoen word, en voldoende bykomende onderwysers en handboeke moet tot die skool se beskikking gestel word, alvorens `n beheerliggaam kan oorweeg om dié stap goed te keur. Skoolhoofde moenie die proses bestuur nie omdat dit hulle aan allerhande druk van hul werkgewer blootstel. Die beheerliggaam moet hier sterk leierskap openbaar en in hierdie gesprekke die leiding neem. Die beheerliggaam moet die skoolhoof opdrag gee om geen aflewering van enige struktuur te aanvaar of enige afleweringsvoertuig op die skoolterrein toe te laat nie. Indien die afleweraar die skoolgrond betree, moet die Suid-Afrikaanse Polisiediens gevra word om die persoon te verwyder. Laat dit vir ons `n waarskuwing wees. Ons het getuienis van lede van FEDSAS wat met allerhande mooi stories by hierdie prosesse ingesleep is, en wat uiteindelik bedroë daarvan afgekom het. Die Departement het `n wesenlike probleem. Hulle kan nie die probleem hanteer nie, en die maklikste is dus om die probleem op `n funksionele beheerliggaam of skool af te skuif. Die oomblik as hulle van hul probleem ontslae geraak het (deur dit op jou af te skuif), beweeg hulle eenvoudig aan in die salige wete dat jy bekwaam is en daardie probleem sal oplos. Jy sal nie buitebande brand, paaie versper, geboue afbrand en klippe gooi nie; jy sal ewe gedweë die probleem hanteer. Dit is tans `n amptelike program van byvoorbeeld die Wes-Kaapse Onderwysdepartement om by suksesvolle skole vir bykomende leerders plek te maak. Deur die oprigting van bykomende klaskamers wil hulle nog sowat 400 000 leerders by hierdie skole laat toelaat. Vir enkeltalige skole wat wél meer leerders kan inneem, is dit nie noodwendig `n probleem nie. Die probleem ontstaan by parallel- of dubbelmediumskole wat in Afrikaans/Engels onderrig gee, waar die toename uitsluitlik `n toename in Engelstalige leerders sal wees en dus onderrig in Afrikaans onder druk sal plaas. Kortom: Die ses opslaanklasse moet maar by die Engelse skool afgelewer word ná oorleg met daardie beheerliggaam.

Vraag:
Laerskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Die plaaslike tak van die ANC het Vrydag met hom en die skoolhoof vergader en dring daarop aan dat 35 Engelse kinders in die skool toegelaat moet word. Die ANC-lede het dit duidelik gestel dat hulle die skool sal bestorm en oorneem as daar nie onmiddellik op hulle versoek ag geslaan word nie. Daar is ook gedreig dat beheerliggaamlede nie veilig sal wees nie. Die ANC wil eerskomende Dinsdag weer met die hele beheerliggaam vergader, en die voorsitter wil weet hoe hy die saak moet hanteer.

Antwoord:

Laerskool Aruab is een van vele skole wat politieke druk ervaar. Die Skolewet verleen egter nie enige regte aan politieke partye op skoolterreine nie. Die beheerliggaam is ingevolge artikel 20(1)(g) verantwoordelik vir die beheer van die skoolterrein. Indien daar enige dreigement van besetting of oortreding is, is dit die beheerliggaam se verantwoordelikheid om die skoolhoof opdrag te gee om die skoolterrein te sluit. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens moet onmiddellik ingelig word oor die dreigement, en hulle teenwoordigheid moet by die skool versoek word.
Die toelatingsbeleid is die uitsluitlike verantwoordelikheid van die beheerliggaam, en behoort slegs ná behoorlike oorlegpleging gewysig te word.
Dit is wél so dat `n leerder `n reg op onderrig het, maar dit is die Departement wat hieraan uitvoering moet gee. Indien 35 leerders nie skoolplek het nie, moet die ouers en leerders by die distrikskantoor gaan aanmeld, van waar die nodige oorlegplegingsproses kan begin. Ingevolge artikel 5(7) van die Skolewet moet aansoek om toelating by die Departementshoof  gedoen word, en is die beheerliggaam by magte om ooreenkomstig die bepalings van die Skolewet en ander toepaslike provinsiale wetgewing die skool se toelatingsbeleid te bepaal.
Die politieke leiers behoort daarom ook hiervan ingelig te word, en konfrontasie op die skoolterrein moet ten alle koste vermy word.
Konstruktiewe gesprekke met gemeenskapsleiers moet egter nie geringgeskat of bloot van die tafel gevee word nie. Die eerste stap in die hantering van `n aantyging/klagte/bewering is om ál die inligting te bekom ten einde op `n pad vorentoe te besluit, maar daar moet teen onmiddellike reaksie of kortsigtige antwoorde gewaak word.

Vraag:
Laerskool Aruab se skoolhoof bel u vir advies. Die skool het dié week twee verwysings van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ontvang nadat twee van die personeellede in 2009 se kontrakte volgens die hoof nie hernu is nie. Die skool se prokureur sal die saak verder hanteer, maar die hoof wil weet hoe hy `n soortgelyke saak in die toekoms kan voorkom.

Antwoord:

Streng tegnies beskou, word geen kontrak hernu nie: Daar word `n nuwe ooreenkoms gesluit.

Ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge word die niehernuwing van `n vastetermynkontrak ook as ontslag beskou indien daar `n gegronde verwagting geskep is dat die kontrak hernu sou word.

“186: (1) Ontslag beteken dat –
                 (b) `n werknemer redelikerwys verwag het dat die werkgewer `n vaste termyn dienskontrak op dieselfde of soortgelyke terme sou hernu maar die werkgewer het aangebied om dit op minder gunstige terme te hernu of het dit glad nie hernu nie ...”

Die blote feit dat die kontrak dit duidelik stel dat die aanstelling vir een jaar is, vrywaar geen beheerliggaam teen `n eis van onbillike ontslag nie.

Goeie praktyk sou wees om die volgende as beleid te aanvaar:

• Gebruik FEDSAS se voorbeeldkontrakte.
• Beheerliggaamposte is vir `n termyn van een jaar (tensy die skool se finansies `n langer termyn toelaat).
• Alle beheerliggaamposte sal ná die goedkeuring van die volgende jaar se begroting heradverteer word (hetsy intern of ekstern).
• Alle aanstellings vir die volgende jaar moet jaarliks teen einde November afgehandel wees.
• Die skoolhoof is verantwoordelik vir die optekening en bestuur van die proses.

Die grootste enkele probleem is wanneer daar geen skriftelike ooreenkomste bestaan nie, of wanneer persone aanvaar dat kontrakte ‘outomaties’ jaarliks hernu sal word en dus `n gegronde verwagting koester dat die kontrak maar net sal voortduur of selfs dat die aanstelling nou permanent is.

Daar bestaan ook geen regsbepaling wat voorskryf dat `n persoon wie se vastetermynkontrak meer as drie keer hernu is nou `n permanente werknemer is nie.

Vraag:
Laerskool Aruab se skoolhoof bel u vir advies. Hy het in die koerant van `n sogenaamde VGLO (“QLTC”) gelees en wil weet of die skool enigiets moet doen. Dit blyk ook dat hy nie regtig weet wat die VGLO is of behels nie. Gee kortliks terugvoer aan u lid.

Antwoord:

Die veldtog vir gehalteleer en -onderrig (VGLO) (“the Quality Learning and Teaching Campaign”, oftewel “QLTC”) is deur die Departement van Onderwys van stapel gestuur en is toegespits op die belangrike rol van alle onderwysbelanghebbendes, veral opvoeders en amptenare, in die gehalte-intervensies wat nodig is vir doeltreffende leer en onderrig. Die uitgangspunt van hierdie veldtog is dat opvoeding `n maatskaplike aangeleentheid is en nie net `n departementele of regeringsaangeleentheid nie.  
Die veldtog doen `n beroep op alle individue en organisasies om verantwoordelikheid te aanvaar om die gehalte van opvoeding te verbeter.
Die VGLO wil alle burgers oor die belang van opvoeding sowel as hulle rolle, verantwoordelikhede en verpligtinge met betrekking tot opvoeding inlig; gemeenskappe aanmoedig om skole, onderwysers en leerders te moniteer en te ondersteun, en die gehalte van opvoeding vir alle kinders verbeter. 
Die sukses van bogenoemde doelstellings hang van die optrede van departementele amptenare, skoolhoofde, opvoeders, leerders, ouers en die gemeenskapslede af. Alle rolspelers word versoek om hulle aan `n ‘kode vir gehalte-opvoeding’ te verbind. Hierdie kode beskryf die verantwoordelikhede en dissipline wat van hulle verwag word. Daar is verskillende koördineringstrukture op nasionale, provinsiale en streeksvlak, en die regering doen `n beroep op alle Suid-Afrikaners om hulle by die veldtog aan te sluit.  
Die VGLO onderskryf dieselfde visie en waardes as die waarvoor FEDSAS staan, en daarom word elke lidskool van FEDSAS aangemoedig om self by die veldtog betrokke te raak.

Die Departement het as deel van die veldtog `n meetinstrument ontwikkel om skoolgereedheid en die nakoming van die VGLO te meet. Laerskool Aruab kan dus gerus die meetinstrument voltooi en aan die Departement stuur. Die doel van die instrument is om die Departement in staat te stel om dienslewering in die onderwysstelsel te moniteer, probleemgebiede uit te wys en daaraan aandag te gee.
Skooldeelname is dus noodsaaklik: Hoe meer skole deelneem, hoe meer akkuraat sal die Departement se resultate wees. Die Departement sal slegs dienslewering kan verbeter indien skole die Departement help om probleemgebiede uit te wys. Skole moet betrokke raak by alle pogings van die Departement om opvoeding te verbeter.
 
FEDSAS ondersteun die VGLO, en sal ná die nasionale werksessie van 17 April meer inligting oor die praktiese werking daarvan vir ons lede kan gee.

Gaan kyk gerus ook weer na FEDSAS se Spesiale Nuusbrief 2 van 2010.

Vraag:
Hoërskool Aruab se skoolhoof bel u vir advies. Die skool sukkel jaarliks om skoolgeld van geskeide ouers in te vorder. In een geval het die ma toesig oor haar drie dogters (almal in die skool), en is die pa ingevolge die egskeidingsbevel verantwoordelik om skoolgeld te betaal. Hoewel sy `n goeie inkomste verdien, weier die ma om enige skoolgeld te betaal omdat sy `n hofbevel in haar guns het. Die pa het na bewering nie `n vaste werk nie. Hoe moet die skool dié geval hanteer?

Antwoord:

Uit hoofde van die omskrywing van ‘ouer’ in artikel 1 van die Skolewet, kan `n skool by albei of enigeen van die ouers van `n leerder om die betaling van skoolgeld aandring.  Albei ouers is verantwoordelik vir die opvoeding van die kind. Skoolgeld is `n statutêre verpligting wat die leerder se ouers uit hoofde van die bepalings van artikel 40(1) van die Skolewet moet betaal. Die ouers (getroud/ongetroud/geskei) is gesamentlik én afsonderlik aanspreeklik. (Sien in dié verband ook die uitspraak in Fishhoek Primary School v GW op www.fedsas.org.za.)
`n Egskeidingsbevel is `n bindende bevel wat op die partye in die egskeiding van toepassing is. Die skool is nie `n party in die egskeiding nie, en dus ook nie in die hofbevel nie. In beginsel het dit niks met die skool te doen dat die pa en ma geskei is nie. Die feit dat `n egskeidingsbevel die pa gelas om onderhoud of die kind se skoolgeld te betaal, is ook `n saak tussen die ma en pa. Dit gee aan die ma `n reg teenoor die pa, en sy moet dus haar regsverhale gebruik om die geld in te vorder.
Die ouer(s) is verantwoordelik om om vrystelling aansoek te doen en die beheerliggaam te oortuig dat hulle op algehele of gedeeltelike vrystelling geregtig is. In dié geval staan dit die ma vry om ingevolge die regulasies oor die vrystelling van skoolgeld (op die webblad of in die FEDSAS/Juta-publikasie, bl 161) om vrystelling aansoek te doen. Die beheerliggaam moet dan hierdie aansoek saam met ál die tersaaklike dokumente oorweeg voordat vrystelling verleen kan word.
Sien ook die bespreking van verskillende scenario’s oor skoolgeld op die webblad onder “Lede – Dokumente/Regsopinies/Finansies” onder die opskrif “Vrae oor skoolgeld”.

Vraag:
Hoërskool Aruab se skoolhoof stuur die volgende e-pos aan u vir advies:“Jammer om te pla. `n Skool mag mos nie `n kind ouer as 15 toelating weier nie. As hy dan toegelaat word en hy kwalifiseer vir kwytskelding, mag die skool dit weier? Graag verneem ek of kwytskelding of gedeeltelike kwytskelding van skoolfonds vir alle leerders geld, al is hulle ouderdom van so `n aard dat hulle volgens huidige wetgewing nie meer skoolpligtig is nie.”

Antwoord:

1. Kragtens die Grondwet is enige persoon (ook `n 80-jarige) op basiese onderwys geregtig.
2. Kragtens die Skolewet is `n kind tot op die ouderdom van 15 (of die einde van graad 9) verplig om skool te gaan.
3. ‘Verplig om skool te gaan’ moet van ‘geregtig om skool te gaan’ onderskei word.
4. Die Skolewet en die regulasies vir vrystelling van skoolgeld geld vir alle skole (met graad R tot graad 10).
5. Dus is die regulasies van toepassing op almal wat geregtig is om skool te gaan (ongeag hulle ouderdom), en nie net op diegene wat verplig is om skool te gaan nie.

Vraag:
Laerskool Aruab se skoolhoof het `n navraag na aanleiding van waarskuwings oor veiligheid, veral vervoerveiligheid, wat die skool van `n vakbond ontvang het. Aruab maak Saterdag van ouers gebruik vir vervoer na en van `n sportbyeenkoms op Karasburg. Wie aanvaar verantwoordelikheid in geval van beserings/sterftes in `n padongeluk – die skool, die ouer wat vervoer bied, die kind se ouer, of die Departement?

Antwoord:

As iemand as gevolg van vervoer in `n voertuig sterf of beseer word, word die verlies of skade deur die Wet op Motorvoertuigongelukke (of `n ‘derdeparty-eis’ soos dit altyd bekend was) gedek. Die probleem was altyd dat jou eis beperk was indien die verlies of skade aan die nalatigheid van die voertuigbestuurder te wyte was. Artikel 60 van die Skolewet bepaal egter dat die staat verantwoordelik is vir enige verlies of skade wat enige persoon as gevolg van/met betrekking tot `n skoolaktiwiteit ly. Die Skolewet omskryf ‘skoolaktiwiteit’ as enige amptelike opvoedkundige, kulturele, ontspannings- of sosiale aktiwiteit van die skool op of buite die skool se perseel. Vervoer na en van sportgeleenthede word dus deur artikel 60 gedek omdat dit as ontspanningsgeleenthede beskou word.
Die Byrne-saak is juis so `n saak teen die Lid van die Uitvoerende Raad verantwoordelik vir onderwys (sien ons webwerf onder “Risiko-aanspreeklikheid” en “Hofsake”). Al wat dus nodig is, is dat die ouers wat vervoer verskaf `n brief van die skoolhoof/voorsitter van die beheerliggaam moet hê waarin hulle versoek word om leerders na en van `n skoolaktiwiteit te vervoer. Die interessante is natuurlik dat die ouer wat die vervoer verskaf dan ook onder artikel 60 gedek sal wees vir `n eis om vergoeding vir verlies of skade as hy/sy ook verlies of skade sou ly.

Let ook op die wysiging wat in 2007 aan artikel 60 aangebring is deur die invoeging van `n subartikel 1(b):

“(b) Waar `n openbare skool versekering uitgeneem het en die skoolaktiwiteit een van die gebeurlikhede is wat deur die versekeringspolis gedek word, is die Staat se aanspreeklikheid beperk in die mate dat die skade of verlies nie ingevolge die polis vergoed is nie.”

Die implikasie van dié wysiging spreek vanself. Die skool hóéf nie teen sodanige gebeurlikhede versekering uit te neem nie. Dit beperk eintlik net die staat se aanspreeklikheid tot die bedrag wat die versekering nié uitbetaal nie.
 

Vraag:
Laerskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Die skool het `n nuwe Wiskunde-opvoeder aangestel (beheerliggaamaanstelling) om in die behoeftes van die skool te voorsien. Nou kla `n aantal ouers egter dat hierdie opvoeder ná skool teen vergoeding ekstra Wiskundeklasse aanbied. Die ouers reken dat die opvoeder `n salaris by die skool ontvang om Wiskunde te gee, en dat hulle daarom nie enige verdere geld hoef te betaal nie. Die beheerliggaamvoorsitter kan nie onthou dat die opvoeder enige toestemming gevra het om ekstra klasse by die skool aan te bied nie. Adviseer die lid.

Antwoord:

Omdat die aanstelling `n beheerliggaamaanstelling is, geld die Wet op Indiensneming van Opvoeders nie, maar wél die Wet op Basiese Diensvoorwaardes en die Wet op Arbeidsverhoudinge (albei beskikbaar op die webblad).
Eerstens moet die beheerliggaam FEDSAS se voorbeeldkontrak vir opvoeders gebruik. Die opvoeder se opdrag sowel as sy werksure moet duidelik in sy dienskontrak (aanhangsel A) uiteengesit word. Ingevolge hierdie kontrak moet die opvoeder die beheerliggaam se toestemming kry om enige ander inkomste te verdien. Selfs al swyg die kontrak oor hierdie bepaalde item, bepaal die gemenereg dat die werker altyd in goeder trou moet optree en nie met die werkgewer mag meeding nie.
Indien so `n aansoek voor die beheerliggaam dien, moet die beheerliggaam vasstel of die ekstra klasse wérklik ekstra klasse is, en dat gewone onderrig dus wél in skooltyd plaasvind. Sulke ekstra klasse is vrywillig, en val buite die persoon se gewone onderrigtyd. Daarom behoort hy vir sy professionele dienste vergoed te word. In dieselfde asem moet daar egter op gelet word dat hy nie vergoed behoort te word indien hy die ekstra klasse verpligtend maak nie. Daar moet ook daarteen gewaak word dat die opvoeder doelbewus die gewone klasse afskeep en só `n kunsmatige behoefte aan ekstra klasse skep om sy inkomste te verhoog.
Ekstra klasse val onder die regsbevoegdheid van die skoolhoof se professionele bestuur, en behoort dus met hom opgeklaar te word. 
Indien die kontrak egter na ? tweede werk/inkomste verwys, sal die persoon eers met die beheerliggaam moet onderhandel om die ekstra klasse teen vergoeding te kan aanbied.
Die volgende opmerking van een van die bestuurders is veral baie akkuraat:
“Onthou asseblief altyd dat die ouers – al betaal hulle skoolfonds – nie so ? persoon se privaat tyd kan annekseer nie.”
Werksure word ingevolge die Wet op Basiese Diensvoorwaardes gereguleer, en skoolhoofde moet hulle personeel se werksure binne hierdie tyd bestuur.
 

Vraag:
Die beheerliggaamvoorsitter van Hoërskool Aruab bel u vir advies. Een van die beheerliggaam se lede kan nie met vertroulike inligting vertrou word nie en het die beheerliggaam reeds verskeie kere in die verleentheid gestel. Die end was toe hy wéér vertroulike inligting met `n borg van die skool gedeel het en die skool as gevolg hiervan `n borgskap kwyt is. Die voorsitter deel u mee dat die beheerliggaam borgskappe bespreek het om `n beleid daaroor op te stel en dat hulle steeds daarmee besig is. Die res van die beheerliggaam dreig om te bedank as die persoon verder bly dien, en die voorsitter wil weet hoe hierdie lid uit die beheerliggaam verwyder kan word.

Antwoord:

Artikel 28(c) van die Skolewet bepaal dat die Lid van die Uitvoerende Raad by wyse van kennisgewing in die Provinsiale Koerant die prosedure vir die ontheffing of verwydering van `n lid van `n beheerliggaam moet bepaal. 
Elke beheerliggaam moet ook `n gedragskode vir sy lede opstel. Die lede van die beheerliggaam moet dan volgens hierdie gedragskode optree. Die gedragskode moet die prosedure uiteensit indien `n lid die kode sou oortree. (Sien FEDSAS se webblad – “Gedragskode vir lede van beheerliggame”.) Nadat ander lede `n klag oor `n betrokke lid by die beheerliggaamvoorsitter kom lê het, moet die voorsitter die klag ondersoek. 
`n Buitengewone vergadering moet dan belê word om die saak te hanteer. 
`n Ondersoekkomitee moet aangestel word om die saak verder te ondersoek, welke komitee die aangeklaagde lid behoorlik van die klag teen hom moet inlig. Die lid moet dan die geleentheid ontvang om vertoë te rig, wat die komitee moet oorweeg voordat hulle `n aanbeveling by die beheerliggaam doen.

Na gelang van die erns van die oortreding (in dié geval die skending van die vertrouensposisie tussen die lid en die ander lede van die beheerliggaam, en die openbaarmaking van vertroulike inligting), kan die komitee by die provinsiale onderwyshoof aanbeveel om die lid se lidmaatskap van die beheerliggaam te beëindig.  
Die hoof van die provinsiale onderwysdepartement moet die aanbeveling oorweeg en, mits die beheerliggaam die regte prosedures gevolg het, `n besluit neem om die aanbeveling hetsy te bekragtig of van die hand te wys. Indien die hoof van die provinsiale onderwysdepartement die aanbeveling bekragtig, moet hy die beheerliggaam so gou moontlik skriftelik van sy besluit in kennis stel, skriftelike redes vir sy besluit verskaf, en die lid van sy reg van appèl teen die besluit inlig. 
 

Vraag:
Die beheerliggaamvoorsitter van Hoërskool Aruab bel u vir advies. Met al die mediadekking oor sokker en die Wêreldbekersokker wat in Suid-Afrika aangebied word, dring `n paar ouers by die skoolhoof aan dat sokker as een van die skool se sportsoorte aangebied word. Een van die ouers is reeds besig om borgskappe vir die uitrustings te kry en `n ander wil die span afrig. Die skoolhoof meen egter dat dit net `n gier is wat weer sal oorwaai, maar die res van die beheerliggaam wil die saak reg benader, en soek daarom u advies.

Antwoord:

Geen bepaling in die Skolewet of enige ander wetgewing gee aan `n departement die reg om enige voorskrifte met betrekking tot buitekurrikulêre aktiwiteite aan skole uit te reik nie. Hieruit volg dus dat dit uitsluitlik die skoolbeheerliggaam se prerogatief is om besluite oor `n buitekurrikulêre aktiwiteit soos sport by die betrokke skool te neem.

Die beheerliggaam behoort die ouers wat die inisiatief van stapel stuur vir hulle belangstelling te bedank, maar verduidelik dat die saak eers goed ondersoek moet word om `n ingeligte en lewensvatbare besluit te neem. Die beheerliggaam kan `n komitee aanstel (of die sportkomitee opdrag gee) om die versoek te ondersoek en `n aanbeveling by die beheerliggaam te doen. Die volgende twee dokumente op FEDSAS se webblad kan in dié verband bestudeer word: “Buitekurrikulêre aktiwiteite by openbare skole” en “Sport by openbare skole”. 

Ondervinding het ook geleer dat ouers soms betreklik onrealistiese eise en verwagtinge stel. Dít is dikwels omdat ouers nie noodwendig die implikasies van daardie eise en verwagtinge besef nie. Die wyse waarop dit hanteer moet word, is nie om die eise of verwagtinge voor die voet te weier nie, want dít kan negatiewe gevolge hê. Ouers moet weet watter faktore `n beheerliggaam in sulke omstandighede moet oorweeg.

Die volgende faktore kan onder andere in ag geneem word:

• Die skool se samestelling, en die behoeftes van leerders. (As die meerderheid of `n beduidende aantal leerders sokker as sportaktiwiteit ondersteun, sou dit `n moontlikheid wees, want dan is daar genoeg leerders wat aan die sport sal deelneem.)
• As sokker `n nuwe sportsoort is, moet die beheerliggaam in elk geval n` deurtastende ondersoek na die lewensvatbaarheid daarvan op tou sit. As dit egter sommer `n gier is, moet die beheerliggaam dit rustig hanteer en saam met die entoesiastiese ouers `n ordentlike ondersoek na die volhoubaarheid van die saak instel. Aspekte soos die beskikbaarheid van afrigters, skeidsregters en toerusting soos doelhokke, nette en klere moet oorweeg word. Alle infrastruktuur moet ook oorweeg word, sowel as botsings tussen die verskillende sportkodes se gebruik van skoolfasiliteite.
• Die beskikbaarheid van geld moet ook aandag kry. Indien dit nie by die bestaande begroting ingesluit is nie, sal dit eers in `n daaropvolgende jaar `n item kan wees. 
• Daar moet bepaal word of ander skole in die omgewing reeds sokker speel; ruimte en tyd vir wedstryde moet beoordeel word, soos ook aansluiting by sokkerklubs of sokkerstrukture, en die gepaardgaande ledegeld.
• Die skoolhoof en personeel se betrokkenheid en gesindheid is belangrik, aangesien die aanbied van die sportsoort tog die skool se aktiwiteite in die geheel sal beïnvloed. Partykeer is dit moeilik om byvoorbeeld `n rugby- én sokkerspan te hê, want dieselfde leerders neem aan albei deel.

Bostaande sal noodwendig met volledige oorlegpleging met die leerders, ouers en personeel van die skool gepaardgaan.

As alternatief kan `n spesiale projek ten tyde van die Wêreldbeker van stapel gestuur word:
 
1. Dit kan goed wees om in die aanloop tot en tydens die Wêreldbekertoernooi sokker by u skool aan te bied, met inagneming van beskikbare infrastruktuur en menslike hulpbronne. Dit is in nasionale belang om die leerders aan die spel en die ondersteuning van die kompetisie bloot te stel.

2. Ná die euforie van die Wêreldbeker kan die saak opnuut in oënskou geneem word om te bepaal of sokker as `n buitemuurse aktiwiteit by die skool aangebied kan word.

Vraag:
Hoërskool Aruab se skoolhoof bel u vir advies. Twee van sy leerders was die naweek betrokke in `n onderonsie met `n leerder van `n ander skool. Sy twee leerders is wit seuns, en die leerder van die ander skool `n swart meisie. Die media het die saak dadelik oor `n rasseboeg gegooi, en soek dringend `n verklaring van die skool oor presies wat die skool aan die saak gaan doen.

Antwoord:

Hoewel die beweerde oortreders leerders van die skool is, het die voorval buite enige ‘skoolaktiwiteit’ plaasgevind, en dus het die skool geen regsbevoegdheid oor hierdie leerders nie.

Indien die beheerliggaam sou besluit om wél `n verklaring uit te reik, sou dit niks meer as die volgende kon bevat nie:

“Die skool het kennis geneem van die bewerings, en betreur enige geval van wangedrag in ons samelewing. Die skool is egter nie `n party in die saak nie, omdat hier geen sprake van `n skoolaktiwiteit was nie, en die reg moet dus sy loop neem.”

Vraag:
Laerskool Aruab se skoolhoof het `n versoek van die opvoeders en leerders ontvang om Woensdag met sokkerklere skool toe te kom en die hele dag net sokker te speel. Moet hy iewers toestemming kry?

Antwoord:

Dit is nie nodig om toestemming te kry nie, behalwe as daar van die gewone skooltye afgewyk word. Daarvoor moet die beheerliggaam toestemming gee. As bestuurder van die skool is die skoolhoof by magte om so `n besluit te neem. Dit is egter belangrik dat die reëling nie op enige eksamen of akademiese aktiwiteit inbreuk maak nie. Die sokkerspelery is steeds `n skoolaktiwiteit. Indien die skool die geleentheid gebruik om die Wêreldbeker te ondersteun en opvoedkundig daaruit voordeel  trek (al is dit net `n bietjie algemene kennis, aardrykskunde en volkstrots), kan die hoof met groot vrymoedigheid sy toestemming gee sonder om by iemand anders verlof te kry. Dit kan natuurlik ook as hoogtepunt dien van `n meer formele Wêreldbekerprojek waaraan die skool deelgeneem het. Die dra van sokkerklere sou strydig wees met die klerebepalings in die gedragskode, en omdat dit nie `n gewone skoolaktiwiteit is nie, sou dit raadsaam wees om die beheerliggaam oor die besondere dag in te lig en na die ‘eindstryd’ te nooi.

Vraag:
“Ek is `n beheerliggaamlid by Hoërskool Aruab en wonder of jul enige raad het oor die koop van spelers. Is dit wettig? Skole beweer hul koop nié, maar gee net beurse of afslag, of dat dit nie húlle is wat koop nie, maar die oudleerderklubs.

Antwoord:

1. Daar is geen twyfel daaroor dat die ‘koop’ van kinders deur skole onwettig is nie.
2. In die meeste gevalle waarvan ek bewus is, geskied hierdie kopery deur ouers gratis onderrig of ‘beurse’ vir hul kinders aan te bied.
3. Die enigste regmatige en reëlmatige maatstaf waarvolgens ouers ‘afslag’ op skoolgeld aangebied kan word, is indien hulle vanweë finansiële onvermoë nie in staat is om skoolgeld te betaal nie en die voorgeskrewe proses in die regulasies vir die vrystelling van betaling van skoolgeld gevolg het.
4. FEDSAS beskik nie in hierdie stadium oor `n amptelike dokument waarin hierdie saak hanteer word nie, maar dit het dalk tyd geword dat ons wél so `n dokument saamstel.
5. Persoonlik is my grootste beswaar teen hierdie praktyk die morele dilemma om kinders as kommersiële kommoditeite te hanteer. Dit gee aan kinders die verkeerde indruk oor hulle eiewaarde, en skep myns insiens ook `n verwronge beeld van die opvoedkundige waarde van iets soos sport.
6. Dit is wél wettig as iemand, soos die oudleerderbond, die skoolgeld namens `n ouer betaal (soos wat ook dikwels gebeur), maar dit verander niks aan die moraliteitsargument nie.
 

Vraag:
U ontvang die volgende e-pos van 'n ouer met `n kind in Hoërskool Aruab:“Goeiemore, Aangeheg vind u `n nuusflits vanaf die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie aan sy lede ten opsigte van aanranding, belediging, ensovoorts teenoor onderwysers.

Antwoord:

Die Wet op Nasionale Onderwysbeleid, Wet 27 van 1996, bepaal in artikel 4(n) dat geen opvoeder lyfstraf mag toedien of `n leerder aan enige sielkundige of fisiese mishandeling mag blootstel nie.
Artikel 10 van die Skolewet verbied lyfstraf deur `n opvoeder, en indien `n opvoeder hierdie bepaling oortree, is hy/sy skuldig aan `n misdryf en kan `n straf vir aanranding opgelê word.
Die Wet op Indiensneming van Opvoeders, Wet 76 van 1998, bepaal verder in artikel 17 dat `n opvoeder ontslaan moet word indien hy/sy aan die ernstige aanranding van `n leerder, student of ander werknemer skuldig bevind word.
Die Grondwet bepaal ook dat elke persoon (dus elke leerder/ouer) onder andere die reg het op waardigheid, en dat daardie reg sowel as die reg op vryheid en sekerheid van die persoon beskerm en gerespekteer moet word.
Net soos in die geval van onderwysers wat slagoffers is van aanranding, belediging, ensovoorts, behou kinders/ouers hulle grondwetlike reg om strafregtelike klagtes by die polisie in te dien teen onderwysers wat hulle aan `n misdryf skuldig maak.
Die ouer/leerder kan `n poging aanwend om die situasie eers met die skoolhoof te bespreek, wat dan die klagte intern kan ondersoek. Ingevolge artikel 16A(2)(a)(ii) van die Skolewet is die skoolhoof verantwoordelik vir die bestuur van alle opvoeders, en moet enige wangedrag deur `n opvoeder dus by die skoolhoof aangemeld word, wat dan moet besluit watter stappe teen sodanige opvoeder gedoen moet word. Siviele sake kan ook ingestel word. Indien die skoolhoof egter versuim om teen `n opvoeder op te tree, kan die ouer/leerder die Departement van Onderwys of die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders nader.
Die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders het `n etiekkode vir opvoeders opgestel ingevolge waarvan `n opvoeder hom/haar van enige optrede moet weerhou wat op vernedering en/of enige vorm van mishandeling (fisies óf sielkundig) van `n leerder neerkom, en moet die opvoeder daarna streef om `n harmoniese verhouding met ouers in stand te hou. Die Wet op die Raad vir Opvoeders bepaal dat indien `n opvoeder enige bepaling in die kode of Wet oortree, die Raad die opvoeder dissiplinêr kan vervolg. Die dissiplinêre prosedure word volledig in die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders se dissiplinêre prosedure uiteengesit.
Indien `n ouer/leerder meen dat `n opvoeder in stryd met die etiekkode opgetree het, moet hy/sy `n skriftelike klag van wangedrag by die Raad indien, wat dan met die dissiplinêre ondersoek en verhoor ingevolge die Raad se dissiplinêre prosedure sal voortgaan.
Aangesien `n opvoeder `n werknemer van die Departement van Onderwys is, kan die Departement ingevolge die Wet op Indiensneming van Opvoeders ook die opvoeder vervolg indien hy/sy hom/haar aan wangedrag skuldig maak. Die prosedure hiervoor word in bylae 2 by die Wet (Wet 76 van 1998) vervat.

Vraag:
Die skoolhoof van Hoërskool Aruab bel u vir advies. Die beheerliggaam het die nuwe skoolkalender vir 2011 onder oë gehad en het ? probleem met die twee skooldae tussen die twee langnaweke in April. Die beheerliggaam reken dat die koshuisleerders nie by die skool sal wees nie, en dat dít beteken dat minder as 40% van die kinders op daardie twee dae sal skoolgaan. Hulle stel dus voor dat daardie twee dae as vakansie beskou word. Kan die beheerliggaam ? besluit neem om die skool in hierdie omstandighede te sluit?

Antwoord:

Die skoolhoof en/of die beheerliggaam is nie by magte om die skool vir die twee dae te sluit nie. Die Minister van Basiese Onderwys bepaal kragtens artikel 3 van die Wet op Nasionale Onderwysbeleid die dae per jaar waarop onderwys voorsien moet word. Dít word gedoen deur die skoolkalender vir elke jaar uit te reik. Die skoolkalender bepaal dan die aantal dae sowel as die spesifieke datums waarop skoolgehou moet word. Daar bestaan geen voorsiening in die reg waarkragtens ? mens die unieke situasie wat hom in 2011 voordoen doeltreffend kan hanteer nie. Kragtens die Skolewet (artikel 33) kan die Lid van die Uitvoerende Raad van ? provinsie ? skool sluit, maar daardie artikel het duidelik op permanente sluiting betrekking.
Kragtens artikel 16(4) van die Skolewet kan die Onderwyshoof ? skool sluit, maar ook net in geval van nood wat mense se lewe en welstand bedreig.

Kragtens die Wet op Nasionale Onderwysbeleid het die Minister beleid oor skoolkalenders bepaal (“National Policy for Designing School Calendars for Ordinary Public Schools in South Africa” – Kennisgewing 207 Staatskoerant 20945 van 1 Maart 2000). Daardie beleid maak wél in item 3 voorsiening dat ? beheerliggaam kan aansoek doen om die skool vir hoogstens twee dae vir doeleindes van godsdiens-, sport- of kultuurbeoefening te sluit. Weereens het dit egter nie op hierdie spesifieke situasie betrekking nie.

NS: Bostaande is ? werklike probleem in 2011, en FEDSAS het die saak by die NCF bespreek. Ons is meegedeel dat HEDCOM die saak in Augustus met CEM sal bespreek vir ? besluit.

Vraag:
Die beheerliggaamvoorsitter van Laerskool Aruab bel u vir advies. Die distrikskantoor het die skool versoek om afskrifte van alle beleid van die skool na die distrikskantoor te stuur. Die beheerliggaam het die saak bespreek en is erg verdeeld oor die versoek. Die helfte weier om die dokumente te lewer, en die ander helfte is bereid om die dokumente te lewer mits die Departement die koste daarvoor sal dra. Die voorsitter wil weet of die distrikskantoor by magte is om die dokumente te versoek.

Antwoord:

Hierdie antwoord kan van provinsie tot provinsie verskil, omdat provinsiale wetgewing kan vereis dat die Lid van die Uitvoerende Raad sekere beleid goedkeur of dat inligting beskikbaar gestel moet word. (In die Noord-Kaap moet sowel die toelatings- as die taalbeleid byvoorbeeld deur die Lid van die Uitvoerende Raad goedgekeur word.)

Wat egter van belang is, is dat daar behoorlike redes vir die versoek gegee moet word en dat hierdie versoek aan die beheerliggaam gerig moet word.

Hieronder is die advies wat aan lede in `n sekere streek gestuur is nadat alle voormalige model C-skole versoek is om hul beleid aan te stuur:
 
“Die skoolhoof het die versoek onder die aandag van hierdie skool se skoolbeheerliggaam gebring.

Ons wys u graag op die volgende:

1. Ingevolge die Skolewet val die administrasie (buiten professionele bestuur met betrekking tot die uitvoering van die kurrikulum) en finansiële sake van skole onder die regsbevoegdheid van die skoolbeheerliggaam.
2. Ingevolge artikel 59(2) van die Skolewet is die skool verplig om sodanige inligting oor die skool te voorsien as wat die Departementshoof redelikerwys nodig kry.
3. Hierdie bepaling het twee gevolge:

• Die versoek moet gestaaf word. Voorsien ons asseblief van die rede(s) vir hierdie versoek sodat ons kan vasstel of die versoek vir inligting inderdaad redelik is. Die redes moet uiteraard toon waarom slegs `n sekere (tans niebestaande) kategorie skole vir hierdie doel uitgesonder is.
• Die tweede kwessie handel oor die bevoegdheid om hierdie inligting te versoek. Uit die Skolewet blyk duidelik dat slegs die Onderwyshoof inligting kan versoek. Die Onderwyshoof het egter nie die betrokke brief onderteken nie. Voorsien ons asseblief van die nodige bewyse van die oordrag van bevoegdheid deur die Onderwyshoof wat die skrywer van die brief daartoe magtig om die inligting te versoek.

4. Laastens, en mits bogenoemde na wense is, wys ons u graag daarop dat die skoolbegroting nie vir die uitgawes met betrekking tot die versoek voorsiening maak nie. Nóg die skoolhoof nóg die skoolbeheerliggaam mag buite die goedgekeurde begroting funksioneer of uitgawes aangaan. Maak dus asseblief voorsiening vir die nodige papier, ink en ander verbruiksgoedere wat vereis kan word indien die inligting uiteindelik beskikbaar gestel sou word.”

Vraag:
Hoërskool Aruab se skoolhoof bel u vir advies. Hy is besig om`n konsepbegroting vir die beheerliggaam se volgende vergadering saam te stel, en is nie seker of die versekering van die skoolgeboue en -voertuie en ander korttermynversekering die skool se verantwoordelikheid is nie.

Antwoord:

Die volgende is slegs `n kort antwoord. Ons werk tans aan `n meer omvattende regsmening, omdat ons lede baie vrae in dié verband het. Die mening sal in `n spesiale nuusbrief uitgestuur word.

Artikel 20 van die Skolewet handel oor die werksaamhede van alle beheerliggame van openbare skole, en paragraaf (1)(g) bepaal dat die beheerliggaam die skool se eiendom sowel as die geboue en grond wat deur die skool beset word, met inbegrip van koshuise, moet administreer en beheer.

Kragtens artikel 37(5) van die Skolewet is alle bates wat `n skool met of ná die inwerkingtreding van die Wet verwerf, die eiendom van die skool. (In die geval van die ou model C-skole was die skole reeds eienaar van die roerende bates voor inwerkingtreding van die Skolewet, en het hulle kragtens `n oorgangsbepaling in die Skolewet daardie eiendomsreg behou.)

Artikel 60 van die Skolewet handel oor die staat en die skool se aanspreeklikheid. Subartikel 1 van hierdie artikel bepaal dat die staat verantwoordelik is vir enige verlies of skade wat veroorsaak word deur `n handeling of versuim wat met enige skoolaktiwiteit verband hou. Subartikel 4 bepaal egter dat die staat nié verantwoordelik is vir enige skade of verlies wat uit enige saak onder die beheer van `n openbare skool spruit nie.  

Die skool is dus onder geen verpligting om versekering uit te neem vir skade wat uit skoolaktiwiteite spruit nie. Indien `n eis om skadevergoeding ingestel word, sal die staat verantwoordelik gehou word. Indien `n skool egter wél versekering uitneem, bepaal subartikel 1(b), wat in 2007 ingevoeg is, dat die staat slegs verantwoordelik sal wees in soverre die skool nié deur die versekering gedek word nie.

Met verwysing na subartikel 4 is dit egter nodig om daarop te let dat die skool wél versekering moet uitneem vir sake-aktiwiteite wat die skool bedryf. Indien sodanige aktiwiteite skade tot gevolg het, sal die skool verantwoordelik gehou word, en nie die staat nie.

Die beheerliggaam moet dus versekering uitneem vir enige skade wat gely kan word weens die bedryf van `n onderneming of aktiwiteite wat nie as skoolaktiwiteite in aanmerking kom nie. Sodanige versekering moet dan ook in die begroting weergegee word.   

(Sien ook FEDSAS se regsmening oor die versekering van skoolgeboue (Nuusbrief 4 van 2008) en die regsmening oor artikel 60.)

Vraag:
U ontvang die volgende e-pos van een van Hoërskool Aruab se ouers: “Ons seun is `n leerling aan Hoërskool Aruab. Hy is tans in graad 8. Vrydag is haarinspeksie gedoen en ons seun is aangesê om sy hare te laat sny omdat dit te lank is. Ons is van oordeel dat hy sy hare volgens `n styl van sy keuse moet kan dra. Ons is ook van mening dat die skoolreëls, veral oor seuns se hare, nie aan die Grondwet voldoen nie. Dit ontneem ons seun van sy reg op vrye uitdrukking. Hoekom mag meisies lang hare hê en nie seuns nie? Ons beroep ons ook op onlangse regspraak, riglyne in die Staatskoerant, en navorsing wat in hierdie verband gedoen is. Hierdie reël is nog nooit sedert die afskaffing van apartheid aangepas nie.

Antwoord:

Eerstens bepaal artikel 8 van die Skolewet dat die beheerliggaam van `n skool verantwoordelik is vir die opstel van `n gedragskode. Sodanige kode moet in oorleg met die ouers, leerders en opvoeders van die skool opgestel word. Die blote feit dat die ouers in die proses geraadpleeg word, beteken egter nie dat hulle enige beslissende sê in die kode het nie. Uiteindelik bepaal die beheerliggaam die finale gedragskode. Die gedragskode moet egter in ooreenstemming met die Grondwet en toepaslike provinsiale wetgewing opgestel word.
 
Die Onderwysdepartement se riglyne vir die aanvaarding van `n gedragskode bepaal dat so `n kode daargestel moet word om leerders in te lig oor hoe hulle in `n skoolomgewing moet optree ter voorbereiding vir optrede in die burgerlike samelewing. Die regulasies bepaal verder dat `n gedragskode bedoel is om positiewe dissipline en selfdissipline onder leerders aan te moedig, omdat leerders deur waarneming en ondervinding leer. (Sien subparagrawe 1.4 en 1.6 van Kennisgewing 776 van 1998.)

Artikel 4.5 van die regulasies bepaal dan ook dat leerders die reg op uitdrukking het, en dat die gedragskode hierdie reg moet respekteer. Hierdie reg is egter nie absoluut nie en kan op `n regmatige wyse beperk word.
 
Sodanige beperking sal regmatig wees indien die individu se reg vir `n groter doel beperk word. Hierdie beperking van regte word breedvoerig in die saak MEC KZN v N Pillay (die sogenaamde neusknopiesaak – sien dokumente op die FEDSAS-webblad) bespreek.

Die leerder se regte kan vir `n geldige doel beperk word (artikel 36 van die Grondwet, en artikel 14 van die Wet op Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie van 2000). Enige skool se hoofdoel is om opvoeding van gehalte in `n gedissiplineerde omgewing te voorsien. In die Pillay-saak het die hof toegegee dat opvoeding en dissipline geldige doelwitte is (par 98). Die hoof van die betrokke skool het getuig dat kinders, veral tieners, grense nodig het en dat die skoolomgewing `n plek moet wees waar die invloede van die moderne kommersiële samelewing getemper word om `n beter leeromgewing te skep. 

Die hof gaan verder en erken dat reëls noodsaaklik is vir dissipline, en dat dit ten doel het om kinders vir die ‘grootmenswêreld’ voor te berei, waar selfs méér reëls geld.

Leerders het egter die reg om aansoek te doen om vrystelling van bepaalde reëls in `n gedragskode. Die leerder en/of sy/haar ouers moet kan bewys dat n` bepaalde reël `n reg skend deurdat die bepaalde reël `n las op die leerder plaas of hom/haar van `n voordeel ontneem.

Die begeerte om hare in `n sekere styl te dra omdat dit mode is, is myns insiens nie `n opregte oortuiging wat tot vrystelling sal aanleiding gee nie. In die Pillay-saak noem die hof dat die voordelige uitwerking van skole se uniformreëls (waarby reëls oor voorkoms ingesluit word) `n kernfaktor is in die oorweging van `n aansoek om vrystelling. Hieroor getuig die skoolhoof soos volg:

“Die doelwit was in die algemeen om `n beleid met betrekking tot skooluniforms en voorkoms te aanvaar wat sou verseker dat modekwessies nie leerders se aandag van die taak van `n goeie opvoeding en maksimum voordeel uit skoolaktiwiteite aftrek nie. Die doel is om `n omgewing te skep waar meisies aan minder groepsdruk met betrekking tot leefstylkwessies blootgestel word as wat gewoonlik die geval buite die skool is, en om sowel verwarring as duidelike verskille tussen meisies te voorkom, veral verskille op grond van finansiële vermoë, wat so maklik weens verskillende soorte klere en voorkomste ontstaan.”

Indien die skool dus toelaat dat een leerder, in dié geval die graad 8-leerder, sy hare dra soos hy wil, kan ander leerders ook hulle hare in vreemde style of selfs oorbelle of ander bykomstighede wil dra. Dít kan op sy beurt weer tot ‘kompetisie’ onder leerders lei en die skoolomgewing benadeel.

Wat die ouers se argument betref dat dogters toegelaat word om lang hare te dra en seuns nie, moet die ouers in gedagte hou dat dogters wat lang hare dra dit te alle tye netjies moet hou en ook aan sekere standaarde moet voldoen. In die groter gemeenskap, en ek is oortuig ook in die skoolgemeenskap, word daar algemeen aanvaar dat dogters/vroue lang hare mag dra, terwyl seuns/mans se hare kort en netjies moet vertoon. Ek dink nie dit het iets met die ou bedeling te doen nie, maar bloot met die oortuiging van `n bepaalde kultuur/gemeenskap.
 
Die skool is dus geregtig om `n reël oor leerders se hare neer te lê, en by die inskrywing van `n leerder by `n skool onderneem die ouers en leerders om hulle aan die skool se gedragskode/reëls te onderwerp. Indien `n ouer/leerder egter `n opregte en daadwerklike beswaar teen `n sekere reël het, is daar prosedures wat die ouers kan volg om om vrystelling aansoek te doen.

Vraag:
Die voorsitter van Laerskool Aruab se beheerliggaam bel u vir advies. Die skool het `n prokureursbrief namens `n ouer ontvang waarin daar versoek word dat die skool afskrifte van alle finansiële en bankstate sowel as ander finansiële inligting beskikbaar stel (koste word aangebied). Die skrywe volg op die ouer versuim om om vrystelling van skoolgeld aansoek te doen sowel as om skoolgeld te betaal. Die skool se prokureur het reeds `n finale skrywe aan die ouer gestuur. Is die skool verplig om hierdie inligting beskikbaar te stel?

Antwoord:

Raadpleeg artikel 43(6) van die Skolewet. Dit bepaal dat `n belanghebbende die reg het om navraag te rig (soos wat artikel 42 beskryf) en dat die beheerliggaam dan hierdie dokumente ter insae beskikbaar sal stel. Tog het die belanghebbende net `n reg op insae, nie die reg op afskrifte nie.
Daar bestaan geen reg om dokumente te verwyder of te dupliseer nie. Trouens, dit sou onverantwoordelik wees om hierdie inligting buite die beheer van die beheerliggaam te laat versprei.
Ook artikel 59 bepaal soos volg:
“59.       Plig van skole om inligting te verstrek
(1)        `n Skool moet inligting beskikbaar stel vir inspeksie deur enige persoon, vir sover sodanige inligting vir die uitoefening en beskerming van sodanige persoon se regte vereis word.”
Artikel 43(6) van die Skolewet bepaal dat `n beheerliggaam op versoek van `n belanghebbende die rekords waarna artikel 42 verwys (rekords van geldontvangste en -besteding en van die skool se bates, laste en finansiële transaksies) ter insae beskikbaar moet stel.
Die skool moet dus hierdie dokumente ter insae beskikbaar stel, mits die persoon wat insae versoek `n daadwerklike belang daarby het. Die inspeksie kan onder die nodige toesig en beheer plaasvind. Die skool is nie verplig om afskrifte aan die ouer te voorsien nie, maar kan dit bloot ter insae beskikbaar stel.
Die beheerliggaam sal dus moet bepaal of die ouer wat die versoek rig `n daadwerklike belang by die aangeleentheid het en of die blootlegging van die dokumente noodsaaklik is vir die doel waarvoor die ouer die versoek rig.
In dié bepaalde geval het die ouer versuim om om kwytskelding van die betaling van skoolgeld aansoek te doen, en artikel 41(5) van die Skolewet bepaal dat `n skool deur middel van regswerking betaling kan afdwing indien die skool kan bewys lewer van `n skriftelike kennisgewing aan die ouer dat die ouer versuim het om vir kwytskelding aansoek te doen, en indien die ouer ten spyte van die kennisgewing steeds versuim om skoolgeld te betaal.
Die Grondwet bepaal in artikel 32(1) dat elkeen die reg het op toegang tot a) enige inligting wat deur die staat gehou word, en b) enige inligting wat deur `n ander persoon gehou word en wat vir die uitoefening of beskerming van enige regte benodig word. Ten einde hierdie bepaling uit te voer is die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, Wet 2 van 2000, verorden.
Artikel 11 van die Wet bepaal dat `n versoeker geregtig is op toegang tot die rekords van n` openbare instelling. Sodanige versoeker moet egter aan al die vereistes in die Wet voldoen, en openbaarmaking van die rekords moet ook nie ingevolge hoofstuk 4 van die Wet op enige van die genoemde gronde verbied word nie.
In die lys van omskrywings beteken ‘openbare instelling/liggaam’ a) enige staatsdepartement of administrasie in die nasionale of provinsiale sfeer van die regering, of b) enige ander funksionaris of instelling wat `n mag of plig ingevolge die Grondwet of provinsiale grondwet uitoefen, of wat `n openbare mag uitoefen of openbare funksie ingevolge enige ander wetgewing verrig.   
Die Skolewet bepaal dan ook dat elke openbare skool `n regspersoon is met die regsbevoegdheid om sy funksies ingevolge die Skolewet en Grondwet uit te voer (artikel 15). Die beheerliggaam is verantwoordelik vir die beheer van die skool (artikel 16), en mag slegs sodanige funksies verrig en regte uitoefen as wat die Wet voorskryf. Inligting van die skool of die beheerliggaam kan van hetsy die skoolhoof of die beheerliggaam bekom word deur die voorgeskrewe prosedures te volg.
Ingevolge Wet 2 van 2000 is daar dan ook sekere prosedures wat gevolg moet word om inligting te bekom. Die Wet bevat vorms wat deur die versoeker ingevul moet word. 

Vraag:
Laerskool Aruab se skoolhoof bel u vir advies. Hy is besig met die begroting, en wil weet wat die stand van sake is om departementele opvoeders bykomend te vergoed.

Antwoord:

Die voorgestelde regulasies om verdere inhoud aan artikel 38A van die Skolewet te gee is nog nie in die Staatskoerant afgekondig nie, en daarom moet die status quo gehandhaaf word. Skole moet dus soos in die verlede vir hierdie uitgawe begroot en deur die gewone aansoekprosedure gaan om departementele opvoeders bykomend te vergoed. (Sien ook die regsmenings op FEDSAS se webblad.)

Vraag:
Hoërskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Daar is ses (departementele) opvoeders wat bykomende vergoeding ontvang. Twee van hierdie opvoeders neem tans aan die staking deel en lewer geen dienste nie. Hoe moet die skool die saak benader?

Antwoord:

Die beginsels van ‘geen werk, geen betaling’ sal ook vir hierdie artikel 38A-opvoeders geld, en die beheerliggaam moet dus geen bykomende vergoeding aan hierdie werkers betaal nie. Streng tegnies beskou, sou hierdie twee werkers ook dissiplinêr aangekla kan word omdat hulle onwettig (as werknemers van die beheerliggaam) gestaak het, maar dit sou net olie in die vuur gooi. Die bykomende vergoeding moet dus nié betaal word nie.

Vraag:
Laerskool Aruab se skoolhoof bel u vir advies. Hy is onseker of die kennisgewingtydperk vir die begrotingsvergadering na kalenderdae of skooldae verwys. Hy wil ook weet of die beheerliggaam `n volmagstem by die vergadering kan toelaat.

Antwoord:

Die tydperk verwys na kalenderdae. Prakties beteken dit dat daar 30 oop dae tussen die kennisgewing en die vergadering op die kalender moet wees. Artikel 38 bepaal spesifiek dat die meerderheid ouers wat op die vergadering teenwoordig is en mag stem, die begroting moet goedkeur, en daarom is daar geen kworumvereiste nie.

Vraag:
Laerskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Mev X weier om skoolgeld te betaal, omdat die egskeidingsbevel bepaal dat mnr X daarvoor verantwoordelik is. Mnr X is egter tans werkloos en doen aansoek om én ontvang vrystelling. Mev X het geen aansoek om vrystelling ingedien nie, en die skool wil haar nou vir die uitstaande skoolgeld dagvaar. Sy voer egter aan dat sy nie aanspreeklik gehou kan word nie.

Antwoord:

 Die kern van die saak is dat die skool reeds vrystelling van die betaling van skoolgeld toegestaan het. Die regsgevolg is dus dat daar geen uitstaande geld vir hierdie kinders is nie. Dit maak in hierdie besondere geval nie saak of die vrystelling net aan een ouer gegee is nie. Die vrystelling is gegee. Die ma, wat nie om vrystelling aansoek gedoen het nie, kan haar dus steeds op die vrystelling beroep. 

Vraag:
U het vanoggend die volgende e-pos van Hoërskool Aruab se skoolhoof ontvang:“My Superintendent van Onderwysbestuur skakel my Donderdag met die versoek dat ek `n leerder van Aus, wat op die punt is om vir dwelms geskors te word, tot die einde van die jaar by my skool moet inneem. Hoe meer ek sê dat ek dit nie wil doen nie, hoe mooier praat hy en sê dat dit `n departementele besluit is en die kind in `n skool moet wees. Hy het blykbaar reeds sonder sukses ál die skole in die omgewing probeer.Wat is my regte in hierdie geval? Ek weet dat indien `n kind weens `n gedragsprobleem by `n ander skool weg is, ek hom nie hoef te aanvaar nie.SKOOLHOOF”

Antwoord:

 Geagte Skoolhoof
U is heeltemal geregtig om te weier. Indien u beheerliggaam FEDSAS se voorgestelde toelatingsbeleid as beleid van die skool aanvaar het, sal u nóg sterker gronde hê om te weier, aangesien ons voorgestelde toelatingsbeleid juis daarvoor voorsiening maak dat leerders met `n swak gedragsrekord by `n vorige skool toelating geweier kan word. Sodanige leerders kan nie net by `n skool geplaas word nie. Die proses van aansoek om toelating moet soos in enige ander geval gevolg word.
Daar is natuurlik ook nie `n wetsbepaling wat vereis dat leerders noodwendig by `n skool moet plek kry nie. Die Grondwet en Skolewet maak bloot daarvoor voorsiening dat basiese onderwys aan skoolpligtige leerders voorsien moet word – met ander woorde leerders onder die ouderdom van 15 (of graad 9). Onderwys kan ook by `n distrikskantoor voorsien word.

Vraag:
Laerskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel u vir dringende advies. Een van die skool se onderwyseresse het pas `n klagte by die Departement ingedien omdat die beheerliggaam besluit het om haar vanaf volgende jaar as afrigter van die eerste netbalspan te vervang. Sy rig die span reeds agt jaar af en dreig elke jaar om as afrigter te bedank. Die skoolhoof het `n raadplegingsproses gevolg voordat die sportrooster en -verantwoordelikhede afgehandel is.

Antwoord:

Volgens artikel 21(1)(b) van die Skolewet moet die beheerliggaam die buitemuurse kurrikulum van die skool bepaal.
Die beheerliggaam beheer met ander woorde die buitemuurse aktiwiteite van die skool, en vra die hoof om dié aktiwiteite te bestuur.
Volgens die inligting wat u aan my verskaf het, hét die hoof die personeel geraadpleeg voordat hy die sportrooster en -verantwoordelikhede ingedeel het. Die betrokke onderwyseres het dus geleentheid gehad om haar saak te stel, en die hoof het geleentheid gehad om sy redes vir die verandering aan haar te verduidelik.

As die onderwyseres nie met die hoof se redes tevrede was nie, was die volgende stap tot haar beskikking om die saak by die beheerliggaam aan te meld. Hulle sou dan die saak bespreek en die beste besluit vir die span neem.

Die onderwyseres het egter haar klag verkeerdelik by die Departement ingedien. Die Departement het geen seggenskap in hierdie saak nie, omdat hulle geen finansiele bydrae tot die buitemuurse aktiwiteite van `n skool lewer nie.

Die beheerliggaam moet dus die saak ondersoek, indien die hoof hulle nie reeds ingelig het nie, en uitsluitsel gee. Voorts moet hulle wag totdat die Departement reageer, indien wel, en dan `n brief aan die Departement rig om hulle optrede en besluit te verduidelik, sodat daar geen rede sou wees vir die Onderwyshoof om die beheerliggaam van hierdie toegewese funksie te onthef nie.

Vraag:
Hoërskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Die nuwe beheerliggaam het pas verneem dat nie een beheerliggaampersoneellid `n dienskontrak het nie. Van hierdie personeel is reeds tien jaar in diens van die skool. Die beheerliggaam het ook aanvaar dat ál die persone jaarliks aangestel is en wil so voortgaan. Hoe moet die beheerliggaam nou te werk gaan om kontrakte te sluit?

Antwoord:

Omdat daar geen skriftelike ooreenkomste was nie en van die personeel al langer as tien jaar daar werk, kon die werknemers deur die werkgewer se handeling aanvaar het dat hulle permanent is. Die beheerliggaam sal dus met elk van hierdie werknemers moet onderhandel om die vastetermynooreenkomste te onderteken, en sal dit nie eensydig in werking kan stel nie.

Indien die werkers sou weier om die nuwe ooreenkomste te onderteken, sal die werkgewer deur `n proses van herstrukturering moet gaan om aan sy bedryfsvereistes te voldoen, en die aflegging van personeel is een van die moontlike uitkomste.

Dit is daarom belangrik dat elke persoon in `n beheerliggaampos `n dienskontrak moet hê (FEDSAS-voorbeeldkontrak) en dat ons lede die riglyne in die regsmening oor die beëindiging van `n vastetermynkontrak moet volg.

Vraag:
Laerskool Aruab se beheerliggaam het besluit om `n klub of maatskappy te stig wat busse aankoop, en hulle beplan om die busse aan die skool te verhuur. Hulle verwag dat die skoolhoof die kontrak namens die skool met hulle moet aangaan. Die skoolhoof is nie seker of hy wél die ooreenkoms mag onderteken nie. Adviseer die lid.

Antwoord:

`n Paar punte is hier van belang:
1. Die beheerliggaam se bevoegdheid om klubs of maatskappye (of trusts) te stig
Die beheerliggaam moet versigtig wees om nie bloot sake te beoefen nie, maar moet ook toesien dat alle aksies in belang van die onderwys is. (Sien “Sakebedrywighede by skole” op die webblad.)
Die beheerliggaam kan ook nie skoolgeld of -bates van een regsentiteit (die skool) na `n ander regsentiteit verskuif nie. (Sien die Skolewet, artikel 37(7).) `n Trust met die skool as begunstigde sou die aangewese model wees, maar die verhouding tussen die beheerliggaam en die trust moet sonder bevoorregting wees. (Sien “Trusts en openbare skole” op die webblad.) Dit is ook gevaarlik vir die beheerliggaam om `n aparte regsentiteit tot stand te bring, want dit kan `n botsing van belange meebring.
2. Die aangaan van huurkoopkontrakte om die busse te koop
Indien die beheerliggaam self die busse wil aankoop, sal die skool by die Lid van die Uitvoerende Raad magtiging moet kry as hulle dit op skuld wil doen. (Sien artikel 36(2).) Die busse sal dan natuurlik die eiendom van die skool wees, en sal nie sonder teenwaarde of toestemming van die Lid van die Uitvoerende Raad na `n ander entiteit oorgedra mag word nie. `n Trust of ander entiteit het nie die magtiging van die Lid van die Uitvoerende Raad nodig om iets op skuld te koop nie.
3. Die verhuur van die busse aan die skool
Die beheerliggaam kan uit die aard van die saak nie met homself `n ooreenkoms sluit nie. Indien die skool die busse aankoop, moet die beheerliggaam bloot `n beleid aanvaar wat bepaal dat die skool se busse vir al die skool se aktiwiteite gebruik moet word.
Indien die trust die busse aan die skool wil verhuur, moet die trust sodanige ooreenkoms opstel en dit aan die beheerliggaam stuur.
4. Die ondertekening van sodanige ooreenkoms
Die skoolhoof onderteken nie outomaties die ooreenkoms nie. Die beheerliggaam moet iemand magtig om die ooreenkoms namens die skool te sluit, en daardie magtiging moet deel uitmaak van die notule van die vergadering waar die besluit geneem is. 
 

Vraag:
Laerskool Aruab se skoolhoofpos is tans vakant en is verlede week in die vakaturelys van die Departement geadverteer. Die beheerliggaam is bekommerd dat die advertensie nie noodwendig aandag sal trek nie, en wil self ook so wyd moontlik adverteer. Mag die beheerliggaam self ook die pos adverteer?

Antwoord:

Dit is heeltemal in orde. Trouens, lede doen dit dikwels. Die advertensie moet dit net baie duidelik stel dat aansoekers op die vereistes van die Staatskoerant moet let en daaraan moet voldoen. Aansoeke moet by die Departement ingedien word met vermelding van die spesifieke kode en advertensie. Die aansoek moet dus nie na die skoolbeheerliggaam of die skool gestuur word nie.
FEDSAS het onlangs `n geval gehad van `n beheerliggaam wat in die advertensie genoem het dat `n afskrif van die aansoek na die beheerliggaam gestuur moet word. Dit het tot `n geskil aanleiding gegee.

Vraag:
Hoërskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter wil by u weet presies wat as `n skoolaktiwiteit en wat as `n buitemuurse aktiwiteit in aanmerking kom. Is daar enige verskil tussen die begrip ‘buitemuurse aktiwiteit’ en ‘buitekurrikulêre aktiwiteit’? Die skool se beheerliggaamlede verskil hieroor.

Antwoord:

Artikel 1 van die Skolewet omskryf `n ‘skoolaktiwiteit’ as enige amptelike opvoedkundige, kulturele, ontspannings- of sosiale aktiwiteit van die skool op of buite die skool se perseel.
Buitemuurse aktiwiteite verwys na aktiwiteite wat buite die klaskamer plaasvind, maar wat steeds deel uitmaak van die kurrikulum en opvoedkundige aktiwiteite. Dit sluit dus in ekstra klasse in byvoorbeeld Wiskunde, bykomende vakke, ensovoorts wat buite normale skooltyd aangebied word. Buitekurrikulêre aktiwiteite verwys na aktiwiteite wat nie met die kurrikulum verband hou nie, soos sport en kultuur by skole.
(Sien ook FEDSAS se dokument “Buitekurrikulêre aktiwiteite by openbare skole” op die webblad.)
 

Vraag:
Laerskool Brandkop se beheerliggaamvoorsitter stuur die volgende e-pos aan u:“Ek versoek graag raad met die volgende aangeleentheid:`n Algemene werker by die skool die afgelope 14 jaar se gesondheid het in die laaste helfte van 2010 merkbaar agteruitgegaan. Einde Oktober 2010 is hy met gevorderde tuberkulose gediagnoseer. Vanaf die tweede week van November 2010 was hy te swak om te werk, en hy is sedertdien tuis. Ek twyfel of hy sal terugkom. Vir die eerste paar dae van die jaar het ons `n togwerker gehuur, omdat ons alle moontlike hulp nodig het vir die groot gras sny en klas skoonmaak.

Antwoord:

Die Wet op Arbeidsverhoudige (hoofstuk 8) bepaal dat `n werknemer wél ontslaan kan word indien hy nie meer bevoeg is om te werk nie. Dit is die werkgewer se plig om seker te maak dat die werknemer inderdaad onbevoeg is, en om `n billike proses te volg voordat die werknemer ontslaan word.
Die belangrike bepaling vir die werkgewer is te vinde in bylae 8, item 10 en 11:
“10.      Ongeskiktheid: Swak gesondheid of besering
  (1) Ongeskiktheid op grond van swak gesondheid of besering kan tydelik of permanent wees. Waar `n werknemer tydelik nie daartoe in staat is om in hierdie omstandighede te werk nie, moet die werkgewer die omvang van die ongeskiktheid of besering ondersoek. Indien die werknemer waarskynlik afwesig sal wees vir `n tydperk wat in die omstandighede onredelik lank is, moet die werkgewer alle moontlike alternatiewe buiten ontslag ondersoek. Wanneer alternatiewe oorweeg word, sou as tersaaklike faktore in ag geneem kon word die aard van die werk, die tydperk van afwesigheid, die erns van die siekte of besering en die moontlikheid om `n tydelike plaasvervanger vir die siek of beseerde werknemer te kry. In gevalle van permanente ongeskiktheid moet die werkgewer die moontlikheid van alternatiewe diens, of van die aanpassing van die pligte of werkomstandighede van die werknemer ondersoek ten einde die werknemer se ongeskiktheid te akkommodeer.
(2) In die proses van die ondersoek bedoel in subartikel (1) behoort die werknemer die geleentheid gebied te word om aangehoor te word en om deur `n vakbondverteenwoordiger of medewerknemer bygestaan te word.
 (3) Die graad van ongeskiktheid is tersaaklik ter bepaling van die billikheid van enige ontslag. Die oorsaak van die ongeskiktheid kan ook tersaaklik wees. In die geval van sekere soorte ongeskiktheid, byvoorbeeld alkoholisme of dwelmmisbruik, sou berading en rehabilitasie toepaslike stappe kon wees wat `n werkgewer kan oorweeg.
 (4) Besondere oorweging moet geskenk word aan werknemers wat by die werk beseer word of wat deur werkverwante siektes ongeskik raak. Die howe het aangedui dat die plig van die werkgewer om die ongeskiktheid van die werknemer te akkommodeer, in hierdie omstandighede swaarder is.
11.        Riglyne in gevalle van ontslag weens swak gesondheid of besering
 (1) Iemand wat moet bepaal of `n ontslag weens swak gesondheid of besering onbillik is, moet in ag neem-
     (a)        of die werknemer daartoe in staat is om die werk te verrig, al dan nie; en
    (b)        waar die werknemer nie daartoe in staat is nie-
              (i) die mate waarin die werknemer wel in staat is om die werk te verrig;
               (ii) die mate waarin die werknemer se werksomstandighede aangepas kan word ten einde die ongeskiktheid te akkommodeer of, waar dit nie moontlik is nie, die mate waarin die werknemer se pligte aangepas kan word; en
             (iii)       die beskikbaarheid van enige geskikte alternatiewe werk.”
In hierdie geval sal die beheerliggaam `n ondersoek moet doen om te bepaal of die siektetoestand permanent of tydelik is, en of hulle iemand tydelik in sy plek kan gebruik. Daar kan ook aanvaar word dat die werker se siekverlof opgebruik sal wees en dat hy nou met onbetaalde verlof is.
Die ondersoek is nie `n verhoor nie, en die werker word na die ondersoek genooi en versoek om alle beskikbare mediese verslae te bring, waarna daar bepaal word of hy kan werk of nie. As hy geensins by die ondersoek opdaag nie, moet die beheerliggaam kan aandui dat hulle wél pogings aangewend het om hom op te spoor en na sy welstand te verneem. As hy wél opdaag en dit is duidelik dat hy nie kan werk nie en dat daar geen vooruitsig op beterskap is nie, kan hy ontslaan word.
Ek sou egter aanbeveel dat die beheerliggaam dit dalk oorweeg om hom vir ses maande op onbetaalde siekverlof te plaas (hy kan `n siektevoordeel ingevolge werkloosheidsversekering eis) en tydelik iemand in sy plek aan te stel. Dít gee die werknemer geleentheid om te herstel, of dit sal ná die verlof duidelik wees of hy weer sal kan werk. Indien daar dan `n geskil ontstaan, sou die skool kon aandui dat hulle die werker bygestaan het deur sy werk vir hom vir ses maande te hou en hom hersteltyd te bied.

Vraag:
Laerskool Brandkop se beheerliggaamvoorsitter stuur die volgende e-pos aan u:“Die familie van `n Moslemdogter in ons koshuis wil halaaletes aan haar voorsien. Ons het geen probleem daarmee nie en het toestemming gegee. Nou dring hulle aan op afslag op hul koshuisgeld. Die kringbestuurder en ek voel dit sal`n presedent skep: Wat dan van leerders wat gereeld huis toe gaan en nie Vrydagmiddagetes neem nie; leerders wat sommige dae etes misloop weens sport of siekte; wat verkies om op dieet te wees; ouers wat verkies om etes na leerders se smaak te maak, ensovoorts? Wat as hulle almal afslag wil hê?”

Antwoord:

Die situasie met koshuise is anders as skool. Koshuisplasing geskied kragtens`n kontrak. `n Mens gaan dus `n kontrak met die skool aan om jou kind te huisves. (Sien die dokument oor beheer en bestuur van koshuise op FEDSAS se webwerf.) As die prys aanvanklik op `n bepaalde bedrag vasgestel is, is dít die bedrag – ongeag enige  spesiale dieet of enigiets anders. As mense vooraf vanweë `n spesiale dieet of iets dergeliks afslag beding, is dit `n ander saak. Jy kan nie `n motor met lugreëling koop en ná die tyd afslag gaan beding omdat jy nooit die lugreëling sal gebruik nie. 
 

Vraag:
Hoërskool Brandkop se skoolhoof bel u vir advies. Hy vermoed dat `n aantal opvoeders bewus is van kinders wat tuis mishandel word, en ook uit hulle eie sak vir hierdie kinders kosblikke skool toe bring omdat hul huislike omstandighede bedenklik is. Hy wil seker maak dat die skool en opvoeders nie blootgestel word nie, maar wil ook nie die vertrouensverhouding tussen die leerders en opvoeders skend nie. Adviseer die skoolhoof.

Antwoord:

Terwyl onderwysers in sekere omstandighede `n morele plig het om inligting wat leerders aan hulle gee vertroulik te hou, moet onderwysers ook onthou dat hulle `n gemeenregtelike sorgplig teenoor leerders het. Hierdie plig impliseer dat daar na leerders se fisiese en geestelike welstand omgesien moet word. Die reg verwag van onderwysers om te alle tye as diligens paterfamiliae op te tree. Die gemeenregtelike reël is ook dat opvoeders in die plek van die ouers (in loco parentis) optree, veral waar leerders se veiligheid ter sprake is.
Indien dit dan in die leerder se belang sou wees dat die onderwyser iemand anders moet vertel van sy/haar vermoede dat die leerder mishandel word, of indien die leerder dit self teenoor die onderwyser beken, het die onderwyser `n gemeenregtelike plig om dit te doen.
Die onderwyser moet in gedagte hou dat die belang van die leerder die belangrikste faktor is in enige geval van vermeende mishandeling. Ek dink ook nie daar is iets verkeerd met die onderwysers wat op eie onkoste kosblikke voorsien nie, maar wat mishandeling betref, moet daar langs die regte weë gewerk word.
Sekere wetgewing moet in hierdie verband aandag geniet:
Artikel 42 van die Wet op Kindersorg plaas `n verpligting op alle gesondheidsdienspersoneel, maatskaplike werkers, opvoeders en personeel in kinderhuise, plekke van veiligheid, ensovoorts om enige gevalle van vermeende kindermishandeling by die Departementshoof aan te meld. In hierdie geval is die Departementshoof na wie verwys word die van Maatskaplike Ontwikkeling.
Hierdie plig is `n wetlike plig, en die onderwyser moet dadelik sy/haar vermoede aan die skoolhoof oordra. Die plaaslike welsynsorganisasie of maatskaplike werker moet genader en die nodige reëlings vir berading getref word.
Die Wet op Voorkoming van Gesinsgeweld, Wet 133 van 1993, sluit ook opvoeders in. Artikel 4 bepaal soos volg:
“Enige persoon wat enige kind ondersoek, behandel, na omsien, adviseer, opdrag gee of versorg in omstandighede wat tot die redelike vermoede behoort te lei dat sodanige kind mishandel word of aan enige besering ly wat waarskynlik opsetlik veroorsaak is, sal onmiddellik sodanige omstandighede aanmeld:
(a) by `n polisiebeampte; of
(b) by `n kommissaris van kinderwelsyn of `n maatskaplike werker waarna artikel 1 van die Wet op Kindersorg verwys.”
Artikel 110 van die Kinderwet, Wet  38 van 2005, plaas ook `n verpligting op onderwysers wat op redelike gronde vermoed dat `n leerder mishandel word, om dié vermoede by die aangewese kinderbeskermingsorganisasie, die Provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling of `n polisiebeampte aan meld deur `n voorgeskrewe vorm in te vul. Hierdie artikel verklaar verder dat `n onderwyser wat so `n vermoede in goeder trou aanmeld nie aanspreeklik gehou sal word vir enige siviele optrede wat uit die aanmelding spruit nie (artikel 110(3)).
Wanneer `n leerder `n onderwyser in sy/haar vertroue neem en meedeel dat hy/sy mishandel word, moet die onderwyser aan die leerder verduidelik dat hy/sy wetlik verplig word om die mishandeling aan te meld. Die onderwyser moet egter die situasie met gevoeligheid hanteer en moet die mishandeling slegs aan die wetlik voorgeskrewe owerhede en organisasies openbaar en dit nie met ander personeel of leerlinge bespreek nie. Die leerder se reg op privaatheid moet deurentyd gerespekteer word. 

Vraag:
Hoërskool Brandkop se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Hulle is besig om die skool se gedragskode te hersien, en het op `n departementele omsendbrief afgekom wat die volgende bepaal: “Daar mag geen kriminele stappe deur die skool teen die leerder gedoen word ten opsigte van die besit van `n gevaarlike voorwerp of onwettige dwelm of positiewe toetsing vir `n onwettige middel nie.”

Antwoord:

Ons het nie `n aparte FEDSAS-dokument hieroor nie. Die betrokke regulasies oor dwelmtoetsing verskyn egter onder “Regulasies” op die webblad.
Raadpleeg ook artikel 8A van die Skolewet op die webblad. Die verbod op strafregtelike vervolging is in subartikel 14 vervat:
“(14)     Die skool mag geen strafregtelike verrigtinge instel nie teen `N leerder ten opsigte van wie –
(a)         in subartikel (2) beoogde deursoeking gedoen is en ? gevaarlike voorwerp of onwettige dwelmmiddel gevind is; of
(b)          in subartikel (8) beoogde toets gedoen is, waarvan die uitslag positief was.”
Die betrokke verbod is slegs van toepassing op dit wat in die artikel self behandel word (naamlik gevaarlike voorwerpe of dwelms in leerders se besit of positiewe toetsing vir dwelmgebruik). Dit is ook belangrik om daarop te let dat dit ook net van toepassing is op die skool, en ook net wanneer die skool die deursoeking of toetsing doen.
Dít beteken dus die volgende:
1. Waar enige ander strafregtelike oortreding begaan word, kan die skool steeds `n klag indien.
2. Die skool mag nie die klag indien nie, maar die polisie kan self besluit om `n dossier te open en met vervolging te begin.
3. Wanneer die polisie die deursoeking doen, en nie die skoolhoof soos wat die artikel voorskryf nie, kan daar wél steeds strafregtelike vervolging wees.

Vraag:
Laerskool Brandkop se skoolhoof bel u vir advies. Hy kry gereeld navrae van ondernemings en instansies wat bemarkingsmateriaal by die skool wil versprei of opvoeders en ouers wil kom toespreek. Hy voel sterk dat die skool misbruik en as 'n maklike teiken vir bemarkers beskou word. Hoe moet die skool hierdie navrae hanteer?

Antwoord:

Dit is so dat skole as maklike teikens vir produkreklame beskou word. Dié gebruik kan in drie kategorieë verdeel word, elk met sy eie potensiaal en gevolge:
1. Bemarking van ondernemings: Finansiële voordeel
a. Die aanbring/‘koop’ van geborgde advertensieruimte by die skool op die skool se omheining, sporttellingborde en kennisgewingborde is algemene praktyk, en is tot voordeel van die skool én toelaatbaar. Dit kan as `n ‘huurooreenkoms’ beskou word waaruit die skool geld kan verdien.
b. Die plakkate van kunstenaars wie se vertonings die skool van tyd tot tyd vir fondsinsamelingsfunksies aanbied, is ook in orde.
2. Gemeenskapsbetrokkenheid
a. Die verspreiding van strooibiljette deur kerke en liefdadigheidsorganisasies kan die skool in `n netelige posisie plaas, en daar word aanbeveel dat u dit slegs toelaat by die uitgange van die skool aan die einde van die skooldag deur die organisasie self. Die skool se betrokkenheid moenie hier oorbeklemtoon word nie. (Sien in dié verband “Algemene opmerkings” hier onder.)
b. Die toespreek van leerders en personeel moet ook met omsigtigheid hanteer word, en die inhoud van sodanige praatjies moet voor die tyd duidelik uiteengesit word indien dit toegelaat word.
3. Produkverkope
a. Skole word telkens gevra om sekere produkte soos blombolle te verkoop, en verdien sodoende ‘kommissie’ in die vorm van `n persentasie op die verkope, of in goedere soos `n rekenaar of iets dergeliks. Indien dit toegelaat word, maak seker dat die projekorganisasie nie op die onderrigtyd van die leerders inbreuk maak nie en ook nie die leerkragte met administratiewe werk belas nie. Die invordering van geld en kontrole daaroor kan `n groot las word.
b. Personeel word ook met produkte soos skilderye, ensovoorts gebombardeer. Enige sodanige aanbiedings mag slegs ná skoolure of in pouses geskied.
4. Algemene opmerkings
a. Dit is baie belangrik dat die beheerliggaam van elke saak kennis dra, en dus sal dit voordelig wees om by die volgende beheerliggaamvergadering `n deeglike beleid daaroor op te stel en te begin toepas. Vir riglyne in dié verband kan u FEDSAS se produkbevorderingsbeleid raadpleeg soos wat dit in Spesiale Nuusbrief 13 van 2009, wat op 4 Mei uitgereik is, vervat word. Dit verskyn ook op die web, www.fedsas.org.za onder “Nuusbriewe – argief”.
b. Indien u streng volgens die beleid optree, sal die aangeleentheid onder die bevoegdheid van die beheerliggaam val, en hoef u nie die besluit te neem oor wat mag en nie mag nie.
c. Wanneer die produkbevordering met die akademiese sy van die skool te doen het, byvoorbeeld leerhulpmiddele, ensovoorts, kan u dit in oorleg met u bestuurspan oorweeg en dit, met die goedgekeurde begroting as riglyn, toelaat.

Vra u self die volgende vrae af:

1. Is dit tot voordeel van die leerders?
2. Is dit tot voordeel van die skoolgemeenskap?
3. Gaan die produkbevordering van u skool `n beter inrigting maak?
4. Voldoen die versoek aan artikel 16(2) en 20(1)a van die Skolewet?
 

Vraag:
Laerskool Brandkop se skoolhoof bel u vir advies. Brandkop het verlede jaar opvoeders met `n departementele bussie na `n departementele kursus gestuur, omdat die skool se eie bussie nie beskikbaar was nie en die kursus verpligtend. Die bussie het `n ligte stamp opgedoen wat die skool se eie, gekwalifiseerde paneelklopper vir slegs R500 kon herstel. Die Departement wou egter niks weet nie en het dit vir meer as R4 000 laat herstel, sonder dat die bussie verseker was. Hulle het nie die skool geraadpleeg nie. Nou eis hulle die geld van die opvoeder wat die bussie ten tyde van die ongeluk bestuur het en wil die geld van haar salaris aftrek. Hulle eis dat sy sekere vorms invul, en die beamptes dreig met die hof indien sy sou weier. Dit is ongelukkig nie bekend watter vorms die skool met die oog op die gebruik van die bussie ingevul het nie. Tree die Departement wederregtelik op, en wie moet die opvoeder bystaan?

Antwoord:

Hierdie voorval het werklik by een van ons ledeskole plaasgevind.
Hierdie situasie kom neer op `n geskil tussen die werkgewer (Departement) en `n werknemer, en die skool is nie `n party daarin nie. Dit het dus niks met die beheerliggaam te doen nie. Die betrokke opvoeder en haar vakbond moet die saak direk met die Departement hanteer. 
 

Vraag:
Hoërskool Brandkop se skoolhoof bel u vir advies. Hy het pas opdrag van die distrikskantoor ontvang om dringend die skool se bankstate aan hulle te stuur. Die Departement benodig die state om ondersoek in te stel na beweerde ongerymdhede in die provinsie se skoolvoedingsprogram. Die skoolhoof deel u mee dat die skool absoluut niks het om weg te steek nie, en dat die beheerliggaam ook `n deursigtige pad wil stap.

Antwoord:

Artikel 42 verplig bloot die skool om jaarliks finansiële state in te dien, en daar is absoluut geen bepaling wat `n departementshoof magtig om bankstate aan te vra nie. 
Artikel 43(4) skep wél die moontlikheid vir die Lid van die Uitvoerende Raad om die Ouditeur-Generaal te versoek om `n skool se state en rekordhouding te ouditeer.
Artikel 43(6) skep `n reg op insae vir enige belanghebbende persoon in die finansiële rekords en state van die beheerliggaam. Dít beteken letterlik dat `n belanghebbende die dokumente en state van die beheerliggaam onder toesig by die skool kan gaan inspekteer, maar nie dat hy/sy op afskrifte daarvan geregtig is nie. `n Amptenaar van die Departement kom sekerlik as `n ‘belanghebbende’ in aanmerking.
Artikel 59 verplig ? skool om inligting beskikbaar te stel.
“59.   Plig   van   skole   om   inligting   te   verstrek.—
(1)  `n Skool moet inligting beskikbaar stel vir inspeksie deur enige persoon, vir sover sodanige inligting vir die uitoefening en beskerming van sodanige persoon se regte vereis word.
(2)  Elke skool moet die inligting oor die skool wat redelikerwys deur die Departementshoof of die Direkteur-Generaal van die nasionale Departement van Onderwys in samewerking met die Departementshoof vereis word, voorsien.”
Artikel 59(1) slaan duidelik op die uitoefening en beskerming van individue se regte, byvoorbeeld die regte van ouers, onderwysers en selfs leerders wat dalk in regsgedinge betrokke is of regsgedinge wil instel.
Artikel 59(2) is toepaslik. Die Departement sou dus hoogstens en slegs met goeie rede wat vooraf bekend gemaak word, ingevolge artikel 59(2) `n versoek vir inligting aan die skool kon rig (mits daar aan al die wetsbepalings voldoen is). Die begrip ‘redelikerwys’ is `n bekende regsbegrip, en is vatbaar vir objektiewe beoordeling. Alvorens `n skool verplig kan word om sekere inligting aan die Departementshoof te voorsien, moet die rede vir die versoek dus verskaf word. Die beheerliggaam het dan die reg om te beoordeel of die versoek redelik is al dan nie.
“Beweerde ongerymdhede in die provinsie se voedingsprogram” is te vaag.
Die beheerliggaam moet dus eerstens `n versoek rig om te bepaal welke artikel van toepassing is, en volledige redes daarvoor aanvra. Dit gaan nie daaroor dat die beheerliggaam “niks het om weg te steek nie”, maar dat die beheerliggaam self aan die bepaling van die Skolewet en verantwoordelike beheer en bestuur uitvoering moet gee.
Iets wat dikwels uit die oog verloor word, is dat die artikel na die Departementshoof verwys. Ons dink dat baie departementshoofde dikwels in die verleentheid gestel word deur wat amptenary soms by skole aanvang. Artikel 62(2) van die Skolewet bepaal soos volg:
“(2) Die Departementshoof kan, behoudens die voorwaardes wat hy of sy bepaal, enige van sy of haar bevoegdhede by of ingevolge hierdie Wet of gedelegeer kragtens subartikel (1) aan `n beampte delegeer.”
Indien dit nie die Departementshoof self is wat enige versoek vir inligting aan `n skool rig nie, is die eerste stap dus om aan te dring op bewys dat die nodige bevoegdheid om sodanige versoek te rig wél aan `n amptenaar oorgedra is.
Laastens is dit baie belangrik om deeglik kennis te neem van die uitspraak in die Destinata-saak, wat op ons webwerf beskikbaar is.
 

Vraag:
Laerskool Brandkop se skoolhoof bel u vir advies. Die distriksbestuurder dreig hom met dissiplinêre stappe omdat hy sonder haar toestemming `n muur tussen twee klaskamers laat uitbreek het om die kamer vir die aanbieding van kunsklasse te vergroot. Daar is ook groot tekenborde in die klas aangebring waarop die leerders hulle kunswerk moet beoefen. Die klas móés dus vergroot word om vir die groot tekenborde vir `n klas van 35 leerders plek te maak. Die hoof is aangesê om binne 24 uur redes aan te voer waarom dissiplinêre stappe nié teen hom gedoen behoort te word nie. Die distriksbestuurder se houding is dat net sy toestemming mag gee dat strukturele veranderinge aan die skool se geboue aangebring mag word.

Antwoord:

U kan begin deur die regsmening “Openbare skole se regte ten aansien van vaste eiendom” op die FEDSAS-webblad te lees.
Die volgende artikels van die Skolewet is ook van toepassing:
“16.   Beheer   en   professionele   bestuur   van   openbare   skole.—(1)  Behoudens hierdie  Wet  setel  die  beheer  van  elke  openbare  skool  in  sy  beheerliggaam  en  mag  dit slegs  sodanige  werksaamhede  en  verpligtinge  uitvoer  en  slegs  sodanige  regte  uitoefen soos deur die Wet voorgeskryf.”
“20.   Werksaamhede  van  alle  beheerliggame.—(1)  Behoudens  hierdie  Wet  moet die beheerliggaam van `n openbare skool ...
(g) die skool se eiendom, asook die geboue en gronde deur die skool beset, met inbegrip van koshuise, indien van toepassing, administreer en beheer; ...”
21.   Toegewese werksaamhede van beheerliggame.—(1)  Behoudens hierdie Wet, kan `n beheerliggaam skriftelik by die Departementshoof aansoek doen om enige van die volgende werksaamhede toegewys te word:
(a) Die  instandhouding en  verbetering van  die  skool  se  eiendom,  asook die geboue en gronde deur die skool beset, met inbegrip van koshuise, indien van toepassing; ...”
“(6)  Die  Lid  van  die  Uitvoerende  Raad  kan,  by  kennisgewing  in  die  Provinsiale Koerant,  bepaal  dat  sekere  beheerliggame  een  of  meer  werksaamhede  kan  uitoefen sonder om `n aansoek bedoel in subartikel (1) in te dien, indien ...”
Bostaande artikels verplig die beheerliggaam om die eiendom te administreer en te beheer, en artikel 21 vereis die instandhouding en verbetering van die eiendom. Let daarop dat nie alle skole artikel 21-funksies of ál die funksies het nie. (Artikel 21(6) bepaal dat skole van hierdie funksies kan kry sonder om aansoek te doen.) Artikel 21-funksies kan slegs deur die bepalings van artikel 22 teruggetrek word, en daar hoef nie telkens aansoek gedoen te word om artikel 21-funksies te verrig nie.
Uit bostaande blyk dat daar geen toestemming van die distrikskantoor/Departement nodig is om enige bouwerk goed te keur nie. Dít verplig egter die beheerliggaam om besluite oor verandering van bestaande strukture ooreenkomstig goeie beheer- en bestuurspraktyke te neem ten einde beter onderrig te verseker.
Die beheerliggaam het ,`n verantwoordelikheid om die skoolhoof in hierdie omstandighede te beskerm deur die Departement op die betrokke artikels te wys en self alle korrespondensie te hanteer, en die amptenaar te versoek om die beheerliggaam van die statutêre voorskrifte te voorsien wat haar magtig om die versoek te rig. Die skoolhoof se vakbond behoort hom in enige dissiplinêre proses te beskerm. Let ook op die saak van die Nuwe Republiek-skool op die FEDSAS-webwerf.
 

Vraag:
Hoërskool Brandkop se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Die skoolhoof het dié week twee beheerliggaamopvoeders in kennis gestel dat hulle nie meer tot die skool se bestuurspan behoort nie. Die opvoeders is briesend en het die beheerliggaam genader om die saak te hanteer. Adviseer die voorsitter oor wat hom te doen staan.

Antwoord:

Vir `n volledige bespreking oor die werk en samestelling van `n skoolbestuurspan, sien die dokument “Die status en rol van ? skoolbestuurspan in openbare skole” op die webblab www.fedsas.org.za
Daar is geen wetgewing of regulasies wat die oprigting, samestelling en/of werking van bestuurspanne in skole bepaal nie. 
`n Skoolbestuurspan (SBS) kan omskryf word as die ‘uitvoerende komitee’ van `n skool, met die skoolhoof as die hoof- uitvoerende beampte. Die beheerliggaam word weer gelykgestel aan die ‘direksie’ van die skool, wat die skoolhoof as die hoof- uitvoerende beampte van die SBS aanstel. As hoof- uitvoerende beampte, moet die skoolhoof aan die beheerliggaam verantwoording doen met betrekking tot die doen en late van die SBS, maar in geen stadium is die beheerliggaam by die uitvoering van die SBS se pligte betrokke nie. Dít beteken dus dat die skoolhoof besluit watter personeellede hy wil aanstel of verwyder uit die SBS.
Die SBS is ook nie `n ‘demokratiese struktuur’ nie, maar eerder `n bestuursinstrument, wat die skoolhoof in sy hoedanigheid as hoof- uitvoerende beampte van die skool bystaan. Hoewel die skool se personeel bydraes oor die samestelling van die SBS kan lewer, of bepaalde persone weens hulle posisie of statuur in die skool moontlik verwagtinge koester om in die SBS aangestel te word, of dalk glo dat hulle daarop geregtig is, word geen skoolhoof deur so `n proses, verwagting of oortuiging gebind nie, en behoort hy/sy hom/haar ook nie daardeur te laat voorskryf nie. Vir die skoolhoof behoort die deurslaggewende vraag te wees: Wie wil ek hê en gaan ek nodig kry om my mandaat doeltreffend en bekwaam uit te voer?
Uiteindelik is die skoolhoof alleen teenoor die beheerliggaam verantwoordbaar, en indien die SBS versuim om behoorlik te funksioneer, sal die skoolhoof moet verduidelik en alleen aanspreeklik gehou word. Indien die skoolhoof dus reken dat sekere personeel nie in die SBS moet dien nie, kan hy sodanige personeel van die SBS verwyder. Dit het niks met die beheerliggaam te doen nie, en vestig ook geen regte by personeel nie.
Daar is ook al opgemerk dat die skoolhoof die SBS kan gebruik om jonger personeel goeie blootstelling te gee, en selfs persone vir korter tydperke kan betrek.
 

Vraag:
Die voorsitter van Hoërskool Brandwag se beheerliggaam bel u vir advies. 'n Leerder is vir twee maande uit die skoolkoshuis geskors en nou weier die ouer om die koshuisgeld te betaal. Die voorsitter deel u ook mee dat hulle geen skriftelike ooreenkoms met inwoners of ouers het nie, en dat hy ook nie bewus is van enige koshuisbeleid nie. Adviseer hom oor of die skool wél die geld sou kon invorder, en bied ook leiding oor wat die skool voortaan moet doen om hierdie situasie te voorkom.

Antwoord:

Die beheerliggaam is in die moeilikheid as gevolg van hul eie onbekwaamheid en onkunde, omdat daar geen koshuiskontrakte en -beleid bestaan nie. Die opstel van sodanige dokumente is die taak van die beheerliggaam en die koshuiskomitee. `n Koshuisbeleid en -kontrak sou sulke situasies kon reel. Die afdwinging van betaling aan die hand van `n duidelike ooreenkoms in dié verband sou maklik wees. By gebrek aan bogenoemde sal dit egter moeilik wees om die geld in te vorder.

Die beheerliggaam kan die ouer versoek om die koshuisgeld te betaal, maar indien die ouer weier, sou ek nie voorstel dat hulle regstappe doen nie. Die beheerliggaam moet onmiddellik aan skoolbeleid en verblyfkontrakte aandag gee, en geen leerder behoort tot die koshuis toegelaat te word voordat die ooreenkoms nie onderteken is nie. Terselfdertyd moet alle beleid en kontrakte onder die beheerliggaam se beheer ook sommer bestudeer word. Die FEDSAS-webwerf verskaf uitstekende inligting in dié verband onder “Dokumente/Regsmenings/Koshuise”. FEDSAS se konsepkoshuiskontrak sal ook eersdaags onder die voorbeelddokumente verskyn.
 

Filter Dokumente
Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid