Artikel

‘Beheerliggame kan hiermee werk,’ sê FEDSAS oor uitvoerbare, praktiese ‘nuwe’ BELAB

25/04/2024 - Fedsas


Duidelike spelreëls is die kern van die weergawe van die Wysigingswet op Onderwyswette, of BELAB, wat vandag (24 April 2024) goedgekeur is deur die Nasionale Raad van Provinsies se verkose komitee oor onderwys, tegnologie en sport.

          

“Daar is omvattende wysigings aan die weergawe wat vandag goedgekeur is,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole). Die aanvanklike wysigings rakende taal- en toelatingsbeleid, wat die besluitnemingsmag na die onderwyshoof sou skuif, is tot so ’n mate aangepas dat dit steeds ’n funksie van ’n skoolbeheerliggaam bly. “Dit gee wel beperkte oorsigkapasiteit aan onderwyshoofde maar met duidelike riglyne oor hoe dit moet gebeur.” 

          

Deacon sê die wysigings beklemtoon die belangrikheid van openbare deelname. “Wetgewende prosesse verloop dikwels baie stadig en dit mag dalk soms voel asof van hierdie aksies ’n futiele oefening is. Wat BELAB betref, is dit egter ’n voorbeeld van hoe ’n gesonde, demokratiese proses behoort te werk. FEDSAS is ook dankbaar dat die departement, minister en politici die derduisende openbare insette met die nodige erns hanteer het. Die deelname van die skole, gewone burgers en verskeie organisasies was deurslaggewend in die veranderinge wat aangebring is.”

          

FEDSAS was sedert 2017 ten nouste betrokke by die BELAB-proses. “Hoewel die organisasie hom dikwels in die openbare sfeer uitgespreek het oor van die meer omstrede wysigings, was die organisasie deurlopend as ? onderwysvennoot by die proses betrokke en deur die organisasie se ervaring op grondvlak te gebruik om bydraes te maak oor die praktiese uitvoerbaarheid van sommige wysigings.”

          

Die voorgestelde wysigings is nou van so ’n aard dat openbare skole steeds openbare skole bly wat deur skoolbeheerliggame beheer word. Dit was die oorspronklike visie van die Suid-Afrikaanse Skolewet en die huidige weergawe, in teenstelling met vorige weergawes, gee weer gestalte hieraan. 

         

“FEDSAS was van meet af aan gekant teen die voorgestelde wysigings oor toelatings- en taalbeleid, sentrale aankope, die openbare verklaring van belange en oormatige finansiële verslagdoening. In die jongste wysigings bepaal die beheerliggaam steeds die toelatings- en taalbeleid sonder dat dit deur ’n onderwyshoof goedgekeur hoef te word. Waar ’n onderwyshoof wel ’n finale besluit oor toelating moet neem, moet die skool se beleid gebruik word, dit moet in oorleg met die beheerliggaam plaasvind en die administratiewe besluit moet redelik, regmatig en prosedureel billik wees.” Die bepalings is nou ook in lyn met die Konstitusionele Hof se uitsprake in die Rivonia- en Ermelo-sake waar ’n presedent reeds geskep is oor die magte van besluitneming wanneer dit kom by taal en toelating in skole.

          

Deacon sê die volgende stap moet die afkondiging van regulasies oor die bepaling van die kapasiteit van ’n skool wees. “FEDSAS het reeds ’n omvattende voorlegging hieroor aan die minister gedoen. Sulke regulasies sal meetbare, objektiewe kriteria daarstel wat aangewend moet word om te bepaal wanneer ’n skool vol is. Waar ’n onderwyshoof ’n ander taal by ’n skool wil invoer, is daar nou ’n duidelik voorgeskrewe proses wat gevolg moet word, wat aan skole beter beskerming gee.”

          

FEDSAS is ook tevrede dat sentrale aankope van die departement nie meer verpligtend nie. Beheerliggame kan steeds na die beste opsies vir die skool kyk as leermateriaal aangekoop moet word. So ook is die bepalings dat alle lede van beheerliggame hul volle finansiële belange sowel as dié van nabye familielede moet verklaar, geskrap omdat die wet reeds bepalings het waar botsende belange verklaar moet word.

          

“FEDSAS het van die begin af sekere bepalings ondersteun. Dit sluit in ’n nuwe definisie van lyfstraf, bepalings wat meer duidelikheid gee oor dissipline, die byvoeging van ’n verpligte graad R en die hantering van leerders sonder die nodige dokumentasie, byvoorbeeld leerders sonder geboortesertifikate en buitelandse leerders sonder studiepermitte.”

          

Deacon verduidelik dat BELAB nou deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur moet word. Omdat daar omvattende wysigings is, moet dit dan terugverwys word na die Nasionale Vergadering. Indien die Nasionale Vergadering dit goedkeur, gaan dit na die president vir bekragtiging.

          

“Daar moet steeds baie water in die see loop en met die algemene verkiesing om die draai, sal dit steeds ’n uitdaging wees. FEDSAS is egter tevrede dat daar wesenlike vordering met die konsepwet gemaak is,” sê Deacon.

          

“BELAB is nou al lank in die nuus, en met reg. Maar dit is belangrik dat ons onsself voortdurend daaraan herinner dat die hele proses met al die kommentaar, kritiek en kommer een doel het, naamlik die behoud en bevordering van gehalte-onderwys vir alle kinders in Suid-Afrika.”


Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid