Artikel

Ja vir Kodering en Robotika in skole, maar kom ons maak dit ’n werklikheid vir almal, sê FEDSAS

14/06/2024 - Fedsas


Die insluiting van Kodering en Robotika in die nasionale skoolkurrikulum is ’n progressiewe stap. Dit sal leerders toerus met vaardighede vir die 21ste eeu en hulle voorberei op die vierde industriële revolusie.      

 “Die FEDSAS Sentrum vir Tegnologie werk al vir byna ’n dekade met hierdie vakke. Die vaardighede is uiters waardevol en die insluiting van Kodering en Robotika vir grade R-9 is ’n stap in die regte rigting,” sê mnr. Riaan van der Bergh, adjunkhoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole) en bestuurder van die FEDSAS Sentrum vir Tegnologie.     

 Van der Bergh sê insluiting van die vakke in die kurrikulum is egter slegs die eerste stap. “Ons is angstig om die finale sillabus te sien aangesien die konsep reeds geruime tyd beskikbaar is. Ontwikkeling in hierdie veld vind feitlik weekliks plaas, so enige inhoud moet op datum wees en ook gereeld opdateer word.”   

Een van die groot uitdagings is befondsing, veral vir geen-fooi-skole en armer gemeenskappe. FEDSAS versoek die Departement van Basiese Onderwys om so spoedig moontlik hieroor duidelikheid te gee. Toegang tot hardeware is ook ’n potensiële kwessie. Van der Bergh sê ervaring het geleer dat skole noodgedwonge sonder toerusting sal moet bly, of hul eie toerusting sal moet aankoop. “Skole sal op hul hoede moet wees met die aankope en nie net die eerste of goedkoopste toerusting aankoop nie. Dit is baie belangrik dat skoolbeheerliggame die beste moontlike oplossing soek. Die Sentrum vir Tegnologie bied reeds vir jare ondersteuning hiermee aan FEDSAS-lede.”  

Nog ’n uitdaging, sê Van der Bergh, is kapasiteit en opleiding van opvoeders. “By die FEDSAS Sentrum vir Tegnologie is dit ons ervaring dat opvoeders baie selde opgelei of van bykomende vaardighede in hierdie dissipline voorsien word, wat toegang belemmer.”

Deur die Sentrum vir Tegnologie is FEDSAS aktief betrokke by die bevordering van Kodering en Robotika, meestal as buitemuurse of buite-kurrikulêre aktiwiteite. “Die Sentrum van Tegnologie betrek ook korporatiewe lede uit die bedryf. Een van ons vennote, Resolute Robotics, is baie ervare in hierdie veld en het reeds meer as 300 skole ondersteun in die implementering van Kodering en Robotika. Hierdie skole kom uit alle sektore en kwintiele, en steun word gebied aan meer as 1500 opvoeders wat meer as 150 000 leerders bereik. Baie van die hulpbronne vir opvoeders is gratis beskikbaar.” Van der Bergh sê daar is verskeie diensverskaffers in die mark wat gereed is om skole met die proses by te staan.   

 “Terwyl daar gewag word op riglyne van die Departement van Basiese Onderwys, het talle skole reeds self planne tot voordeel van leerders gemaak. Nie alle leerders sal noodwendig IT-kenners word nie, maar ’n basiese begrip van die vaardighede vir die 21ste eeu is noodsaaklik vir almal. Dit is nie net ’n geval van leerders wat van tegnologie leer nie; skole moet ook met en deur tegnologie leer. Ander vakke soos wiskunde en wetenskap vind ook baat by tegnologievakke.”   

Van der Bergh sê met kunsmatige intelligensie wat oral in die kollig is, is die tyd ook ryp vir die departement om ’n gesprek oor die verantwoordelike gebruik van KI in onderwys te begin. “KI is nie bloot net ’n nuus-item nie. Ons voorsien dat dit toenemend deur leerders en ook onderwysers en skoolbestuurders gebruik gaan word. Die gevare van KI moet uitgelig word, maar ook die waarde en voordele.        

FEDSAS was nog altyd aan die voorpunt van ontwikkelings wat skoolbeheer- en bestuur beïnvloed. Die organisasie het ’n wye reeks hulpbronne beskikbaar om lede te ondersteun. “Die toekoms is hier. Om besluite en ontwikkeling te vertraag, sal nie net die onderwyssektor benadeel nie, maar ook die kinders van Suid-Afrika.” 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid