Artikel

SA onderwyslandskap ondenkbaar sonder FEDSAS

27/11/2022 - Fedsas


Die FEDSAS-span het vanjaar gesamentlik ’n afstand gelykstaande aan vyf keer om die ewenaar gereis om skole, beheerliggame en provinsiale onderwysdepartemente te besoek. Hierdie meer as 200 000 km padlangs is maar een manier om ’n prentjie te skep van die hoeveelheid werk wat die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole doen om waarde te skep vir lidskole.


“Die werk wat FEDSAS namens skole en skoolbeheerliggame op makrovlak met die regering en in die res van die onderwyssektor doen, is eenvoudig merkwaardig,” sê dr. Shaun Mellors, voorsitter van FEDSAS se nasionale raad. Mellors het op FEDSAS se algemene jaarvergadering gesê die impak en invloed van die organisasie op die onderwyslandskap in Suid-Afrika is moeilik om in woorde uit te druk. Die algemene jaarvergadering het die afgelope naweek (Saterdag, 26 November 2022) aanlyn plaasgevind.


“FEDSAS is byvoorbeeld die enigste onderwysrolspeler, insluitend die regeringsdepartemente, wat alle opleidingsmateriaal in al die amptelike landstale sowel as gebaretaal en Braille beskikbaar het. Hierdie toeganklikheid word verder verbeter deurdat inligting aanlyn, in harde kopie en deur middel van skoolbesoeke in persoon beskikbaar gestel word. Dit beteken ’n beheerliggaamlid van ’n klein skooltjie in ’n afgeleë landelike gebied het dieselfde toegang tot hulpbronne vir skoolbestuur as ’n SBL-lid van ’n elite skool in ’n welvarende woonbuurt,” sê Mellors.


Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS, sê die organisasie is mens-gedrewe. “Dit is mense wat ander mense help om probleme op te los en planne te maak. Daarom lê ons soveel klem op die bou van persoonlike verhoudings met lidskole sowel as met die provinsiale regeringsamptenare met wie skole daagliks saamwerk. Die FEDSAS-span het vanjaar meer as 1300 skole regoor die land besoek. Ons het 32 roadshows gedoen om skole van FEDSAS se werksaamhede in te lig en meer as 150 vergaderings met provinsiale onderwysdepartemente gehou. Opleiding dek alles van hoe om moeilike bestuurskwessies te hanteer tot beleid, begroting en selfs leerderdissipline.”
Deacon sê die organisasie belê egter ook ruim in die insameling en verwerking van betroubare data. “Dit stel FEDSAS in staat om belangrike datagedrewe besluite te neem. Die ervaring en insig van provinsiale bestuurders wat skole in hul provinsies besoek en die mense persoonlik ken, gekombineer met betroubare data, stel ons in staat om besluite te neem wat werklik tot die kern van ’n probleem spreek.”


FEDSAS se digitale aanbod word ook toenemend uitgebrei. Die FEDSAS-markplein wat vanjaar bekend gestel is, is ’n digitale mark wat aan skoolbestuurspanne en beheerliggame toegang gee tot ’n groot verskeidenheid onderwysprodukte en -dienste. Diensverskaffers trek weer voordeel uit FEDSAS se landwye voetspoor, uitgebreide netwerk en media-teenwoordigheid.


Sowel die Sentrum vir Tegnologie as die Sentrum vir Finansies en Risikobestuur fokus daarop om ’n diens te lewer aan FEDSAS se lidskole sowel as ’n interne diens aan die organisasie. Die sentrums skakel ook met diensverskaffers in die onderwyssektor om sodoende toe te sien dat beheerliggame ’n keuse het van betroubare diensverskaffers. Albei sentrums publiseer ook ’n gereelde aanlyn-tydskrif met inligting oor tegnologie, finansies en risikobestuur.


Deacon sê FEDSAS is veral bekend vir die organisasie se kundigheid in terme van onderwysreg. “FEDSAS se regsdienste-span het vanjaar veral hard gewerk aan kommentaar rakende die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys. FEDSAS het ook ’n voorlegging aan die portefeuljekomitee oor basiese onderwys hieroor gemaak. Meer as 80 regsbriewe is namens ons lede aan provinsiale onderwysdepartemente gestuur oor verskeie aspekte van die toepassing van onderwyswetgewing waarmee die betrokke beheerliggame probleme ondervind het.”


FEDSAS het ook sy fokus uitgebrei om aan onafhanklike skole hulpbronne te bied. “FEDSAS se regsdienste het vanjaar 260 dokumente vir onafhanklike skole ontwikkel. Dit sluit beleidsdokumente, dienskontrakte en verskeie regsmenings in.”


Deacon sê FEDSAS se grootste uitdaging is bewusmaking. “Enersyds om regeringsamptenare daarvan bewus te maak dat ons sáám met hulle wil werk en andersyds om skole bewus te maak van die werklike omvang van die werk wat FEDSAS namens hulle doen om skoolbestuur- en beheer te verbeter.”
“Al FEDSAS se aktiwiteite word uiteindelik gerig deur ons visie, naamlik die behoud en bevordering van gehalte-onderrig. Dit gaan oor ons land se kinders en uiteindelik ons land se toekoms en dit is vir FEDSAS só belangrik dat ons onverpoos sal werk om seker te maak elke kind kry die beste moontlike kans op ’n toekoms propvol geleenthede.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid