Grondwet van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole

< Terug

Grondwet van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole



1. Naam

  1. Die naam van die vereniging is die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (hierna ‘die vereniging’ of ‘FEDSAS’).
  2. Die amptelike afkorting van die naam van die vereniging is FEDSAS.


2. Regspersoonlikheid

  1. FEDSAS is 'n regspersoon en vereniging sonder winsoogmerk, en is as sodanig die draer van regte en verpligtinge, en bates en laste, en beskik oor die bevoegdheid om in eie naam te dagvaar en gedagvaar te word.
  2. FEDSAS bly voortbestaan ondanks veranderinge in die samestelling van sy lidmaatskap of ampsdraers.
  3. Geeneen van die lede van FEDSAS is aanspreeklik vir die laste of verpligtinge van die vereniging, of geregtig op die bates of inkomste van die vereniging nie, behalwe as redelike vergoeding vir dienste gelewer.
  4. Onderworpe aan voorafmagtiging deur die Nasionale Raad, verteen­woordig die voorsitter van die Nasionale Raad, of, in sy/haar afwesigheid, die ondervoorsitter of enige ander lid van die Nasionale Raad wat kragtens ? besluit van die Nasionale Raad daartoe gemagtig is, FEDSAS in alle regshandelinge van die vereniging.


3. Visie

Die visie van FEDSAS is die behoud en bevordering van gehalteonderwys in alle skole in die Republiek van Suid-Afrika.

4. Missie

Die missie van FEDSAS is om alles in sy vermoë te doen om sy lede en belangegroepe, naamlik ouers, leerders en personeel, te verteenwoordig in die vestiging en bevordering van die hoogste moontlike standaard van opvoeding vir die kinders van ons land, en om doeltreffende leierskap in en van skoolbeheer en -bestuur te bevorder.

5. Beginsels

  1. FEDSAS onderskryf die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika.
  2. FEDSAS ondersteun die beginsel van maksimum afwenteling van skoolbeheer en -bestuur na beheerliggame van openbare skole, en beywer hom vir die bevordering en uitbouing van beheerliggame se magte en bevoegdhede deur beheerliggaamvermoë te bou.
  3. FEDSAS ondersteun en bevorder die beginsel van die vryheid van beheerliggame en skoolgemeenskappe om die vlak waarop die staat onderwys voorsien, aan te vul.
  4. FEDSAS onderskryf die beginsel van keuring en erkenning op grond van meriete en uitnemendheid.
  5. FEDSAS ondersteun die beginsel dat skoolbeheerliggame vir elke leerder geleenthede behoort te skep om sy/haar volle potensiaal te verwesenlik.
  6. FEDSAS onderskryf die beginsel van die behoud en bevordering van ? kultuur van leer en onderrig in alle skole, sowel as die beginsel van uitnemend­heid in onderrig.
  7. FEDSAS ondersteun die beginsel van die vestiging en behoud van gesonde verhoudinge met alle belangegroepe in die onderwys.
  8. FEDSAS ondersteun die beginsel van verdraagsaamheid. Ons respekteer en erken die verskillende kulture, gelowe en tale van die mense van die Republiek van Suid-Afrika, verenig in ons diversiteit.


6. Doelstellings

Die doelstellings van FEDSAS is soos volg:

  1. Om beheerliggame sowel as groepe wat in paragraaf 7 hieronder beoog word, byeen te bring.
  2. Om as ’n verteenwoordigende liggaam en spreekbuis te dien vir die bevordering van sy lede se gemeenskaplike belange en ideale, sonder om in hulle huishoudelike sake in te meng.
  3. Om amptelike erkenning van alle toepaslike liggame, instellings en owerhede te verkry.
  4. Om namens sy lede samesprekings te voer en te onderhandel met, en voorleggings te maak aan, gesagsliggame en ander instellings op alle vlakke.
  5. Om geld in te samel ter verwesenliking van die doelstellings van FEDSAS.
  6. Om alle stappe te doen wat nodig kan wees om die missie of doel­stellings van FEDSAS te bevorder.
  7. Om FEDSAS-lede op te lei, toe te rus en by te staan in die uitoefening van hulle regte, die vervulling van hulle pligte, en die nakoming van hulle verantwoordelikhede.
  8. Om gesonde kommunikasie met alle belangegroepe in die onderwys te vestig en te bevorder.
  9. Om innoverend te werk te gaan om soveel moontlik waarde uit die beskikbare tegnologie te put ten einde in ons interne én bedryfsbehoeftes te voorsien, en om lede van diens te wees en te begelei ten opsigte van die impak van tegnologie op die onderwys.


7. Lidmaatskap

  1. FEDSAS-lede bestaan uit geaffilieerde beheerliggame van skole wat lede geword het op grond van goedgekeurde lidmaatskapsaansoeke.
  2. Aangewese groepe of organisasies kan as lede van FEDSAS toegelaat word, selfs al is hulle nie beheer­liggame van openbare skole nie, indien die tersaaklike lidmaatskapsaansoek goedgekeur word deur ten minste 75% van die lede van die Nasionale Raad wat by die betrokke vergadering teenwoordig is en stem, onderworpe aan sodanige voorwaardes as wat die vergadering kan oplê en die aansoeker aanvaar.
  3. 'n Lid van FEDSAS kan sy lidmaatskap van die vereniging deur skriftelike kennisgewing aan die uitvoerende hoof beëindig.
  4. Die uitvoerende hoof kan ? lid se lidmaatskap skriftelik beëindig in geval van wanbetaling van die voorgeskrewe ledegeld, of op grond van optrede of gedrag wat na die oordeel van die uitvoerende hoof strydig is met enige bepaling van hierdie grondwet of enige besluit van die Nasionale Raad. Sodanige beëindiging sal slegs geskied nadat die lid 'n redelike tyd gegun is om redes aan te voer waarom die lid se lidmaatskap nie beëindig moet word nie.
  5. Indien 'n lid se lidmaatskap ooreenkomstig paragraaf 7.4 hierbo beëindig word, is sodanige lid daarop geregtig om na die Nasionale Raad te appelleer teen die uitvoerende hoof se besluit. Die skriftelike kennisgewing van appèl moet die voorsitter teen nie later nie as twintig (20) kalenderdae ná die datum van beëindiging van lidmaatskap bereik.
  6. By die oorweging van die appèl is die Nasionale Raad daarop geregtig om sodanige bykomende inligting in te win as wat na die oordeel van die Nasionale Raad nodig kan wees om tot 'n regverdige en billike beslissing te kom.

8. Amptelike tale

  1. Die amptelike tale van FEDSAS is Afrikaans en Engels, sowel as enige ander amptelike taal van die Republiek van Suid-Afrika wat die Nasionale Raad van tyd tot tyd kan bepaal.
  2. In soverre dit prakties uitvoerbaar is, word alle sakelyste en notules van vergaderings om die beurt óf op versoek in elk van FEDSAS se amptelike tale opgestel, met dien verstande dat 'n lid daarop geregtig is om aan te dring dat 'n  mosie of resolusie in die amptelike FEDSAS-taal van sy/haar keuse aangebied en genotuleer word.
  3. Mosies en amendemente word voorgedra in die amptelike taal van die voorsteller se keuse, met dien verstande dat die voorsitter daarop geregtig sal wees om 'n vrye vertaling van sodanige mosie of amendement aan die vergadering voor te hou.

9. Strukture van FEDSAS

     9.1. Algemene Jaarvergadering

  1. Die Algemene Jaarvergadering is die hoogste beleidmakende liggaam van FEDSAS.
  2. Die Algemene Jaarvergadering word een maal per jaar gehou op 'n datum en plek wat die Nasionale Raad bepaal.
  3. Die Algemene Jaarvergadering bestaan uit persone wat die Provinsiale Rade vir daardie doel afvaardig.
  4. Elke Provinsiale Raad is daarop geregtig om persone na die Algemene Jaarvergadering af te vaardig, van wie slegs vyf (5) stemgeregtig is. 
  5. Die kworum vir besluite van die Algemene Jaarvergadering is drie-en-twintig (23).
  6. Elke stemgeregtigde moet in besit wees van 'n geloofsbrief wat deur die Provinsiale Raad uitgereik is.
  7. Geen volmagstemme word toegelaat nie.
  8. Alle besluite van die Algemene Jaarvergadering word deur die opsteek van hande geneem, tensy die vergadering anders ooreenkom. Alle besluite word deur middel van 'n gewone meerderheid van stemme geneem. Die voorsitter het ’n beslissende stem in geval van 'n taking van stemme.
  9. Algemene Jaarvergaderings kan kontak-, aanlyn óf hibridiese vergaderings wees, onderworpe daaraan dat alle lede van die vergadering alle ander lede kan hoor en vryelik aan besprekings kan deelneem ooreenkomstig 'n  prosedure wat die Nasionale Raad bepaal.
  10. Die Algemene Jaarvergadering:
  • oorweeg en aanvaar die voorsitter se jaarverslag;
  • oorweeg en aanvaar die vereniging se finansiële jaarverslag;
  • verkies elke drie jaar die lede van die Nasionale Raad, sowel as 'n sekundus vir elke lid van die Nasionale Raad;
  • verkies elke drie jaar die voorsitter van die vereniging; 
  • verkies elke drie jaar die ondervoorsitter van die vereniging uit die verkose lede van die Nasionale Raad; en
  • wys onafhanklike ouditeure aan om die finansiële sake van die vereniging te oudit.

9.2. Nasionale Raad

  1. Die uitvoerende gesag, beheer en verantwoordelikheid van FEDSAS berus by die Nasionale Raad.
  2. Die Nasionale Raad bestaan uit een persoon per provinsie wat vir 'n termyn van drie jaar by én deur die Algemene Jaarvergadering verkies word; die voorsitter; die uitvoerende hoof van FEDSAS, sowel as 'n maksimum van drie persone wat deur die Nasionale Raad gekoöpteer word. Die gekoöpteerde lede hoef nie beheerliggaamlede te wees nie. Die Algemene Jaarvergadering wys ook vir elke verkose lid van die Nasionale Raad 'n sekundus aan.
  3. Die Nasionale Raad belê een gewone vergadering in elke helfte van die jaar, op ? tyd en plek wat die voorsitter bepaal.
    1. Die voorsitter kan geheel na eie goeddunke 'n buitengewone vergadering van die Nasionale Raad belê, en is verplig om sodanige vergadering te belê as ten minste vier lede van die Nasionale Raad dit skriftelik versoek, ten einde enige belangrike, dringende saak te bespreek en te beslis.
  4. Die Nasionale Raad bepaal die prosedure wat by sy vergaderings sowel as die vergaderings van die Uitvoerende Komitee en enige ander komitees geld.
  5. Vergaderings van die Nasionale Raad kan kontak-, aanlyn óf hibridiese vergaderings wees, onderworpe daaraan dat alle lede van die vergadering alle ander lede kan hoor en vryelik aan besprekings kan deelneem ooreenkomstig 'n prosedure wat die Nasionale Raad self bepaal. 
  6. ’n Kworum vir ’n vergadering van die Nasionale Raad is vyftig persent (50%) van die lede van die Nasionale Raad plus een (of verteenwoordiging van vyf provinsies).
  7. Die ampstermyn van die lede van die Nasionale Raad is drie jaar, en elke lid is herkiesbaar, mits hulle steeds kwalifiseer. Die lid moet ten tyde van die verkiesing 'n lid van die beheerliggaam van 'n lidskool wees. 
  8. Die Nasionale Raad handel alle dringende sake namens die Algemene Jaarvergadering af wanneer die Algemene Jaarvergadering nie in sitting is nie, en doen by die Algemene Jaarvergadering daaroor verslag.
  9. Die Nasionale Raad bepaal FEDSAS-beleid, maar die Algemene Jaarvergadering kan sodanige beleid wysig of ter syde stel.
  10. Die Nasionale Raad kan na goeddunke enige strukture vestig om aan die missie en doelstellings van FEDSAS uitvoering te gee.

9.3. Uitvoerende Komitee

  1. Die Nasionale Raad stel op aanbeveling van die uitvoerende hoof. 'n Uitvoerende Komitee aan, wat onder voorsitterskap van die uitvoerende hoof funksioneer.
  2. Die Uitvoerende Komitee is verantwoordelik vir die Uitvoerende Sentrum en dié se aktiwiteite.
  3. Die uitvoerende hoof of die Nasionale Raad belê die vergaderings van die Uitvoerende Komitee op sodanige tyd en plek as wat die uitvoerende hoof of die Raad bepaal.
  4. Die Uitvoerende Komitee gee aandag aan die uitvoering van besluite van die Algemene Jaarvergadering en die Nasionale Raad, die daaglikse bestuur van die vereniging, en alle dringende sake, en doen by die Nasionale Raad daaroor verslag.
  5. Die Uitvoerende Komitee doen by die Nasionale Raad oor al sy werksaamhede verslag.
  6. Die Uitvoerende Komitee is daarop geregtig om lede volgens sy behoeftes te koöpteer, met dien verstande dat geen gekoöp­teerde lid enige stemreg sal hê by enige vergadering van die Uitvoerende Komitee nie.

9.4. Komitees

  1. Die Nasionale Raad en die Uitvoerende Komitee kan komitees aanstel om hulle met die nakoming van hulle pligte te help, welke komitees volgens 'n komiteereglement sal funksioneer.
  2. Die Nasionale Raad het die volgende staande komitees:

                              Oudit- en Risikokomitee

                              Menslikehulpbronkomitee

                             Strategiekomitee

         3. Die voorsitter van elke komitee moet deur die Nasionale Raad aangestel word.

         4. Die Nasionale Raad kan enige persoon as ’n lid van 'n komitee aanstel.

9.5. Die voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris en tesourier

  1. Die voorsitter, ondervoorsitter en alle ander ampsdraers van die Nasionale Raad beklee hulle ampte vir drie jaar.
  2. Die voorsitter sit voor op alle vergaderings van FEDSAS en die Nasionale Raad, en het by sodanige vergaderings slegs 'n beslissende stem.
  3. In die voorsitter se afwesigheid tree die ondervoorsitter as voorsitter op, en in die ondervoorsitter se afwesigheid wys die Nasionale Raad deur middel van 'n meerderheidsbesluit 'n waarnemende voorsitter aan.
  4. Die voorsitter verrig alle take en verantwoordelikhede wat hierdie grondwet of die Nasionale Raad aan hom/haar opdra. In die voorsitter se afwesig­heid verrig die ondervoorsitter sodanige take en verantwoordelikhede, en in die onder­voorsitter se afwesigheid, 'n lid van die Nasionale Raad wat die Nasionale Raad vir daardie doel aanwys.
  5. Indien die voorsitter voor die verstryking van sy/haar termyn die amp sou neerlê, wys die Nasionale Raad deur middel van 'n meerderheidsbesluit een van sy lede aan om die amp tot die verstryking van die betrokke termyn te beklee.
  6. Die Nasionale Raad stel 'n sekretaris aan.
  7. Die sekretaris is 'n lid van die Nasionale Raad, sonder stemreg.
  8. Die sekretaris is daarvoor verantwoordelik om notule te hou van die besluite van elke vergadering van die Nasionale Raad en die Uitvoerende Komitee, en om toe te sien dat sakelyste vir vergaderings ten minste veertien (14) dae vooraf aan lede voorsien word.
  9. Die Nasionale Raad is daarop geregtig om die sekretaris vir sy/haar dienste te vergoed.
  10. Die sekretaris verrig alle funksies wat die Nasionale Raad aan hom/haar opdra.
  11. Die Nasionale Raad stel 'n tesourier aan. Die tesourier is ook die voorsitter van die Oudit- en Risikokomitee. 
  12. Die tesourier is 'n stemgeregtigde lid van die Nasionale Raad (tensy sodanige persoon nie uit die verkose lede van die Nasionale Raad kom nie, in welke geval hy/sy geen stemreg het nie).
  13. Die tesourier is daarvoor verantwoordelik om finansiële rekords te hou soos wat hierdie grondwet voorskryf.


9.6. Uitvoerende Sentrum

  1. Die Nasionale Raad stel 'n uitvoerende hoof en, indien dit nodig is, personeellede aan om, as die Uitvoerende Sentrum, sodanige administratiewe en ander werksaamhede te verrig as wat die Nasionale Raad kan bepaal.
  2. Die Nasionale Raad bepaal die pligstate vir aanstellings in die Uitvoerende Sentrum.
  3. Die uitvoerende hoof is aanspreeklik teenoor, en moet verslag doen aan, die Nasionale Raad ten opsigte van die uitvoering van sy/haar pligte.
  4. Die bestuur en uitvoerende werksaamhede van FEDSAS berus by die uitvoerende hoof.


9.7. Provinsiale Rade

  1. FEDSAS beskik oor 'n Provinsiale Raad vir elke provinsie van Suid-Afrika.
  2. Die Provinsiale Rade funksioneer kragtens ? reglement wat die Nasionale Raad goedkeur.
  3. Die Nasionale Raad is daarop geregtig om sodanige regte, bevoegdhede en werksaamhede aan enige Provinsiale Raad of ampsdraer van 'n Provinsiale Raad te delegeer as wat na die oordeel van die Nasionale Raad nodig kan wees om die vereniging se doelstellings te verwesenlik of die doelmatigste en doeltreffendste funksionering van die vereniging te bevorder.


9.8. Neerlegging van die amp deur ampsdraers

  1. Enige verkose ampsdraer kan die amp neerlê deur ’n skriftelike kennisgewing met dié strekking in te dien by die voorsitter van die Nasionale Raad of Provinsiale Raad, na gelang van die geval.
  2. Die voorsitter van die Nasionale Raad kan 'n lid se lidmaatskap van daardie raad skriftelik beëindig op grond van optrede of gedrag wat na die oordeel van die meeste lede van die Nasionale Raad strydig is met enige bepaling van hierdie grondwet of enige besluit van die Nasionale Raad. Sodanige beëindiging sal slegs geskied nadat die lid ? redelike tyd gegun is om redes aan te voer waarom die lid se lidmaatskap nie beëindig moet word nie. 
  3. Indien 'n lid se lidmaatskap ooreenkomstig paragraaf 9.8.2 hierbo beëindig word, is sodanige lid daarop geregtig om na die Algemene Jaarvergadering te appelleer teen die Nasionale Raad se besluit. Die skriftelike kennisgewing van appèl moet die voorsitter teen nie later nie as twintig (20) kalenderdae ná die datum van beëindiging van lidmaatskap bereik.
  4. By die oorweging van die appèl is die Algemene Jaarvergadering daarop geregtig om sodanige bykomende inligting in te win as wat na die oordeel van die Algemene Jaarvergadering nodig kan wees om tot ? regverdige en billike beslissing te kom.
  5. Die bepalings in paragraaf 9.8.2 tot 9.8.4 hierbo is eweneens van toepassing op die beëindiging van die lidmaatskap van ? ampsdraer van 'n  Provinsiale Raad, in welke geval alle verwysings na die voorsitter, die Nasionale Raad en die Algemene Jaarvergadering hierbo as verwysings na onderskeidelik die voorsitter van die Provinsiale Raad, die Provinsiale Raad en die Nasionale Raad beskou word.


10. Ledegeld

  1. Die Nasionale Raad stel jaarliks die ledegeld van FEDSAS vas. Ledegeld is betaalbaar teen die datums wat die Nasionale Raad bepaal.
  2. In die geval van aangewese groepe of organisasies waarna paragraaf 7.2 hierbo verwys, bepaal die uitvoerende hoof en tesourier die ledegeld ooreenkomstig die riglyne van die Nasionale Raad wanneer sodanige groepe of organisasies as lede toegelaat word. Daarna word die ledegeld jaarliks deur die Nasionale Raad hersien en bepaal.


11. Finansies, bates en laste, en regte en verpligtinge

  1. FEDSAS se boekjaar strek van 1 Januarie tot 31 Desember.
  2. FEDSAS se finansiële transaksies geskied deur middel van 'n bankrekening by 'n erkende en goedgekeurde finansiële instelling waarop die Nasionale Raad van tyd tot tyd kan besluit. 
  3. Daar word rekord gehou van ál FEDSAS se inkomste en uitgawes, en bates en laste, ooreenkomstig erkende rekeningkundige praktyk.
  4. Die Nasionale Raad, deur die uitvoerende hoof, is daarop geregtig:
    1. om eiendom (hetsy roerend of onroerend) te bekom of te vervreem, of op enige ander wettige wyse daarmee te handel;
    2. om rekeninge te open, en geld te belê of te onttrek; en         
    3. om lenings aan te gaan of roerende óf onroerende eiendom as sekuriteit vir lenings aan te bied.
  5. Die Uitvoerende Komitee moet jaarliks 'n finansiële verslag opstel en vir goedkeuring aan die Algemene Jaarvergadering voorlê.
  6. Die Nasionale Raad is daarop geregtig om toelaes, salarisse of vergoeding te betaal vir enige doeleindes wat na sy oordeel nodig is om die vereniging na behore te laat funksioneer of die vereniging se doelstellings na behore te bevorder.
  7. Geen geld van die vereniging word aan enige persoon uitbetaal nie behalwe in die loop van die beoefening van die openbare weldaadsaktiwiteite van FEDSAS wat in bogenoemde doelstellings beliggaam word.
  8. FEDSAS-geld word slegs aangewend vir die oogmerke waarvoor die vereniging ingestel is, of word belê by 'n erkende finansiële instelling. 
  9. FEDSAS sal geen sakeonderneming of handelsaktiwiteit bedryf nie, tensy artikel 30(3)(b)(iv) van die Inkomstebelastingwet, 1962 (Wet 58 van 1962), dit uitdruklik toelaat.


12. Wysiging

Enige bepaling van hierdie grondwet kan by 'n vergadering van die Nasionale Raad gewysig word, onderworpe aan die volgende:

  1. Dat die lede van die Nasionale Raad kennis ontvang van sodanige voorgenome wysiging minstens veertien (14) dae voor die vergadering waar die wysiging oorweeg sal word, tensy die Nasionale Raad by sodanige vergadering ? korter kennistydperk goedkeur.
  2. Dat twee derdes van die stemgeregtigde lede by sodanige vergadering ten gunste van die wysiging stem.


13. Ontbinding

  1. Die vereniging ontbind indien vyf-en-sewentig persent (75%) van die stemgeregtigde verteenwoordigers by 'n  gewone of buitengewone Algemene Jaarvergadering ten gunste van sodanige ontbinding stem, mits daar minstens veertien (14) dae vooraf skriftelik kennis gegee is van die voorstel dat die vereniging ontbind.
  2. Indien die vereniging ontbind, word sy bates gelikwideer deur 'n likwidateur wat aangewys word deur die vergadering waar die ontbindingsbesluit geneem word. Indien geen sodanige likwidateur aangewys word nie, is die hoof van die onderwysdepartement van die provinsie waarin die vereniging die meeste lede het daarop geregtig om 'n likwidateur aan te wys.
  3. Die opbrengs van die likwidasie moet in die volgende voorkeurorde aangewend word:
    1. Die koste van die likwidasie
    2. Alle krediteure van die vereniging
    3. Alle bedrae betaalbaar aan die uitvoerende hoof of personeellede van die vereniging
    4. Die balans, indien enige, word oorgedra aan 'n soortgelyke organisasie wat wesenlik dieselfde missie en doelstellings as FEDSAS het (welke organisasie aangewys word deur die vergadering waar die ontbindingsbesluit geneem word of, by gebrek daaraan, deur die hoof van die onderwysdepartement van die provinsie waarin die vereniging die meeste lede het).

Aanvaar op 27 April 1998 en gewysig in Maart 1999, Augustus 1999, Julie 2000 en Mei 2001, sowel as op 8 November 2003, 21 Augustus 2004, 19 November 2005, 20 November 2009, 12 November 2010, 17 Augustus 2019, 22 Augustus 2020 en 26 November 2021

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid