Artikel

Limpopo se chaos met skole se aanlyntoelatings lei tot POPI-klag deur FEDSAS

18/01/2022 - Fedsas


In 'n poging om die chaos veroorsaak deur sy ondeurdagte aanlyntoelatingstelsel reg te stel, het die Limpopo-onderwysdepartement nou vermoedelik die persoonlike besonderhede van derduisende leerders en ouers onregmatig bekend gemaak ingevolge die bepalings van die POPI-wetgewing. Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), wat 'n klag by die Inligtingsreguleerder hieroor ingedien het, sê daar is bewyse dat onbeskermde inligting na minstens 14 skole versprei is.

“Lyste met aansoeke is na die skole gestuur om self die inligting te verifieer. Op dié manier is duisende aansoekers se persoonlike inligting onbeskermd versprei,” sê me. Juané van der Merwe, FEDSAS se bestuurder van regsdienste. Van der Merwe sê die persoonlike inligting is omvattend en sluit onder meer name, ID-nommers van leerders en ouers, identiteit van broers en susters, werk- en huisadresse en selfoonnommers in.

Van der Merwe sê die Nasionale Departement van Basiese Onderwys neem die POPI-wetgewing so ernstig op dat die departement nie eens eksamenuitslae wou laat publiseer nie. “Die doel van die POPI-wetgewing is juis daarop gemik om gestalte te gee aan mense se grondwetlike reg op privaatheid. Toegang tot so 'n groot hoeveelheid datapunte stel hierdie persone bloot aan enige iets van identiteitsbedrog tot onregmatige toegang tot byvoorbeeld bankrekenings.”

Die Limpopo-onderwysdepartement het die aanlyntoelatingstelsel verlede jaar as 'n oefenlopie geloods, maar die projek was van die begin af problematies met ouers wat gekla het dat besonderhede nie korrek gestoor is nie of dat hul kinders se name uiteindelik glad nie op toelatingslyste verskyn het nie.

Van der Merwe sê tegniese foute met die stelsel het die onderwysdepartement genoop om die inligting in Excel-formaat te onttrek en hierdie lyste is net so aan skole gestuur. “Die POPI-wet vereis van die Limpopo-onderwysdepartement as die verantwoordelike party of eienaar van die data om die integriteit en vertroulikheid van persoonlike inligting te verseker.” Van der Merwe sê die departement het boonop nie die persone wie se inligting uitgelek het, daarvan inlig nie.

FEDSAS beskou samewerking tussen rolspelers as die beste manier om gehalte-onderwys in skole te verseker. “Die organisasie is altyd bereid om sy kundigheid te deel, maar sy eerste prioriteit is die belange van sy lede. Indien rolspelers soos provinsiale onderwysdepartemente nie gehoor gee aan wetgewing nie, sal FEDSAS nie huiwer om op te tree nie.”


Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid