Artikel

Stel ondersoek in na provinsiale onderwysdepartemente wat versuim om staatsgeld aan openbare skole te betaal, sê FEDSAS

18/05/2022 - Fedsas


Net drie provinsiale onderwysdepartemente het betyds die eerste oorbetaling van die sogenaamde Norme en Standaarde-paaiemente aan openbare skole gemaak. Dié geld moet twee keer per jaar – op 15 Mei en 15 November – deur provinsiale onderwysdepartemente aan openbare skole betaal word. Skole gebruik die geld vir operasionele behoeftes soos munisipale rekeninge, onderhoud, skryfbehoeftes en leermateriaal.

“Behoeftige skole, met ander woorde kwintiel een tot drie, maak volledig staat op hierdie geld vir alle skooluitgawes. Indien die geld nie oorbetaal word nie, sit hierdie skole letterlik sonder water en elektrisiteit en kan die mees basiese skryfbehoeftes nie aan leerders voorsien word nie,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).

Deacon sê net die onderwysdepartemente in die Wes-Kaap, Gauteng en Noordwes het betyds betaal. Die Noord-Kaap het ? gedeelte van die paaiement betaal, met die res wat glo oor twee weke betaal sal word. Die Vrystaat en Limpopo het ook gedeeltelik betaal. Volgens die onderwysdepartement in Mpumalanga sal geld in hierdie provinsie eers teen einde Mei beskikbaar wees. In KwaZulu-Natal was daar vertragings met dokumentasie en daar is geen aanduiding wanneer die betalings sal plaasvind nie. Die Oos-Kaap het geen betalings gemaak nie.

“Jaar ná jaar word die Norme en Standaarde-paaiemente laat of glad nie oorbetaal nie, met dieselfde provinsiale onderwysdepartemente wat elke jaar skuldig is. Hierdie versuim plaas skole onder geweldige druk, want gehalte-onderrig kan nie plaasvind in 'n skool waar daar nie water of elektrisiteit, skryfbehoeftes of selfs toiletpapier is nie. Die nasionale departement, provinsiale wetgewers en onderwys-LUR’e vervul ook nie hul oorsig rol in die verband nie,” sê Deacon.

Deacon sê FEDSAS is uiters bekommerd oor die vermoë van provinsiale onderwysdepartemente om provinsies se administrasie tot voordeel van skole te bestuur. “Hierdie geld word deur die Nasionale Tesourie aan provinsiale onderwysdepartemente oorbetaal vir verspreiding na skole. Die geld mag vir geen ander doel aangewend word nie, so dit is moeilik om te verstaan waarom die geld nie betyds aan skole uitbetaal kan word nie.”

Dit is ironies dat die voorgestelde wysigingswet op onderwyswette, wat vandeesweek vir openbare kommentaar gepubliseer is, juis meer magte vir die onderwysdepartemente wil gee terwyl hulle duidelik nie eens die basiese pligte wat hulle nou het, behoorlik kan nakom nie. 

FEDSAS doen opnuut 'n beroep op die Minister van Basiese Onderwys om dringend in te gryp en die leerders eerste te plaas. “Onderwys in Suid-Afrika het genoeg probleme sonder dat geld wat reeds beskikbaar is nie behoorlik geadministreer word nie.”


Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid