Artikel

Sien verslag oor korrupsie in onderwys in regte konteks, maan FEDSAS en SAOU.

30/08/2022 - Fedsas


Die Corruption Watch-verslag oor korrupsie in onderwys in Suid-Afrika is op sigwaarde ontstellend, maar het ook beperkinge wat met die interpretasie daarvan in ag geneem moet word.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê in ’n gesamentlike verklaring dat korrupsie wel ’n groot probleem in onderwys is, soos in talle ander openbare sektore. “Ons is dit eens dat goeie, eerlike en deursigtige beheer en bestuur noodsaaklik is om gehalte-onderrig aan elke kind in die land te gee,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS, en mnr. Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU.

Waar die verslag egter tekort skiet, is in die interpretasie van die inligting. “Die verslag verwys net na voorvalle wat aangemeld is. Daar is dus geen feitelike grondslag vir die gevolgtrekking nie. Dit laat ons met sensasionele berigte sonder aanspreeklikheid en alle skoolhoofde en beheerliggame word nou oor dieselfde kam geskeer,” sê Deacon. 

Klopper stem saam. “Aanmeldings is nie skuldigbevindings nie. Die verslag verwys na meer as 3600 voorvalle van korrupsie by openbare skole. Wat nie duidelik uitgewys word nie, is dat die voorvalle oor ’n tydperk van 11 jaar aangemeld is. As ons in ag neem dat daar sowat 23 000 openbare skole in Suid-Afrika is, kom dit neer op ’n gemiddeld van 327 aanmeldings per jaar, of 1,4% van skole.”

Beide Deacon en Klopper sê die uitdaging is om die aanmeldings in klagtes te omskep, bewyse voor te lê en deur formele dissiplinêre en strafregtelike prosesse te gaan. “Skole en departemente moet dit makliker maak om wangedrag aan te meld en om fluitjieblasers te beskerm,” sê Deacon.

Sowel FEDSAS as die SAOU steun alle aksies om korrupsie in die skoolstelsel te beveg. “Dit is belangrik dat ’n organisasie soos Corruption Watch die tekortkominge en wangedrag uitwys. Corruption Watch het nou die verantwoordelikheid om die inligting aan die owerhede te oorhandig dat die formele prosesse kan uitspeel.”

Intussen fokus FEDSAS en die SAOU daarop om deur verskillende programme en inisiatiewe beheerliggaamlede en onderwysers toe te rus met kennis van wat goeie skoolbeheer en -bestuur behels.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid