Artikel

Vakante onderwysposte in Noordwes ontneem leerders van grondwetlike reg tot gehalte-onderrig, sê FEDSAS

29/10/2021 - Fedsas



Van die vakante poste vir skoolhoofde in die Noordwes-provinsie is ná vier jaar steeds nie gevul nie. Ten spyte hiervan het die provinsiale onderwysdepartement in hierdie provinsie slegs 'n paar bevorderingsposte in sy nuutste vakaturelys geadverteer.

            

“Die Noordwes-onderwysdepartement is reeds onder administrasie geplaas, maar daar is steeds geen verbetering te bespeur nie,” sê dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).

            

Deacon sê FEDSAS moes die provinsiale onderwysdepartement eerstens herhaaldelik versoek om 'n vakaturelys beskikbaar te stel. “Nou bevat die lys slegs poste wat sedert Julie vanjaar vakant geraak het. Toe ons navraag doen oor hoekom al die poste nie geadverteer is nie, was die antwoord dat dit weens begrotingsdruk is. Daar word egter gedurende elke begrotingsiklus vir poste begroot. Wat het dan geword van die geld wat die afgelope vier jaar vir vakante poste begroot is?”

            

Deacon sê FEDSAS het die aangeleentheid onder die aandag van die nasionale departement van basiese onderwys gebring. Die organisasie doen ook 'n beroep op die Minister van Basiese Onderwys, me. Angie Motshekga, om dringend in te gryp. “Die vakante poste moet onmiddellik geadverteer word. Die primêre doel van 'n  provinsiale onderwysdepartement is om toe te sien dat daar onderwysers in klaskamers is. Openbare skole is reeds onder geweldige druk om gehalte-onderrig aan alle leerders te lewer. Hoeveel bykomende druk plaas dit op  skool as daar al vir vier jaar nie 'n skoolhoof is nie?”

            

FEDSAS sal voortgaan om druk op onderwysdepartemente te plaas om toe te sien dat die onderwyssektor na wense funksioneer en dat alle leerders toegang het tot gehalte-onderrig. “Die eerste en belangrikste skakel in hierdie ketting is onderwysers. Sonder onderwysers is daar geen onderrig nie en so word kinders van hul grondwetlike reg ontneem.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid