Artikel

Voorgestelde wysigings aan onderwyswette moet tot voordeel van álle kinders wees, sê FEDSAS

05/06/2022 - Fedsas


Elke kind in Suid-Afrika is geregtig op gehalte-onderrig, maar die meeste kinders het steeds nie toegang daartoe nie. Enige kommentaar op die voorgestelde wysigings aan onderwyswette moet dus gedoen word met een doelwit voor oë: sal dit die gehalte van onderrig verbeter? Die publiek het tot 15 Junie om kommentaar te lewer op voorgestelde wysigings aan die Skolewet asook die Wet op Indiensneming van Opvoeders.


“Wysigings aan wetgewing is nie vreemd nie; trouens, dit is belangrik dat wetgewing in pas moet bly met veranderinge in die samelewing. Die Suid-Afrikaanse Skolewet het reeds nege wysigings ondergaan. Die laaste hiervan was meer as 'n dekade gelede in 2011,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).

Die voorgestelde wysigings het reeds heelwat kommentaar ontlok met die proses wat reeds in 2017 afgeskop het. Deacon sê FEDSAS het waardering daarvoor dat stemme vanuit die breër samelewing ook gehoor word rakende onderwys en veral organisasies in die Afrikaanse gemeenskap wat kommer oor taal en toelating uitlig. “Dit is belangrik dat alle groeperinge hul mening lug oor en konstruktiewe bydraes lewer tot onderwys, aangesien dit die hele samelewing raak.”


FEDSAS verteenwoordig uiteenlopende skoolbeheerliggame, van topskole tot skole wat baie uitdagings die hoof moet bied. “Ons lede verteenwoordig die hele spektrum van ons land. Aangesien die voorgestelde wysigings op alle openbare skole van toepassing is, is FEDSAS se benadering dat die kommentaar moet fokus op die bevordering van gehalte-onderrig in al hierdie skole.”


FEDSAS het sy lede voorsien van 'n opsomming van die voorgestelde wysigings, asook die implikasies daarvan vir beheerliggame. 'n Webinaar hieroor is aangebied en lede is ook ingelig oor hoe om kommentaar te lewer. Deacon sê in terme van openbare deelname is unieke kommentaar belangriker as byvoorbeeld 'n petisie met handtekeninge. “Ons wil hê elke skool moet besin oor hoe hierdie wysigings die funksionering van die skool sal verbeter of benadeel.”


FEDSAS het die voorgestelde wysigings aan drie toetse onderwerp. “Ons wou weet watter wysigings is 'n  verbetering op die huidige stelsel, watter van die bepalings sal nie 'n bydrae lewer nie en watter leemtes is daar.” Deacon sê die kern van die voorgestelde wysigings is reeds in 2017 vasgestel. “Die lesse wat die afgelope twee jaar met die pandemie geleer is, kon met ander woorde nie in ag geneem word nie. Om in pas te bly met verandering, moet die wysigings byvoorbeeld ons nuwe werkswyses en aspekte rondom aanlyn-onderrig en aanlyn-vergaderings ook in ag neem.”


Van die voorgestelde wysigings waaroor FEDSAS bekommerd is, sluit in dat daar van beheerliggaamlede verwag sal word om hul eie en nabye familielede se finansiële belange te verklaar. “Dit gaan kundige vrywilligers twee keer laat dink. Dit word nie eens van parlementslede verwag nie! As die doel is om botsende belange te verhoed, maak die huidige weergawe van die Skolewet reeds daarvoor voorsiening.” Deacon sê een van die wysigings waaroor tot dusver die meeste kommentaar gelewer is, is dat die finale bepaling van 'n skool se taal- en toelatingsbeleid by die provinsiale onderwyshoof lê. “Die eensydige bepaling van sulke beleid skep die potensiaal vir magsvergrype. Taal- en toelatingsbeleid moet in vennootskap tussen die skoolbeheerliggaam en relevante onderwysamptenare vasgestel word. 'n Openbare skool behoort immers aan die onmiddellike skoolgemeenskap en die taal- en toelatingsbeleid moet toesien dat daardie gemeenskap gedien word.”


FEDSAS doen 'n beroep op alle openbare skole en alle lede van die publiek wat 'n belang by onderwys het, om deel te neem aan die proses van openbare kommentaar. FEDSAS se opsomming van die voorgestelde wysigings, wat in samewerking met advokate en regskenners opgestel is, is op die FEDSAS-webblad beskikbaar. 'n Skakel na die webinaar is ook beskikbaar.


Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid