Artikel

‘Vanjaar waardeer ons onderwysers meer as ooit,’ sê FEDSAS ter viering van Wêreldonderwysersdag

22/10/2020 - Fedsas


Lanklaas is die waarde van ? enkele professie so duidelik onderstreep soos dié van onderwysers gedurende die Covid-19-pandemie. Met miljoene kinders wêreldwyd wat skielik vanjaar vir maande aaneen tuisonderrig moes ontvang, het talle ouers en voogde eerstehands ervaar presies hoe uitdagend onderwys werklik is. Dit is waarskynlik veilig om te sê dat daar min rolspelers in skoolgemeenskappe is wat nie nou besef wat dit verg om ? onderwyser te wees nie. Dit is daarom vanjaar selfs méér as ander jare belangrik om hulde te bring aan onderwysers met die viering van Wêreldonderwysersdag op 5 Oktober.

“Dit is eintlik amper onmoontlik om ons waardering uit te druk vir die manier waarop onderwysers vanjaar hul kant gebring het. Die toewyding tot die taak, die innoverende idees om uitdagings die hoof te bied, die vasberadenheid om seker te maak dat die skooljaar nie verlore gaan nie – dit is eenvoudig merkwaardig,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).

Vanjaar se tema is “Onderwysers: Leiding gedurende krisis, herverbeelding van die toekoms”. “Vanjaar het die toekoms aan die deur kom klop en miljoene onderwysers gedwing om feitlik oornag aanlyn-spesialiste te raak. Om tegniese vaardighede onder die knie te kry, is maar een aspek van aanlyn-onderrig. Vir onderwysers was daar die bykomende uitdaging om seker te maak dat onderwys en leer steeds plaasvind. Bestaande lesse is nie bloot aanlyn aangebied nie – die hele leerplan moes vanuit ? ander hoek benader word.”

Deacon sê FEDSAS en ander rolspelers het steun gebied waar moontlik, maar die taak het uiteindelik op die skouers van onderwysers gerus. “Dit is daarom vanjaar vir FEDSAS belangrik om hulde te bring aan onderwysers. Ons wil leerders en ouers, groot en klein, almal wat iewers kontak het met ? skoolgemeenskap, vra om op 5 Oktober van FEDSAS se sosiale media gebruik te maak om aan onderwysers die erkenning te gee soos wat daar aan mediese personeel gegee is. Die uitdagings is dalk nie dieselfde nie, maar die aanpassings en opofferings is geensins minder nie.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid