Artikel

SA-onderwysregvereniging vereer vyf vir lewensbydraes tot onderwys

08/09/2021 - Fedsas


Onderwysregkenners het die afgelope paar dae (6-8 September 2021) die virtuele konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Onderwysreg (Savo) bygewoon. Dié vereniging vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar en daarom is besluit om vyf erkennings vir lewensbydraes te maak aan persone wat oor ? lang tydperk ? uitstaande bydrae tot die veld van onderwysreg gemaak het. 

 “Een van die stigterslede en die eerste president van Savo, prof. Johan Beckmann, is een van die mense wat vereer word vir sy bydrae,” sê dr. Jaco Deacon, huidige president van Savo. Deacon sê Beckmann is ? internasionaal gerekende kenner van onderwysreg en onderwysbestuur. “Sy leidende rol het die grondslag gelê vir die ontstaan en die voortbestaan van Savo, soveel so dat hy nou in sy tagtigs steeds aktief betrokke is by onderwysreg.”

Nog ? bekende in Suid-Afrikaanse onderwys wat vir sy bydrae erken word, is Paul Colditz, jarelange uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). “Paul is seker dié kenner van onderwysreg in Suid-Afrika en het ? groot bydrae gelewer tot die Skolewet soos dit vandag daarna uitsien.”

Deacon sê erkenning vir lewensbydraes word ook gemaak aan prof. Rika Joubert en dr. Jean van Rooyen, twee akademici en navorsers wat ook internasionale erkenning geniet vir hul kundigheid oor veral openbare onderwys. “Nie net het hulle talle navorsingsartikels gepubliseer nie, maar hulle slaag ook daarin om hierdie akademiese insig prakties toe te pas sodat onderwys op grondvlak daarby baat kan vind. Albei was ook vir baie jare by die reëlings van die konferensie betrokke.”

Die vyfde toekenning is gemaak aan prof. Charles Russo, ? Amerikaanse akademikus wat wêreldwyd by die onderrig van onderwysreg betrokke is. “Dit is vir Savo belangrik om internasionale bande te hê en kundiges soos prof. Russo se insette in terme van Savo en ook Suid-Afrikaanse onderwys in die algemeen maak dat ons in staat is om voortdurend onsself aan die beste internasionale standaarde te meet.”

Deacon sê Savo se konferensie vanjaar het veral gefokus op die feit dat onderwys nie slegs die verantwoordelikheid van die Staat is nie. “Ingevolge internasionale reg is ouers primêr verantwoordelik vir die opvoeding van hul kinders. Dit beteken dat ouers en ander rolspelers in die gemeenskap ten nouste betrokke moet wees by skole. Samewerking is regtig die enigste sleutel tot die sukses van onderwys.” 

Die konferensie is bygewoon deur plaaslike en internasionale akademici, regspraktisyns, verteenwoordigers van beheerliggaamorganisasies, vakbonde, die SA Raad vir Opvoeders, onafhanklike skole, skoolhoofde en senior verteenwoordigers van die Nasionale Departement van Basiese Onderwys.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid