Artikel

Meer vrae as antwoorde, sê FEDSAS oor aankondiging dat openbare skole weer sluit

22/10/2020 - Fedsas


Openbare skole sit met meer vrae as antwoorde ná president Cyril Ramaphosa se aankondiging gister dat skole van Maandag (27 Julie 2020) af vir vier weke gesluit sal wees. Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het sy teleurstelling uitgespreek oor dié besluit.
           
“Die Grondwet bepaal dat die beste belang van die kind die deurslaggewende faktor moet wees in besluite van hierdie aard. Ongelukkig word die kinders nou die swaarste geraak deur die sluiting van skole. Daar is genoeg navorsing wat bewys dat kinders akademies, fisiek en emosioneel benadeel word deur onderbroke onderrig,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS.
           
Colditz sê vir FEDSAS is dit kommerwekkend dat die aankondiging ook in isolasie gedoen is. “Dit word nie gerugsteun deur nuwe regulasies, direktiewe of die publikasie van ’n nuwe skoolkalender nie. In so ’n geval moet besluitnemers soos skoolbeheerliggame aanvaar dat die bestaande direktiewe en kalender steeds geld.”
           
Colditz sê FEDSAS kan nie aan sy lede leiding gee voordat gewysigde direktiewe en ’n nuwe skoolkalender nie formeel beskikbaar is nie. “Skole is egter van Maandag af gesluit, so beplanning moet reeds plaasvind sonder dat daar ’n wetlike raamwerk beskikbaar is. Dit bemoeilik ’n reeds uiters uitdagende situasie nog verder.”
           
Hoewel die president in sy toespraak aangedui het dat daar wyd gekonsulteer is voordat die besluit geneem is, is die finale plan egter nooit met al die rolspelers gedeel nie. “Ons was deel van vergaderings waarop voorstelle bespreek is, maar daar was nie konsensus oor ’n finale besluit nie,” sê Colditz.
           
Colditz sê FEDSAS is dankbaar vir die voortsetting van die skoolvoedingsprogram ingevolge ’n vroeëre hofbevel. “Alle kinders se belange moet egter die eerste oorweging wees wanneer ingrypende besluite geneem word.”
           
FEDSAS gaan intussen voort om die organisasie se kundigheid en hulpbronne beskikbaar te stel en deel van die oplossing te wees gedurende die nasionale ramptoestand.
 


Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid