Artikel

Ontgin voordele van moedertaal-onderrig, meertaligheid, sê FEDSAS ter viering van Internasionale Moedertaaldag

21/02/2022 - Fedsas


Die voordele van moedertaalonderrig kan slegs ontsluit word indien kinders gehalte-onderrig in hul moedertaal ontvang.


“Daar is steeds te veel skole in Suid-Afrika wat wanpresteer. Vir baie ouers weeg die gehalte van die onderrig swaarder as die feit dat hul kinders in hul moedertaal onderrig word. Dit is hoekom ouers dikwels nie hul kinders in die skole naaste aan hulle plaas nie; hulle weeg afstand, bykomende koste en dikwels onderrig in die kind se tweede taal op teen swak onderrig in die kind se moedertaal in 'n  skool naby aan hul tuiste.”


Dit is volgens dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), op die vooraand van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie. Die dag word al vir byna 20 jaar gevier en die doel is die bevordering van meertaligheid en die belangrikheid van moedertaal-onderrig. Vanjaar val die fokus op die rol van tegnologie om moedertaal-onderrig en meertaligheid te bevorder.


Deacon sê nog 'n  uitdaging vir volhoubare moedertaal-onderrig in Suid-Afrika is te min skole. “Daar is eenvoudig nie genoeg skole om gehalte-moedertaalonderrig in al elf tale 'n  werklikheid te maak nie. Die uitdaging vir die Nasionale Departement van Basiese Onderrig en die provinsiale onderwysdepartemente is dus om skole te bou en bestaande skole behoorlik te befonds.”


Deacon sê egter die uitdaging van moedertaalonderrig van gehalte is nie net een vir die staat nie. “Elke rolspeler betrokke by onderwys moet hul kant bring om toe te sien dat wanpresterende skole behoorlik begin funksioneer. As ons al net die bestaande skole almal op dieselfde vlak kan kry, sal dit 'n geweldige hupstoot wees vir veral kinders se vroeë onderrig. Gehalte-onderrig in hul moedertaal op laerskool sal weer bydra tot beter prestasie op hoërskool, beter matriekuitslae en meer leerders wat hul skoolloopbane voltooi.”


Volgens die Verenigde Nasies is taaldiversiteit en meertaligheid noodsaaklik vir volhoubare ontwikkeling. “Ons elf amptelike tale is 'n geweldige bate vir Suid-Afrika, met die meeste mense wat minstens twee tale magtig is. Dit is 'n  bron van menslike kapitaal wat hoegenaamd nie na behore ontgin word nie. Meertaligheid dra byvoorbeeld by tot kreatiewe denke, wat weer die basis vorm vir unieke oplossings vir probleme.”


Terwyl gehalte-moedertaalonderrig in veral laerskole 'n  belangrike doelwit bly, moedig FEDSAS skoolgemeenskappe ook aan om vanjaar te dink aan maniere om die voordele van meertaligheid te ontgin om onderrig te bevorder

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid