Artikel

Limpopo-onderwysdepartement dwing skoolhoofde om wet te verontagsaam met betalings vir presidensiële indiensnemingsprogram, sê FEDSAS

30/11/2021 - Fedsas


Dit moet 'n verleentheid wees vir die president en die minister van basiese onderwys dat die Limpopo-onderwysdepartement die presidensiële indiensnemings-stimulusprogram só swak bestuur dat amptenare nou skoolhoofde dwing om onwettig op te tree.

            

Die Limpopo-onderwysdepartement het skoolhoofde in dié provinsie opdrag gegee om solank die skool se fondse te gebruik om derduisende tydelike jongmense in die Presidensiële Jeugindiensnemingsprojek te betaal. Die Departement is die werkgewer en nie die skole nie. 

            

“Die Skolewet verbied skole om enige lenings toe te staan. Tog is dit presies wat regeringsamptenare nou van skole verwag.  Skole is nie banke nie en verreweg die meeste skole het nie eens genoeg geld om hul basiese uitgawes soos water en elektrisiteit en handboeke, waarvoor die staat se subsidie geoormerk is, te dek nie,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).

            

FEDSAS het in September vanjaar 'n  brief aan die Nasionale Departement van Basiese Onderwys gestuur met gedetailleerde voorstelle om hierdie projek te bestuur. “Die implementeringsraamwerk bevat verskeie wetlike teenstrydighede en foute, wat talle probleme in terme van arbeidswetgewing kan meebring. Tog het nie die nasionale of die provinsiale departement behoorlik op ons brief reageer nie,” sê Deacon.

            

Deacon sê openbare skole is afsonderlike regsentiteite en die Skolewet bemagtig beheerliggame slegs om sekere betalings te maak. Die beheerliggaam mag geen ander betalings magtig nie, en veral nie betalings waarvoor nie begroot is nie. “Die wigte en teenwigte en onderliggende beginsels van goeie beheer en bestuur waarvoor in die Skolewet voorsiening gemaak word, is juis daar om hierdie soort onregmatighede te voorkom. Regeringsamptenare, wie se plig dit is om toe te sien dat aan wetlike bepalings voldoen word, gee nou aan skoolhoofde 'n direkte opdrag om nié die wet te gehoorsaam nie.”

          

Deacon sê die Limpopo-onderwysdepartement plaas skoolhoofde in 'n  onhoudbare situasie. “Betaal hulle nie die staat se tydelike werkers nie, verontagsaam hulle 'n direkte opdrag van hul werkgewer. Betaal hulle wél die tydelike werkers, verontagsaam hulle die wet.”

            

Die Jeugindiensnemingsprojek is die Basic Education Employment Initiative (BEEI) wat vorm deel van president Cyril Ramaphosa se presidensiële indiensnemings-stimulusprogram. Die BEEI is egter van die begin af swak bestuur, met min van die probleme wat in fase 1 'n jaar gelede opgeduik het, wat aangespreek is.  

            

FEDSAS spreek die hoop uit dat president Ramaphosa en minister Angie Motshekga van hierdie verwikkelinge kennis neem en optree. “FEDSAS wil steeds glo dat die projek op werkskepping en armoedeverligting gemik is. Maar die verkiesing is nou verby en dit is tyd vir politici om hul beloftes binne die raamwerk van die wet gestand te doen.” 



 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid