Artikel

Talle lande staar dieselfde onderwys-uitdagings in die gesig, sê FEDSAS-hoof oor uitbreiding van die organisasie se internasionale netwerk

21/09/2023 - Fedsas


Dit is goeie én slegte nuus dat plaaslike uitdagings in onderwys nie uniek tot Suid-Afrika is nie. “In baie Europese lande is daar druk op skole in terme van toelatingsbeleid en daar is kommer oor die onderwyserskorps wat ouer word en vaardighede wat dus so verlore gaan,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole). Deacon was ’n spreker by ’n kongres van die Europese Federasie van Onderwyswerkgewers (EFEE) in Ljubljana in Slovenië. Sestien lande was by die kongres verteenwoordig.


“Dit is natuurlik slegte nuus dat daar soveel uitdagings in onderwys is, en veral dat daar soveel ooreenstemming tussen lande is. Maar die goeie nuus is dat daar terselfdertyd ook soveel meer planne is, en geleenthede om by ander te leer.” Deacon sê in baie Europese lande word skole gekonfronteer met uitdagings met toelatings weens ’n toestroming van immigrante en vlugtelinge. “Skole moet dus aanpas om leerders van verskillende agtergrond, taal en kultuur te akkommodeer.”


Nog ’n probleem is druk op skoolhoofde. “Weens die druk tree skoolhoofde vroeër af en daar is min kandidate wat belang stel om aansoek te doen vir vakante poste. Net soos in Suid-Afrika is personeelwelstand hoog op die agenda. Planne is nodig sodat onderwys ’n aantreklike professionele loopbaanopsie word en veral dat dit ’n volhoubare loopbaan is. Onderwysers wêreldwyd verlaat die professie weens die druk wat uitdagings soos oorvol klasse, ’n tekort aan hulpbronne en gebrekkige steun meebring.”


Deacon sê FEDSAS en die EFEE het ook afsonderlik vergader oor nouer samewerking in die toekoms. “Ek is baie opgewonde hieroor. FEDSAS het nou nuwe vriende in baie lande. Daar is baie raakpunte tussen FEDSAS en die EFEE. Oor die volgende paar maande sal ons webinare oor en weer bywoon en dokumentasie uitruil. Ek hoop dat ons uiteindelik byvoorbeeld uitruilooreenkomste sal kan sluit om personeel blootstelling te gee aan ander stelsels. Op die kort termyn kyk ons veral na samewerking in terme van leierskap, beleid en tegnologie.”


Gesprekke het ook begin oor ? internasionale netwerk waar kollektiewe aangespreek kan word.  “Die VN se Internasionale Arbeidsorganisasie en UNESCO praat dikwels net met internasionale vakbondfederasies. Die gevolg is dat beleid of dokumente op lande afgedwing word sonder dat lande se omstandighede in ag geneem word. Trouens, talle lande het dikwels nie eens ’n stem op hierdie fora nie.”


Deacon sê vir FEDSAS om die leier in skoolbeheer en -bestuur te bly, is voortdurende vernuwing noodsaaklik. “Daarom bou ons ook aan ons internasionale netwerk. FEDSAS fokus op die ontwikkeling van bekwame skoolbeheerliggame. Internasionale samewerking is ’n bewys dat ons ver en wyd konsulteer, waarneem en saamwerk om seker te maak ons lede het toegang tot die heel beste opleiding en steun.”


FOTO (FEDSAS_EFEE_2023 group): Dr. Jaco Deacon (middel voor) saam met ander deelnemers by ’n konferensie van die Europese Federasie van Onderwyswerkgewers in Ljubljana in Slovenië.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid