Artikel

Dit begin by 'n groen strikkie FEDSAS betrokke by verskeie projekte as deel van kinderbeskermingsweek

27/05/2021 - Fedsas


Van 'n eenvoudige aksie soos om 'n  groen strikkie te dra tot 'n groot internasionale projek om kinders se veiligheid aanlyn te bevorder. Dit is van die veldtogte waarby FEDSAS vanjaar betrokke is as deel van nasionale kinderbeskermingsweek (30 Mei – 6 Junie).

           

“Kinders is te dikwels in die nuus weens tragiese voorvalle wat hul welstand en selfs hul lewe bedreig. Fisieke veiligheid, kuberveiligheid, boeliegedrag, huishoudelike geweld en die gesondheid van ons leerders bly ernstige uitdagings,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole). Deacon sê FEDSAS se benadering tot die bevordering van kinderveiligheid rus op bewusmaking en die toerus van skoolgemeenskappe.


 “Vanjaar daag ons skoolgemeenskappe uit om Suid-Afrika gedurende kinderbeskermingsweek groen te verf. Kinders, ouers, voogde, onderwysers, almal wat op een of ander wyse betrokke is by kinders of skoolgemeenskap word uitgedaag om volgende week 'n  groen strikkie te dra.”

           

Deacon sê die doel van die strikkie is om mense aan die praat te kry. “Deur bloot te antwoord dat jy kinderbeskermingsweek ondersteun, plant jy 'n saadjie vir verdere bewustheid en gesprekvoering.” Skole kan voorts ook hul eie projekte beplan om verdere bewusmaking te doen. Onderwys en skole gaan per slot van sake oor ons kinders!


Twee gratis webinaars vorm ook deel van FEDSAS se veldtog: 

  • Op 2 Junie 2021 neem die bekende sanger Jo Black aan die webinaar deel. Die webinaar fokus op Black se Everyday Heroes-veldtog en  app wat kinders in staat stel om boeliegedrag op  'n  veilige manier aan te meld.
  • Op 3 Junie 2021 bied FEDSAS 'n webinaar aan oor die internasionale veldtog #share2protect. FEDSAS, Be In Touch, 'n organisasie wat fokus op die digitale welstand van gesinne, en Media Monitoring Africa span saam met Yoti, 'n Britse platform wat sagteware ontwikkel om identiteitsverifikasie op die internet te verbeter om kinders sodoende te beskerm teen kubergevare. Deelname aan hierdie projek bied ook aan skole die geleentheid om fondse in te samel. Skole kan tot R20 000 verdien én help om kinders aanlyn veilig te hou.


“FEDSAS ondersteun ook die Departement van Sosiale Ontwikkeling se inisiatiewe vir kinderbeskerming, wat onder meer toegang tot hulplyne en maatskaplike werkers bied,” sê Deacon. FEDSAS se visie is gehalte-onderrig in skole. “Dit is slegs moontlik as kinders veilig is. Dit is volwassenes se plig om toe te sien dat ons toegerus is om ons kinders te beskerm en dit is ook waarom FEDSAS al hierdie veldtogte en inisiatiewe ondersteun.”


Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid