Artikel

‘Kennis van SA Gebaretaal strek tot voordeel van almal,’ sê FEDSAS ter viering van Internasionale Dag van Gebaretale

23/09/2022 - Fedsas


Internasionale Dag van Gebaretale word  Vrydag, 23 September 2022 gevier as deel van die Wêreldfederasie vir Dowes se Internasionale Week vir Dowes. 

            “Dit is belangrik dat ons ’n inklusiewe skoolstelsel skep wat ook die behoeftes van dowe mense in ag neem,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole). Deacon sê die aankondiging vroeër vanjaar dat Suid-Afrikaanse Gebaretaal binnekort as ons land se 12de amptelike taal erken gaan word, asook die Nasionale Departement van Basiese Onderwys se aanduiding dat die taal as ’n opsie in die skoolkurrikulum ingesluit gaan word, is ’n groot stap vorentoe.

            “Suid-Afrikaanse Gebaretaal is ’n volledige taal met sy eie taalreëls, woordeskat en sintaks. Indien meer mense Suid-Afrikaanse Gebaretaal magtig is, sal dit ’n belangrike bydrae lewer tot inklusiwiteit. Dink net wat ’n verskil dit sal maak indien meer tolke beskikbaar is om deelname vir dowes by byvoorbeeld skoolbeheerliggaamvergaderings moontlik te maak.”

            FEDSAS lewer reeds ’n bydrae hiertoe deurdat die videomateriaal vir beheerliggaamopleiding (’n reeks van ses video’s) ook in Suid-Afrikaanse Gebaretaal beskikbaar is. 

            Deacon sê hoewel die onderwysstelsel voorsiening maak vir dowe leerders by spesifieke skole sal onderwys in Suid-Afrika en die samelewing in geheel baat vind by groter toegang tot en begrip van Suid-Afrikaanse Gebaretaal. “Hoeveel mense weet byvoorbeeld dat daar nie ’n generiese gebaretaal is nie? In ons land gebruik ons Suid-Afrikaanse Gebaretaal, wat een van meer as 300 gebaretale wêreldwyd is.”

            FEDSAS ondersteun pogings om toegang vir mense met gehoor- en ander gestremdhede uit te brei. “Ons rus beheerliggame toe om gehalte-onderwys in openbare skole te bevorder. Dit sluit ook in dat die organisasie se hulpbronne toeganklik moet wees vir lede. Buiten vir opleidingsmateriaal in SA Gebaretaal is FEDSAS se gewilde publikasie ’n Praktiese handleiding oor skoolbeheer ook vanjaar in Afrikaanse braille uitgegee.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid